NEWS ARCHIVE
SUID-KAAP TOER 2006
Die finalejaar BSc (Agric) Veekunde studente het ‘n
toer meegemaak deur die Suid-Kaap waar hulle skaapplase, ‘n
melkery, volstruis plaas en –abattoir en kaas-,
mout- en canola olie fabrieke besoek het.
Dag 1:

Michael
Swart se Dohne Merino stoet naby Caledon was die
eerste stop. Michael was verlede jaar die Suid-Kaap Boer
van die jaar en het voorwaar ooie en ramme van top gehalte.
Pieter Swart en die plaasbestuurder, Oom Japie, het
ons vir ‘n toer deur die plaas gevat en vertel van
hulle boerdery metodes. Hulle is gedurig besig met hulle
eie proewe op die plaas om met die nuutste tegnologie
op hoogte te bly.
Na ‘n heerlike middagete vertrek ons na die SA Moutery
op Caledon. ‘n Toer deur die fabriek wys ons hoe
gars verander word in mout, die hoof bestanddeel van bierbrouery.
Ons kry die geleentheid om verskeie biere, appelbiere
en vrugtesappe te proe – alles produkte wat deur
SAB vervaardig word. Voorwaar ‘n fees!
Ons oornag by die karavaanpark in Bredasdorp, waar ons ‘n
lesing kry van André Fourie – ‘n privaat
landboukonsultant van Anker Agri Konsultante. Hy verskaf
waardevolle inligting aangaande werksgeleenthede wat beskikbaar
is nadat die vierjaar graad voltooi is.
Dag 2:

Die
volgende oggend bied André Uys, ‘n landbou
ekonoom van Overberg Agri Koöperasie op Caledon, ‘n
lesing aan oor die verskeie boerdery vertakkings
in die Overberg streek.
Daarna word Dirk Uys se Merino stoet net buite Bredasdorp
besoek. Hy vertel ons van sy bestuursprogram en Gert van
BKB wys die ras standaarde van ‘n Merino ooi en
ram.
Na ‘n stewige middagete by Dirk Uys, vertrek ons na
Swellendam. Ons gaan vir ‘n besigtigingstoer deur
die SOILL Canola Olie Fabriek net buite Swellendam. Ons
elkeen kry ‘n bottel canola olie as aandenking.
Met ons aankoms by die karavaanpark, waar ons oornag,
stap ons so 500m na ‘n plaasdam om ‘n lafenissie
in die vreeslike hitte te kry.
Dag 3:

Ons volgende besoek is aan Ian Oosthuizen se melkery waar
hy ‘n totaal van 900 koeie in melk op die plaas
het en twee draaitafels wat 50 koeie op ‘n keer
melk. Dit is voorwaar vroeg opstaan, aangesien die koeie
5 uur in die oggend gemelk word. Die melkery was baie
indrukwekkend en is op die voorpunt van die jongste tegnologie.

Ons
vertrek na die volstruis abattoir in Swellendam waar
ons deur vensters kyk hoe baie streng HACCP maatreëls
toegepas word met die slagproses. Daarna word Stander
Terblanche se volstruisboerdery besoek, wat net buite
Swellendam geleë is. Allerhande volstruisprodukte
is uitgestal en ons proe aan volstruis Russians,
kouevleis en weense worsies.

Ter afsluiting van die toer, besoek ons Parmalat se kaasfabriek
op Bonnievale. Dolf Lategan neem ons vir ‘n interessante
toer deur die fabriek en ons word heerlik trakteer met ‘n
kaasproe. Die lang pad huis toe word aangedurf en ons
arriveer veilig terug op Stellenbosch. Baie dankie aan
almal wat ons so op die hande gedra het tydens ons besoeke!
Kliek hier
vir die Suid-Kaap Toer fotogalery.
|