Accounting index
About us Prospective students Current students Staff News and events Contact details
Akademiese Leerlingrekenmeesterskap


Wat is die vernaamste take waaraan die klerke by die US blootstelling geniet?

Aanbied van klasse

Die klerke bied die ILP (Individuele Leer- en Bystandsprogram) klasse van die HonsBRek groep aan. Hierdie klasse vind direk na afloop van die daaglikse lesings van die HonsBRek groep plaas. Die bywoning van hierdie klasse word spesifiek aanbeveel vir ’n groep van ongeveer 20 studente wat op grond van bepaalde kriteria deur die Departement Rekeningkunde geselekteer word.

Tydens hierdie klasse word ’n tutoriaalvraag deur die student uitgewerk onder leiding en toesig van die akademiese klerk. Na afloop van die klas sien die klerk die student se pogings na en verskaf gedetailleerde skriftelike terugvoer aan elke student oor geïdentifiseerde problemareas en hoe dit aangespreek kan word.

Verder bied die klerke die modules Inligtingstelsels 112 (eerste semester) en 152 (tweede semester) volledig aan.

Daar is ook in sekere vakke (voorgraads en nagraads) ʼn stelsel van tutoriaal-/opdragklasse waartydens studente in ‘n klas deur ‘n vraag, wat deur die betrokke dosent voorsien word, werk. Die klerke staan die dosent by met die beantwoording van studente se vrae tydens hierdie klasse.

Die bogenoemde bied aan akademiese klerke wye blootstelling aan en ondervinding in doseerwerk, tutoriale en die voorbereiding van onderrigmateriaal, wat akademiese kernfunksies is, maar ook baie waardevol is ’n enige werksomgewing.


“Hot Seat” / Hulphoek

Die “Hot Seat” of Hulphoek is ‘n hulpmiddel aan studente wat ‘n paar jaar gelede deur die Departement Rekeningkunde ingestel is. Dit behels dat studente (voorgraads en nagraads) na die akademiese klerke kan kom as hulle probleme ondervind met sekere dele van die werk. Die klerk verduidelik dan die beginsels waarmee die student sukkel aan hom/haar of help hom/haar met vrae waarmee hy/sy sukkel. Dit geskied op ‘n individuele basis en, aangesien die klerke tot onlangs nog self studente was, voel studente soms gemakliker om vrae te vra as wat die geval sou wees met ‘n dosent.

Die toewysing van elke klerk aan ‘n vakgebied (Belasting, Finansiële Rekeningkunde, Ouditkunde en Bestuursrekeningkunde), bied aan die klerke die geleentheid om te spesialiseer in bepaalde vakgebiede. Dit verseker weer dat die student die beste hulp kry, aangesien die klerk ten volle vertroud is met die onderwerpe binne daardie vakgebied, in teenstelling met ‘n breë, meer oppervlakkige kennis van elke vak.

Die Hulphoek word doelbewus aan die studente bemark. Heelwat studente gebruik dit gereeld en die terugvoer wat vanaf studente ontvang word, is baie positief.

Elke klerk beman vir ses ure per week, versprei oor die dae van die week, die Hulphoek vir sy/haar vakgebied (soortgelyk aan dosente se spreekure).


Nasien van vraestelle

Die klerke doen nasien- en ander asseseringsondervinding op deur die nasien van die HonsBRek Saterdag- en Kwartaaltoetse, sowel as gedeeltes van die voorgraadse eksamenvraestelle tydens die Junie-toetsreeks en die November en Desember eksamens. Hulle administreer ook die HonsBRek toetse en hanteer toetsnavrae van studente.


Administratiewe take

Die klerk wat aan elke vakgebied toegedeel is, geniet blootstelling aan sekere administratiewe take wat deur die betrokke Afdelingshoof aan hom/haar toevertrou word.


 



Back to top