Voedselwetenskap
Die Departement Voedselwetenskap het ʼn sterk navorsingsaanslag en doen navorsing op spesifieke temas.
Projekte in die voedselmikrobiologie tema sluit in die deteksie en karakterisering van bederf- en potensiële patogene mikrobes in voedselprodukte. Die diversiteit van mikrobe populasies in verskeie voedselprodukte soos vrugtesappe, suiwelomgewings, baba- en gefermenteerde voedsels word ook bestudeer. Daar is ook ʼn sterk fokus op die groei- en afsterwingseienskappe van bederforganismes wat voorkom in voedselprodukte met spesifieke aandag aan die mikrobes wat die hitteproses oorleef. Een van die nuutste navorsing aksies in hierdie tema is die evaluasie van ultraklank as ʼn vinnige, effektiewe en ekonomiese plaasvervanger vir die pasteurisasie en sterilisasie prosesse.
Die omgewingstema in die voedselindustrie fokus op die gebruik van anaërobe verteringstegnologie, die gebruik van osonering en ander voorbehandelingsmetodes om die doeltreffendheid van die watersuiweringsisteem te verhoog, asook die vermindering van watergebruik in die algemene voedselprosesseringsopset.
Die voedselveiligheidstema kyk spesifiek na die vlakke en tipe van mikrobiologiese besoedeling van riviere wat gebruik word vir besproeiingswater. Oorsprongsbronbesmetting en oordragkinetika na varsprodukte is die kern waaroor navorsing gedoen word. Die oordrag van potensiële patogene in die besproeiingswater na voedsel wat rou of na minimale prosessering geëet word is van belang vir die verbruiker se gesondheid en voorkoming van voedselvergiftiging.
Die spektroskopie tema fokus op die evaluering van grootmaat (enkel punt) naby infrarooi (NIR) spektroskopie asook NIR hiperspektrale beeldanalise vir die kwantifisering van chemiese komponente, kwalifisering van kwaliteit, bevestiging van egtheid en bepaling van onreëlmatighede vir verskeie voedel- en landbouprodukte. Dit lei tot die ontwikkeling van modelle vir toepassing onder andere tydens kwaliteitsbeheer.
Die graankwaliteit tema ondersoek en ontwikkel metodes essensieel vir effektiewe, teling, produsering, prossering en evaluering van verskillende grane. Die tekstuur van graanendosperm en die rol wat die proteïensamestelling van die onderskeie grane daarin speel word ook in diepte ondersoek.
Binne die sensometriese tema word verskeie navorsingsprojekte multi-dissiplinêr benader: die chemiese, sensoriese en fisiese eienskappe van voedselprodukte of nuwe prototipes word gekorreleer, verskeie gevorderde statistiese tegnieke kan ook toegepas word om te bepaal wat die sensoriese rigtingwysers vir spesifieke verbruikersegmente is.
Akademies
Dr GO Sigge (Voorsitter; Omgewingsbestuur, Voedselprosessering)
Prof. RC Witthuhn (Voedselmikrobiologie en -Biotegnologie)
Prof. TJ Britz (Voedselbakteriologie en -fermentasies, Watermikrobiologie)
Dr M Manley (NIR Spektroskopie, NIR beeldanalise, Graankwaliteit)
Me Muller (Sensoriese Wetenskap, Sensometrie)
Buitengewone Professor
Prof. E Joubert (LNR Infruitec-Nietvoorbij; Navorsing in Anti-oksidante, Natuurlike Produkte)
Buitengewone Medeprofessor
Prof. PA Gouws (Universiteit van die Wes-Kaap; Navorsing in Voedselmikrobiologie)
Buitengewone Dosent
Mev REH Maguire (InEssence; Navorsing in Industriële Geurmiddels)
Tegnies
Dr N Brown, Me P du Buisson, Me AE Lombard
Administratief
Me MM du Preez (Sekretaresse)
Ondersteunend:
Mnr E Brooks
Kontakinligting
Tel: +27 21 808 3578
|