Grondkunde
Die Departement Grondkunde se navorsing behels die studie van die bydrae van landbou-aktiwiteite tot die versouting van die Bergrivier, die waterbalans van besproeide vrugtegewasse, die modellering van waterbeweging, herwinning van versuurde gronde deur middel van industriële afvalprodukte, behandeling van gronde met biochar, grondvrugbaarheid in kleinskaalse boerderye, ekosisteme en biodiversiteit, bosbou, en die beskerming van natuurlike hulpbronne teen besoedeling. Projekte wat deur die Water Navorsingskommisie (WNK) befonds word, sluit in die bestudering van die bydrae van ʼn verandering in landgebruik tot die versouting van waterbronne, die klassifikasie van gronde in terme van hulle bydrae tot die gevoeligheid van ondergrondse water vir besoedeling, en die effek van die verwydering van indringerplantegroei op stikstof. Afrika-inisiatiewe sluit in navorsing oor grondbeperkende faktore op kleinskaalse boerderye in Zambië en op die plantasieverbouing van kiaat in die Soedan. Ekologiese grondnavorsingsprojekte sluit faktore in soos grondinfiltrasie, die ontrafeling van die misterie van geofagie, die bepaling van die grense van die savanna-grasland, die restourasie van subtropiese boskasies, terugsterf van bome in die Ngorongoro-krater en swartrenoster bewaring. Werk op die pedologiese raaisels van heuweltjies in die Wes-Kaapse landskap is voortgesit. Versuurde gronde van die Mpumalanga hoëveld is met as van die steenkoolkragsentrales behandel om vas te stel of die vlieg-as as bekalkingsbron in plaas van landboukalk gebruik kan word. Die impak van biochar (houtskool) op die chemiese, fisiese en mikrobiologiese eienskappe van Kaapse Vlaktes sanderige gronde word tans ondersoek. Die Departement het ook waardevolle bydraes op die nasionale en internasionale vakgebied van grondklassifikasie gelewer.
Akademies:
Dr JE Hoffman (Hoof: Grondfisika, Waterbestuur)
Dr F Ellis (Pedologie, Grondkartering)
Dr A Rozanov (Grondbiologie, GIS)
Dr AG Hardie (Grondchemie)
Buitengewone Professor
Prof MV Fey & JJN Lambrecht
Navorsing:
Dr WP de Clercq, Dr AJ Mills
Ondersteunend:
L Adams, J Harper, T Medinski, N Robertson
Administratief:
AE French (Sekretaresse)
Kontakinligting:
Tel: +27 21 808 4794
|