Beroepsgeleenthede
Gegradueerdes van die Fakulteit AgriWetenskappe, hetsy op plante of diere toegespits, kan uit ’n verskeidenheid beroepe in produksie, bewaring, verwerking en bemarking kies. Navorsing, onderrig, konsultasie, voorligting, boerderybestuur, omgewingsbestuur en aanlegbestuur (wynkelders, voedselfabrieke en saagmeulens) is maar 'n paar voorbeelde van loopbaanmoontlikhede. Hierdie beroepe en loopbane is nie tot die landbou- en bosboubedryf beperk nie, maar word ook in verwante nywerhede, handelsondernemings en staatsdepartemente beoefen. Boonop is gegradueerdes van die Fakulteit AgriWetenskappe gesog in die internasionale arbeidsmark.
Profiel van die Landbou- en Bosbouwetenskaplike
Die afgestudeerde landbou- en bosbouwetenskaplike beskik oor die nodige kennis, vaardighede en gesindhede om selfstandig of in spanverband in ‘n wetenskaplike landbou- en bosbou-omgewing optimaal te funksioneer. Dit sluit in die oordeelkundige toepassing van die wetenskap om die aanbodketting van ‘n verskeidenheid van voedsel- en veselprodukte ekonomies, omgewingsvriendelik en volhoubaar te bestuur ter bevordering van die vooruitgang en welsyn van die mensdom.
Om hieraan te voldoen, openbaar die landbou- en bosbouwetenskaplike die volgende professionele eienskappe:
Kennis
- Besit die nodige kennis van die toepaslike wetenskaplike begrippe, die interaksie tussen die biologiese en abiotiese faktore in die omgewing en die basiese beginsels van navorsingsmetodes en -metodiek
- Beskik oor die vermoë om nuwe kennis te skep, idees te genereer en innoverend op te tree
- Beskik oor die vermoë om doeltreffend in ‘n interdissiplinêre omgewing te kan funksioneer
- Verstaan volhoubare ontwikkeling en volhoubare hulpbronbestuur
- Bestuur inligting en neem kundige besluite
- Volg ‘n sisteembenadering by die ontleding van en benadering tot omgewingsproblematiek
Houding en gesindhede
- Toon respek vir die omgewing en sy gebruikers
- Erken eie beperkings van kennis en vaardighede
- Het ‘n positiewe ingesteldheid tot voortdurende professionele ontwikkeling
- Is betrokke en diensbaar binne die breë gemeenskap
- Stel ‘n positiewe voorbeeld ten opsigte van sosiale verantwoordelikhede en verpligtinge
- Aanvaar en streef na die hoogste akademiese standaarde
Vaardighede
- Besit die vermoë om kennis te versamel, te integreer, te interpreteer en toe te pas en om probleemoplossend te dink en op te tree
- Kommunikeer doeltreffend met rolspelers uit verskillende omgewings en agtergronde
- Besit voldoende vaardighede om selfstandig of in spanverband as landbou- en bosbouwetenskaplike te funksioneer
- Kan toepaslike vakliteratuur interpreteer en toepas
Besit die vermoë om toepaslike hulpbronne en -middels binne werksverband doeltreffend te benut
Vir meer inligting gaan na Vir studente |