Beroepsgeleenthede
Dekaanskantoor
 

 
Posadres
Dekaan: Fakulteit AgriWetenskappe
Universiteit Stellenbosch
Privaatsak X1
7602 Matieland
Suid-Afrika
Fisiese adres
Lokaal 1026
JS Maraisgebou
Victoriastraat
Stellenbosch
Kontak die kantoor
Tel: +27 21 808 4737
Faks: +27 21 808 2001
E-pos: jer@sun.ac.za
 



   

     

 Visie

Internasionale uitnemendheid met wye erkenning vir die diepte en toepaslikheid van ons navorsing en vir ons uitstaande gehalte onderrig en dienslewering aan landbou en bosbou.

Missie

Die missie van die Fakulteit AgriWetenskappe is om die voorkeurverskaffer van wêreldklas-navorsing, -onderrig en -diens vir Landbou en Bosbou in Suider-Afrika te wees, en om ons kundighede en vaardighede sodanig te rig en aan die breë gemeenskap bekend te stel dat die land en al sy mense, die bedrywe en ons kliënte bevoordeel word terwyl die land se natuuurlike hulpbronne volhoubaar benut word.

Om dit te bereik
  • strek ons uitnemende navorsing as 'n kontinuum vanaf voorpunt fundamentele werk, oor markgedrewe, toegepaste navorsing tot by relevante tegnologie-ontwikkeling met die oog op implementering;
  • verseker ons deur moderne leer en onderrig van hoë gehalte, gestimuleer deur ons navorsingsuksesse, dat ons studente nommer een-keuses is vir indiensneming, bekend is as opinievormers en gereed is vir leierskapsrolle - plaaslik sowel as internasionaal;
  • lewer ons 'n eenstopdiens aan bedrywe en kliënte;
  • werk ons saam in strategiese alliansies;
  • is elke personeellid wêreldgehalte met multivaardigheid.

 Die belang van die Fakulteit AgriWetenskappe

Landbou en bosbou staan vandag voor etlike uitdagings, waaronder werkskepping en die finansieel mededingende voorsiening van genoeg gehalte, veilige voedsel en vesel. Saam met die natuurbewaringsbedryf moet hierdie sektore ook die diversiteit van ons land se topografie, grondvariasie, die uiteenlopendheid van ons klimaatstreke, en die produkvereistes van gesofistikeerde en kieskeurige kopers in aanmerking neem. In die landboubedryf word grondstowwe in vindingryke, voedsame en smaaklike voedselprodukte omskep wat in supermarkte van die hand gesit word. Die bosboubedryf berus weer daarop dat hout ’n hernubare en boonop veelsydige materiaal is, en daarom neem die vraag na ’n verskeidenheid houtprodukte steeds toe, byvoorbeeld in die bou-, meubel-, papier- en verpakkingsbedryf. Die Fakulteit AgriWetenskappe rus ondernemers eerstens met ’n uitgebreide kennisbasis toe om ingeligte besluite te neem ten einde met die oog op verskillende markdoelwitte, byvoorbeeld nismarkte, waarde toe te voeg. Ons besef egter ook dat landbou en bosbou nie ten koste van die natuur en ons natuurlike hulpbronne beoefen moet word nie. Suid-Afrika het ’n besondere verskeidenheid fauna en flora wat in landbou- en bosboubeoefening gerespekteer, beskerm en bewaar moet word. Daarom stel die Fakulteit AgriWetenskappe hom dit ook ten doel om deur onderrig, navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid die aanwending en bestuur van lewende organismes wetenskaplik en eties te rig sodat die lewensgehalte van almal in die land verbeter word.

 Landbou

Landbou in Suid-Afrika dra ongeveer 3–3,5% tot die bruto binnelandse produk by, is ’n belangrike verdiener van buitelandse valuta (R22 073 miljoen in 2004), verskaf baie werksgeleenthede (8% van formele werksgeleenthede) en voorsien in mense se basiese voedsel- en veselbehoeftes. Boonop is agritoerisme besig om in gewildheid toe te neem en bied dit ontvlugting aan baie stedelinge. Vir elke R1 miljoen-toename in die finale vraag na landbouprodukte, word daar 83 nuwe werksgeleenthede geskep. Die ooreenstemmende werkskeppingsyfer vir die res van die ekonomie is maar 'n skrale 29. Allerweë word landbou as ’n belangrike rolspeler in armoedeverligting gereken.

Grond is ’n belangrike produksiefaktor in landbou sowel as bosbou. Die Republiek van Suid-Afrika beslaan ’n oppervlakte van 122,3 miljoen hektaar. Sowat 102,8 miljoen hektaar, bykans 84%, word vir landbou en bosbou benut. Hiervan word ongeveer 16 miljoen hektaar vir gewasproduksie bewerk, nagenoeg 1,5 miljoen hektaar met bome beplant, en is 143 000 hektaar onder natuurlike woude. Natuurlike weiding beslaan sowat 83 miljoen hektaar, waarvan die grootste deel as halfwoestyn geklassifiseer kan word. Grond met optimale fisiese en chemiese kenmerke is skaars en kom bloot plek-plek voor; dog is daar verskeie unieke grond/klimaatkombinasies wat hulle tot die voorsiening van produkte vir nismarkte leen.

Suid-Afrika is ’n waterskaars land. Sowat 30% van Suid-Afrika ontvang minder as 250 mm reën per jaar, ongeveer 34% ontvang tussen 250 en 500 mm, 25% kry tussen 500 en 750 mm, en in net 11% van die land val daar meer as 750 mm reën per jaar. In die grootste dele van die land is reënpatrone wisselvallig, en kom gereelde droogtes voor. Weens hierdie en ander faktore is Suid-Afrika hoofsaaklik van opgaardamme en ondergrondse waterbronne vir watervoorsiening afhanklik. Net meer as 1,2 miljoen hektaar van landbougrond is onder besproeiing, maar lewer sowat 30% van totale produksie. Met 'n watergebruiksyfer van bykans 50% stel landbou steeds die grootste eise aan ons land se waterbronne. Daar is egter toenemende druk op dié sektor om meer water vir industriële en huishoudelike gebruik af te staan. Net 10% van landbougrond kan egter sonder besproeiing benut word. Die aanplant en bestuur van bosbouplantasies in opvanggebiede moet nougesette riglyne volg om nie watervloei te belemmer nie. Suid-Afrika het baie hoë verdampingsyfers – in die binneland kan dit soveel as 15 mm per dag beloop. Verder kan tot 75% van die jaarlikse reënval deur verdamping verlore gaan, en laat dit al hoe minder water vir gewasgroei oor. Water- en besproeiingsbestuur in ons land verg dus besondere kundigheid.

Suid-Afrika bly by uitstek ’n landbouland. Weens ons wisselende klimaat en topografie kan ons bykans enige gewas verbou. Boonop is ons in die gelukkige posisie om self in die meeste van ons snelgroeiende bevolking se primêre voedsel- en veselbehoeftes te kan voorsien. Voedselsoorte wat Suid-Afrika nog nie geheel en al self voorsien nie, maar wel in aansienlike hoeveelhede produseer, is koring, oliesade, rys, tee en koffie. Meer as 33% van alle tuinbouprodukte word uitgevoer. Sagtevrugte maak die grootste deel hiervan uit. Verdere voorbeelde van Suid-Afrikaanse uitvoerprodukte is subtropiese vrugte, mielies, suiker, groente, wyn, snyblomme, blombolle, sybokhaar en karakoelpelse. Een-en-tagtig persent van landbougrond is onder natuurlike weiding, wat hoofsaaklik vir uitgebreide veeboerdery benut word. Dit maak amper 70% van Suid-Afrika se totale grondoppervlakte uit. Diereboerdery sluit grootvee, varke, kleinvee en pluimvee in. Ook akwakultuur is ’n sterk opkomende bedryf met aansienlike ontwikkelingsmoontlikhede.

Benewens die produksie van vars produkte vir onmiddellike gebruik, voeg na-oeshantering, produkverwerking, voedselverwerking, -preservering, -berging, -verpakking en -produkontwikkeling heelwat waarde tot die bedryf toe. Die gehalte van die produk wat uiteindelik op die verbruiker se tafel beland, word egter reeds op die land of in die kudde bepaal. Dit noodsaak nougesette en omgewingsverantwoordelike plaag- en siektebeheer.

Bosbou

Die Republiek van Suid-Afrika het pragtige inheemse woude en bosvelde. Sommige van ons boomsoorte lewer hout wat geen tree vir die heel mooiste en beste van ander wêrelddele hoef terug te staan nie. Ongelukkig is die oppervlakte inheemse bosse uiters beperk, en moes bosbouers etlike jare gelede reeds uitheemse plantasies vestig om in die vraag na hout te voorsien. Tans besit en bestuur Suid-Afrika se bosbouers 1,3 miljoen hektaar kommersiële naald- en loofhoutplantasies, wat 1,1% van die totale landsoppervlakte beslaan, en ten minste 30 miljoen hektaar bosveld. In vergelyking met ander lande het Suid-Afrika egter 'n heelwat kleiner area wat hout produseer. In die VSA word 30% van die totale grondoppervlakte byvoorbeeld aan houtproduksie gewy, in die Europese Unie 29%, en in die Russiese Federasie 45%. In Suid-Afrika word die meeste hout in KwaZulu-Natal en Mpumalanga geproduseer, met kleiner hoeveelhede in die Oos- en Wes-Kaap en Limpopo. Rondehoutproduksie het in 2005 uit 9,2 miljoen m3 naaldhout en 12,8 miljoen m3 loofhout bestaan, waarvan 66,5% as pulphout en 24,9% as saaghout verkoop is.

Plantasies, woude en bosveld word nie net geskep of benut om in ons houtbehoeftes te voorsien nie; mense kry ook die kans om daar te ontspan en die natuur te geniet. Met ons land se snelle bevolkingsaanwas word sulke natuurgebiede al hoe belangriker, en is die meeste bosse vir die publiek toeganklik. Die breër veld van bewaringsekologie moet ook nie uit die oog verloor word nie, naamlik die behoud van ons fauna en flora, natuurgebiedsbestuur vanweë hulle estetiese en wetenskaplike belang, en die herstel en beskerming van die omgewing om dit bewoonbaar te hou. In plattelandse én stedelike gebiede is bome ook belangrik vir produkte soos vuurmaakhout, bas, kleurstowwe, medisyne en baie ander items wat die mens se lewensgehalte help verbeter. Boonop word tonne niehoutprodukte (dekgras, varings, sampioene en blomme) jaarliks uit ons plantasies, woude en bosvelde geoes, en maak menige Suid-Afrikaner so 'n bestaan.

Boomkwekery is ʼn fyn balanseertoertjie tussen Moeder Natuur en hipermoderne wetenskaplike tegnieke. Elke aspek, van die saai van die boomsaad tot die versorging van die bome tot volwassenheid, verg die kundigheid van spesialiste – die trotse produkte van die Fakulteit AgriWetenskappe. Omdat die vraag tans hoër is as die aanbod, moet ons oeste uiters oordeelkundig gereguleer word om te keer dat ons ons houtvoorraad uitput. Wetenskaplike bosboubestuur stel ons daartoe in staat om te alle tye te weet oor hoeveel houtvoorraad ons land beskik, en hoeveel ons op enige gegewe oomblik of selfs binne ʼn paar dekades sal of behoort te hê. Die houtaanbod kan deur nuwe aanplantings, produksieverhoging in bestaande plantasies, en optrede teen skadelike invloede vergroot word. Tans is ons in sekere produkte selfvoorsienend, maar in ander nie; dus is ons sowel 'n in- as uitvoerder van houtprodukte.

Namate die bome kapryp word, moet die hout geoes word – ‘n baie ingewikkelde proses, veral waar die plantasies, soos so dikwels die geval is, teen steil berghange lê. Padstelsels moet fyn beplan en toerusting oordeelkundig aangeskaf en ingespan word. Hout-oesting lê op die grens tussen ingenieurswese en bosbou, en daarom behels dit ʼn mengsel van kuns en tegniek. Miljoene rande kan verdien of vermors word in die proses om die hout uit die bos by die verwerkingsaanleg af te lewer. In dieselfde plantasies waar groot, kragtige masjinerie tydens oesting hulle weg deur die bome baan, moet daar binne weke piepklein, nuwe boompies oorleef – die bewaring en omsigtige hantering van ons bosbougrond is dus uiters belangrik.

Die houtverwerkingsbedryf bestaan uit verskillende sektore wat ’n wye reeks produkte vervaardig. Wanneer hout by aanlegte verwerk word, word minimale houtverlies en die minste moontlike skade aan die omgewing vooropgestel. Voorts verwag verbruikers die langste moontlike gebruiksduur van produkte. Deur dus verliese te verminder én duursame produkte te vervaardig, word Suid-Afrika se houtvoorraad teen oorontginning beskerm. Die tipiese produkte van primêre houtverwerking, byvoorbeeld pulp (vesel), papier en karton, gesaagde hout, fineer, mynhout, behandelde pale en houtskool, en saamgestelde produkte soos gelamineerde hout, laaghout, spaanderbord, veselbord en houtplastiek, voeg aansienlike waarde tot hierdie hernubare grondstof toe. Wanneer hierdie produkte boonop as boumateriaal in ingenieurs- en argiteksontwerpte konstruksies gebruik, vir skrynwerk en meubelvervaardiging aangewend, of vir verpakkings- en skryfmateriaalvervaardiging ingespan word, groei hout se waarde selfs verder en word broodnodige werksgeleenthede geskep. 'n Eiesoortige sy van die bosboubedryf is die reeks chemiese produkte wat uit hout vervaardig kan word. Sommige word selfs op die vlak van fossielbrandstofprodukte gereken. Met “skoon energie” deesdae op almal se lippe, bied hout as hernubare grondstof verskeie moontlikhede. Dit is dus vanselfspekend dat 'n deeglike kennis van die chemiese, fisiese en biologiese eienskappe van hout en houtverwerkingstegnologieë in alle stadia van verwerking nodig is om bekostigbare, gehalte produkte te lewer wat ook in die oorsese mark kan meeding. 

Volgens statistieke het Suid-Afrika in 2005 oor 211 primêre houtverwerkingsaanlegte, soos saag-, mynhout- en fineermeulens, pulp-/papier-/kartonmeulens en verduursamings- en houtskoolvervaardigingsaanlegte beskik. Totale verkope daaruit het R15 miljard beloop, waarvan R9,5 miljard met uitvoere verdien is. Daarteenoor het ons houtprodukte ter waarde van R6,1 miljard ingevoer wat saam met plaaslik gekweekte hout in die sekondêre en tersiêre sektore van die houtbedryf verder verwerk is.