|
|
|
|
|
|
laktose, of melksuiker, kom voor in die melk van alle soogdiere. Hidrolise split die molekule in glukose en galaktose molekule. Laktose is van spesiale belang in voeding omdat dit bykans die helfte van die melk-vastestowwe uitmaak en nie in die natuur voorkom nie (behalwe as `n produk van die melkkliere).
3. Polisakkeriede Die polisakkeriede is almal kondensasieprodukte van heksoses of ander monosakkeriede. Hulle het almal hoë molekulêre massas en die meeste van hulle is onoplosbaar in water. Kwantitatief is hulle die belangrikste voedingstowwe van plantaardige oorsprong. Nie-stysel polisakkariede (pentosane en b-glukane) kom voor in sekere grane soos gars, hawer, rog en koring en kompliseer die vertering van ander voedingstowwe in die dermkanaal. Die polisakkeriede wat van primêre belang is in dierevoeding is stysel en sellulose. Albei hierdie verbindings is polimere (langketting verbindings) van glukose.
Stysel
Stysel het die algemene formule C6H10O5. Dit vorm die reserwemateriaal van die meeste plante en dien hoofsaaklik as bron van energie vir enkelmaagdiere. Stysel bestaan uit polimere van alfa-glukose en kom hoofsaaklik voor as granules in die endosperm van grane (mielies, koring, ens.). Twee tipe stysel, naamlik amilose (ongeveer 20 tot 30%) en amilopektien kom voor. Amilose het 'n reguit ketting terwyl amilopektien vertak. Stysel is oor die algemeen oplosbaar in warm water, hoewel daar variasie in die oplosbaarheid tussen plante voorkom. Suur- of ensiem-hidrolisie lewer dekstrien, maltose en uiteindelik glukose. Ongeveer 22 tot 28 glukose molekule word geproduseer vanaf een molekule stysel. Hitte en vog veroorsaak afbraak en gelatinisering van stysel wat die verteerbaarheid daarvan verhoog. Die gelatinisering het ook bepaalde voordele by die vervaardiging van voere.
Sellulose
Sellulose is waarskynlik die volopste organiese verbinding in die natuur. Dit vorm die hoof strukturele komponent in die selwande van plante en ongeveer 50% van alle plantmateriaal is sellulose. Dit is `n polimeer van verskeie beta-glukose-eenhede. Sellulose is essensiëel onoplosbaar en uiters bestand teen ensiemmatiese degradering. Dit kan gehidroliseer word na glukose deur sterk sure. Dit is onverteerbaar in monogastriese diere (enkelmaagdiere soos hoender, vis, hond, kat).
Hemisellulose
Hemisellulose bestaan uit `n mengsel van heksose en pentose eenhede en hidrolise lewer glukose en pentose, gewoonlik xilose. Dit is die hoofkomponent van plant selwande. Dit is minder weerstanbiedig teen chemiese degradering as sellulose. Dit kan ook gehidroliseer word deur relatief matige suurbehandeling.
Lignien
Lignien word gevind in die hout-agtige dele van plante en het `n hoë molekulêre massa. Sy spesifieke struktuur is nie so goed bekryf nie en kan variëer van plant tot plant. Dit is fundamenteel `n komplekse struktuur wat bestaan uit koolstof tot koolstof bindings en of bindings bestand teen suur en alkalie.
|
|
|
|
|
|
|