Nuwe ontwikkelings

Die Departement van Ondernemingsbestuur streef daarna om te innoveer en om op die voorpunt te wees van navorsing en ontwikkeling en ook om onderrig en onderrigtegnieke te verbeter en uit te brei tot die voordeel van ons studente.

Nuwe programme:

Sedert 2007 bied die Departement Ondernemingsbestuur jaarliks ’n praktiese kortkursus in Entrepreneurskap aan tydens die Junie/ Julie vakansie in samewerking met Syracuse Universiteit. Die unieke EESA program bied senior studente aan die US die geleentheid om vir 6 weke praktiese opleiding te ontvang in entrepreneurskap en terselftertyd mentorskap te verleen aan entrepreneurs in die gemeenskap. Meer inligting op www.sun.ac.za/eesa

‘n Nuwe fokusarea is in 2007 in die BComm (Bestuurswetenskappe)-program ingestel, nl Finansiële Beplanning. Hierdie fokusarea is onder andere gerig op die verwerwing van die internasionaal erkende CFP™ (Certified Financial Planner) nagraadse kwalifikasie. Dit berei studente verder voor vir indiensneming in die finansiële adviesbedryf.

Die voorgraadse modules, Finansiële Beplanning 214 en Finansiële Beplanning 378 vir die programme BComm, BComm (Bestuurswetenskappe) en BComm (Ekonomiese Wetenskappe) word onderskeidelik sedert 2007 en 2008 aangebied.

Die nagraadse Diploma in Finansiële Beplanning word sedert 2005 aangebied. Dit is ‘n spesialis diplomaprogram (NQF vlak 7) en word aangebied deur akademici en praktisyns in die finansiële diensbedryf. Dit duur twee jaar maar geselekteerde studente kan dit binne een jaar voltooi. Persone wat hierdie gesogte kwalifikasie voltooi kan as finansiële adviseurs praktiseer. ‘n Beperkte aantal studente kan per jaar geakkommodeer word. Die program word geakkrediteer deur die Financial Planning Institute (FPI). Aansoeke sluit 30 Oktober.

Die nagraadse Diploma in Bemarking word sedert die begin van 2006 aangebied met die doel om aan gegradueerdes met geen vorige bemarkingsopleiding die kernkennis en bemarkingsvaardighede te bied – van konsepsualisasie van idees tot die ontwikkeling en onderhoud van bemarkingsplanne en programme. Die kwalifikasie is gemik op mense wat die besigheids- en professionele omgewing betree met geskikte kwalifikasies in ‘n spesifieke kennisveld, maar sonder die bemarkingsondervinding. Dit gee studente die geleentheid om te kompeteer vir goeie poste en so hul loopbaanvooruitsigte te verbeter. Dit neem ‘n jaar om te voltooi en studente moet voltyds ingeskryf wees.

Sien Kwalifikasies en modules vir inligting oor ander huidige programme.

Nuwe ontwikkelings en nuus:

Persverklaring

Navorsingseminare

CFA Aanvaarding as CFA Programvennoot
deur die CFA Instituut

Die Departement Ondernemingsbestuur van die Universiteit Stellenbosch is trots om aan te kondig dat dit onlangs deur die CFA Instituut, gebaseer in die Verenigde State van Amerika, in kennis gestel is dat dit as 'n CFA Programvennoot met betrekking tot onderrig van die voorgraadse program in Beleggingsbestuur, wat deur die Departement Ondernemingsbestuur aangebied word, aanvaar is. Dit hou, benewens ander voordele wat hieronder genoem word, twee hoofvoordele in naamlik, dat die departement nouer bande smee met 'n organisasie wat homself oor etlike jare gevestig het as 'n globale leier in die onderrig en lewering van beleggingsprofessionaliste deur die vestiging van die gesogte internasionaal geakkrediteerde Chartered Financial Analyst Programme©. 'n Verdere voordeel is dat die vennootskap dien as 'n herbevestiging van die departement se verbintenis tot relevante onderrig in die beleggingsveld.
Ander voordele wat die vennootskap vir die departement inhou, is die volgende:

Die departement het sewe jaar gelede met die onderrig van studente in die voorgraadse program in beleggingsbestuur begin fokus op die bereiking van die leeruitkomste van die vlak I van die Chartered Financial Analyst Programme©. Hierdeur het die departement die kandidate se vermoë om die vlak I-eksamen te slaag aansienlik verhoog. Die departement sit ook dieselfde benadering voort in die nagraadse BCommHonneurs (Finansiële Analise)-program deur studente te onderrig ter bereiking van die vlak II- en III-leeruitkomste van die Chartered Financial Analyst Programme©.

Raadpleeg Kwalifikasies en modules vir meer inligting oor huidige programme.