Portchie Skenk Skildery aan Departement Ondernemingsbestuur

Paul Harris

Van links na regs: Dr Ria Hugo, Departement Ondernemingsbestuur, Portchie, Prof Christo Boshoff, Voorsitter Departement Ondernemingsbestuur

Portchie, bekende skilder van Stellenbosch, het op 13 Oktober 2009, ’n skildery geskenk aan sy alma mater, die Departement Ondernemingsbestuur, van die Universiteit Stellenbosch. Die oorhandiging is op luisterryke wyse by sy ateljee, die Red Tea Pot Gallery, in Kerkstraat Stellenbosch, gevier. Die skenking is moontlik gemaak deurdat Dr Ria Hugo, van die Departement Ondernemingsbestuur, by wie Portchie tydens sy studies klas geneem het, hom gevra het of hy nie dalk die kantore van die departement kan opvrolik met sy kuns nie.

Sy eie webwerf beskryf Portchie se lewensfilosofie as: “doen goed waar en wanneer jy kan” en in elke skildery gee hy bietjie van homself. Sy bestuurs- en bemarkingsagtergrond kom goed te pas in die kunswêreld en hy verstaan diversifikasie deur die loodsing van ‘n uitgebreide reeks produkte. Die Departement Ondernemingsbestuur het reeds by twee geleenthede ‘n profiel van die oud-student in hul Departementele publikasie, Bedryfsfokus, gepubliseer. Prof Christo Boshoff, Voorsitter van die Departement Ondernemingsbestuur, beaam: “dit is ’n voorreg om hierdie welberese, eties-korrekte sakeman en suksesvolle kunstenaar ’n oud-student te kan noem. Portchie se nederige begin as kunstenaar en groei tot uiters suksesvolle sakeman dien as inspirasie vir ons studente.”

Portchie se kuns is ’n kombinasie van ekspressionisme en impressionisme, met ‘n unieke styl en karakter, met sy kenmerkende blou bome waardeur die lig filter. Hy gebruik helder, warm en vrolike kleure, want mense geniet dit. Hy het reeds 57 solo uitstallings op sy kerfstok en is ook betrokke by verskeie uitstallings ten bate van liefdadigheid.

END
Contact: M. Terblanche-Smit
smitm@sun.ac.za (03/03/09)