|
Buvton is tans besig om saam met die SKP (Sinodale Kommissie vir Predikanteversorging)
'n Netwerk vir Leierskapbegeleiding te ontwikkel en te vestig. Die Netwerk
vir Leierskapbegeleiding het ten doel om predikante en later ook gemeenteleiers
te ondersteun en te begelei in die ontwikkeling van hulle leierskap in
die gemeente.
1. Roeping as uitgangspunt: In ons navorsing
tov die amp van die predikant het dit vir ons duidelik geword dat die
roeping van die predikant soos 'n goue draad deur die geskiedenis van
die ontwikkeling van die ampsbeskouing is. Hierdie persoonlike roeping
is nie staties nie, maar is saam met die persoon voortdurend aan die ontwikkel.
Bybels-teologies is die drie-voudige amp van koning, priester en profeet
die mees kompakte beskrywing van die inhoud van ons roeping as gelowiges
en ook as predikante. Binne hierdie algemene roeping roep God individuele
predikante en gemeenteleiers om ‘n spesifieke en unieke vulling
hieraan te gee. Die Netwerk vir Leierskapbegeleiding se uitgangspunt is
dat die energie van predikante om passievol met hulle werk te kan voortgaan,
hoofsaaklik gevoed word deur 'n voortdurende ontwikkeling van die roeping
wat ons van God ontvang. As daar oor roeping onduidelikheid of onsekerheid
ontstaan word die werk van 'n predikant meganies en ontstaan daar nie
alleen 'n gebrek aan energie nie, maar tree daar ook 'n verlies aan identiteit
in.
2. Ontwikkeling van kapasiteit
Die roeping van die predikant word gekonkretiseer in die verskillende
leierskaprolle en uitsette wat predikante in gemeentebediening vervul.
Ons werk tans met vyf rolle wat predikante in hulle gemeentebediening
kan vervul nl dissipel, visioneerder, vriend, mobiliseerder en bemagtiger.
Vir elkeen van die vyf rolle is 'n kapasiteitsmodel ontwikkel wat as raamwerk
dien vir die persoonlike ontwikkeling van predikante tov die spesifieke
rolle. Hoewel al hierdie rolle nie in elke konteks ewe belangrik is nie,
verskaf dit aan ons 'n raamwerk waarbinne die predikant sy of haar roluitklaring
kan doen. In ons begeleiding wil ons predikante help om insig te ontwikkel
tov hulle vlakke van bevoegdheid tov die verskillende rolle. Hieruit word
groei geleenthede bepaal en die predikant gehelp om 'n persoonlike ontwikkelingsplan
te ontwerp om hulle kapasiteit te ontwikkel.
3. Ontwikkelingsdienste
Die Netwerk vir Leierskapbegeleiding beskik oor 'n wye verskeidenheid
van dienste wat gebruik kan word tov die persoonlike ontwikkeling van
predikante. Hierdie dienste sluit in:
Pastor pastorum gesprekke van kollegas, terapie, kursusse, retraites,
persoonlike mentoraatskap, bedienings-afrigting (coaching) ens.
Die dienste word deur ‘n netwerk van kundige persone en instansies
gelewer wat almal deel uitmaak van die Netwerk vir leierskapbegeleiding.
4. Integrasie in die praktyk van gemeente-bediening
Die Netwerk vir Leierskapbegeleiding het verder ten doel om die predikant
wat deur ‘n periode van persoonlike ontwikkeling gegaan het te ondersteun
tov die integrasie van die nuwe insigte en vaardighede in die praktyk
van die gemeente-bediening. Dit behels oa om ‘n kultuur van versorging
en ontwikkeling in die gemeente te vestig en saam met die kerkraad te
onderhandel tov unieke uitsette wat die predikant in die gemeente moet
lewer. In die gevalle waar die gemeente van Buvton se fasiliteringsdiens
gebruik maak, sal die gemeenteproses met dié van ontwikkeling van
die leraars geïntegreer word.
Standplaaswisseling
Die SKP inisieër en stimuleer bilaterale en multilaterale standplaaswisselings
en wil predikante aanmoedig om met mekaar te gesels oor moontlike ruilings.
Daar het reeds ‘n aantal suksesvolle standplaaswisselings plaasgevind.
Indien ‘n persoon hiervoor in aanmerking wil kom, kan die predikant
self, of die kerkraad, of die verantwoordelike instansie die voorsitter
van die SKP (Jannie le Roux. Tel: 021-856 1385 of jgleroux@isales.co.za)
kontak.
|