|
Die volgende nuwe predikantekursusse is gemik op die verbetering van
bedieningsvaardighede van predikante. In elkeen van die kursusse word
‘n teoretiese raamwerk ontwikkel, bedieningsvaardighede ingeoefen
en bedieningsgewoontes vasgelê, ten einde die aangeleerde vaardigheid
in ‘n voortdurend veranderende gemeentelike konteks te implementeer.
Die kursusse vind oor drie dae plaas vir ‘n maksimum van 15 persone
per kursus, sodat elke kursusganger se individuele vaardigheidsvlakke
ontwikkel kan word. Buvton bied gedurende 2006 die volgende kursusse in
hierdie reeks aan:
1. Koinonia
In hierdie kursus word die persoonlike vaardighede van gemeente predikante
tov koinonia-verhoudings ontwikkel wat toegepas kan word in die totale
bediening van die gemeente. Om dit te bereik word die kursusganger blootgestel
aan ‘n toepaslike teoretiese raamwerk, vaardighede ingeoefen en
houdings en oortuigings aangeleer. Spesiale aandag word gegee aan die
vestiging van ‘n kleingroep bediening. Kursusgangers word blootgestel
aan nuwe programme wat koinonia in die gemeente kan bevorder.
Aanbieders: Frederick Marais; Nico Simpson; René
August
Datum: Sien kalender
2. Eksegese van die konteks
In hierdie kursus word gemeente predikante se vermoë om die konteks
geloofsonderskeidend te lees en te interpreteer, ontwikkel. Vaardighede
word aangeleer om bronne te benut en te skep wat jou in staat stel om
in ‘n post-Christendom wêreld waar die ‘sendingveld’
op ons voorstoep is, te ontleed
en geloofsonderskeidend na te dink oor wat God besig is om te doen in
die konteks. Kursusgangers sal onder andere blootgestel word aan ’n
web-gebaseerde proses wat hulle help om inligting te verwerk.
Aanbieders: Pat Taylor Ellison, EGON en SAVGG
Datum: 30 Januarie – 02 Februarie 2006
3. Prediking
In hierdie kursus word gemeente predikante se vermoë om teoreties
en prakties met die prediking om te gaan, ontwikkel. Vaardighede word
aangeleer om 'n teologiese teorie vir die prediking in verband te bring
met die nodige hermeneutiese en kommunkatiewe vaardighede wat elke prediker
nodig het. Kursusgangers bring onder andere video-materiaal van 'n eie
preek saam wat met behulp van 'n deskundige ontleed word en waarop positief
en opbouende kommentaar gelewer word.
Aanbieders: Ian Nell, Johan Cilliers, Coenie Burger,
Elmé Bosman
Datums: 5-7 Junie; 16-18 Oktober 2006
bo
4. Diakonia
In hierdie kursus sal aandag gegee word aan predikante en gemeentes se
diensvaardigheid, identifisering van projekte en die opleiding van helpers.
Aanbieder: Pieter Grove
Datum: 1-3 Augustus
5. Fasiliterende leierskap
In hierdie kursus word predikante se vaardigheid om leiding te gee ten
opsigte van prosesse van verandering in die gemeente ontwikkel. Die kursusgangers
word blootgestel aan lense wat hulle help om die dinamika in die gemeente
te verstaan. Verder vind inoefening plaas in praktiese fasiliteringsvaardighede.
CFN www.cfn.org.za
Sien kalender
6. Gemeentelike leierskap
Hou ons webwerf dop vir die besonderhede van hierdie kursus en datums
vir 2006.
7. Bybellees vaardighede
Hou kalender en webwerf dop vir besonderhede.
Inskrywings
Koste (per module) = pryse wissel tussen R100-00 en R300-00, etes en tee
ingesluit. Deelnemers is self verantwoordelik vir hulle verblyf.
As u of u kerkraad nie die koste kan bybring nie, skakel met Pieter Grove
(VGK-predikante) of Coenie Burger (NGK-predikante) by (021) 808 3624.
Die sluitingsdatum van kursusse is twee weke voor die aanvang van die
betrokke kursus.
Navrae: Chrisna van der Merwe 021-808
3624, (f) 021-886 5701
bo
Gemeentes het ‘n Godgegewe geleentheid om ‘n
sleutelinstrument te wees in die bestryding van armoede. Buvton sien hierdie
taak as ‘n hoë prioriteit vir die kerk en wil gemeentes in
hierdie proses begelei.
Kontakpersoon: Pieter Grove 021-808 2827 ~ Faks: 021-886 5701, Sel: 083
647 8993
1. Alle sektore van die Suid-Afrikaanse
samelewing worstel tans met die uitdaging van wydverspreide armoede. Ons
het egter geleer dat armoede ‘n multi-dimensionele werklikheid is
sodat nog die staat, die besigheidsektor of die burgerlike gemeenskap
(insluitend die kerk), dit op ‘n eenvoudige wyse kan oplos. Buvton
het daarom ‘n program begin om veral in die VGK Kaapland, die armoede-uitdaging
saam met gemeentes aan te spreek.
2. Beginsels
• gemeentes is ‘n ideale instrument om armoede effektief aan
te spreek
• selfs die armoedigste gemeenskap het toegang tot ‘n netwerk,
verhoudinge, vaardighede en hulpbronne
• die bybelse bronne en teologie om dieper insig en besondere energie
vir mobilisering te bekom, is beskikbaar
• daar is geleenthede tot vennootskappe binne die NGK familie en
met die owerheid en besigheidsektor wat benut moet word
• armoedebestryding vereis beginsels van volhou-baarheid en in diepte
toerusting van mense en instansies
3. Die onderliggende model
Ons benadering tot armoedebestryding werk met ‘n gemeenskapsbou-model
eerder as ‘n maatskaplike diensleweringsmodel. Die verskille kan
as volg aangedui word volgens die Coady Instituut se benadering:
Gemeenskapsbou model Maatskaplike dienste model
Fokus op bates Fokus op behoefte
Bou op geleenthede Reageer op probleme
Beleggingsoriëntasie Hulpverleningsoriëntasie
Klem op verenigings Klem op agentskappe
Fokus op gemeenskap Fokus op individue
Doelwit is bemagtiging Doelwit is diens
Mense as burgers Mense as kliënte
Mag kan deur verhoudinge Mag kom van kwalifikasies
Mense is die oplossing Programme is die oplossing
bo
4. Die uitkomste wat ons wil bereik
Gesien in die lig van die kompleksiteit van die armoede-vraagstuk en gedagtig
aan ons vertrekpunte, strewe ons na uitkomste wat kennis, vaardighede,
verhoudinge en organisasies bou:
• gemeentelede word begelei om die bates in hul gemeenskappe te
identifiseer
• vaardighede om die energie, geleenthede en vissie van die gemeenskappe
te ontsluit, word gefasiliteer
• die verbintenisse tussen bates en geleenthede word bymekaar gebring
om netwerke en verhoudinge te versterk
• die bybelse visie van naasteliefde word geïntegreer met ons
ontwikkelingsprosesse
• spesifieke projekte wat die beginsels van gemeenskapbou integreer
word gefasiliteer.
5. Fasiliteringsprogram met gemeentes
• ringswerkswinkels en gemeentebesoeke
• verspreiding van kritieke inligting
• ontwikkeling van ‘n vaardigheidopleidingsmodel
• navorsing oor lewensverhale
6. Vennote
Buvton werk nou saam met Badisa, die KGA, SKG en die Vennootskap vir Gestuurde
Gemeentes. Badisa is veral die vennoot wat prosesse wat alreeds geïnisieer
is, verder begelei.
Teikengroep: Gemeentes en gemeenteleiers
bo
Algemene kursusse (Teikengroep: Predikante, gemeenteleiers,
kerkrade & lidmate)
Interaction: Wees jouself binne verhoudings en
hanteer konflik opbouend
Gemeenteleiers en lidmate leer om effektief te kommunikeer en konflik
te hanteer, hulself beter te leer ken, hul eie gedrag beter te verstaan
en hul spanfunksionering te verbeter. Deelnemers voltooi vooraf drie psigometriese
toetse, wat in die kursus bespreek en interpreteer word. Maksimum 10 persone
per geleentheid.
Duur: Drie vol dae, 08:30 – 17:00
Aanbieder: Elsa Simpson (twintig jaar bedryfservaring in terapeutiese
berading, groepwerk, bestuurs-konsultasie en -opleiding)
Navrae: Buvton of Elsa Simpson by (021)982 7038, 083-782 1249, esimpson@lantic.net
Datums: Ongeveer eenkeer per maand
Plek: Koorsboomsingel 29, Vredekloof, Brackenfell
Koste: R1200.00 (psigometriese toetse, kursusmateriaal,
lokaal en middagetes ingesluit; verblyf uitgesluit)
Covey: "Seven habits"-kursus
"Seven habits of highly effective people" vir gemeente- en gemeenskapsleiers.
Elk van dié sewe gewoontes word intensief behandel: • "Be
pro-active" • "Begin with the end in mind" •
"Put first things first" • "Think win-win" •
"Seek first to understand and then to be understood" •
"Sinergize" • "Sharpening the saw"
Navrae: BUVTON
Plek: Hofmeyrsaal, Stellenbosch Kweekskool
Koste: R1 800 (reël eie verblyf)
CFN: Fasiliteringskursus
Die VTO-forum en MTP-konsultasiegroep ("Mediation and Transformation
Practice") het saam 'n ekumeniese fasiliteringsnetwerk, Gemeente
en Gemeenskap Fasiliteringsnetwerk (GFN), gestig. Opleiding fokus op basiese
kennis en vaardighede om transformasie binne die gemeente of gemeenskaps-organisasie
te fasiliteer.
Navrae: 021-685 6883 of cfn@mweb.co.za
Sien ook kalender
bo
Pastoraat as verhaalkuns
Eerste treë tot ‘n narratiewe
benadering
'n Basiese kursus vir predikante wat hulle pastorale vaardighede wil ondersoek
sowel as nuwe moontlikhede om aan hulle gemeentelede hulp te verleen.
Kursusgangers word aan die beginsels van narratiewe beraad bekend gestel
deur na mekaar se verhale te luister. Ons gaan kyk hoe Skrifverstaan en
teologiese diskoerse die pastorale hantering van lidmate beïnvloed.
Die beginsels van narratiewe terapie, en hoe dit die pastorale modelle
van kursusgangers mag herdefinieer, sal ondersoek word, asook die invloed
en eise van ‘n postmoderne wêreldgees op die pastoraat. Die
kursus gebruik vertellings, ervaringsleer en besprekings eerder as lesings
om die teorieë te verduidelik en te integreer. (Tussen 8 en 20 kursusgangers
per geleentheid.)
Kontakpersoon: Kontak Joanie Batt by 021-808 3382 of
bo
Hierdie kursusse kan ook vir ringe of streke aangebied
word.
Skakel Buvton vir navrae of besprekings.
Rentmeesterskap
Die BUVTON-navorsingsgroep oor rentme-esterskap het 'n deelnemende werkswinkel
ontwerp om groepe uit gemeentes (6 – 8 persone) te begelei tot die
ontdekking en aanvaarding van die uitdaging van verantwoordelike rentmeesterskap
op 'n persoonlike sowel as gemeentelike vlak.
Aanbieders: Monty Sahd en Francois Cillié
Morele heroriëntering: Oor moraliteit
en morele vorming in gemeentes
Met die oog op die moraliteitskrisis in ons samelewing fokus hierdie kursus
op hedendaagse strominge in die Christelike etiek en die implikasies daarvan
vir Suid-Afrikaners: Watter rol speel geloofsgemeenskappe in die morele
herstel van ons samelewing?
Aanbieders: Nico Koopman en Chris Jones
Healing of the memory
Hierdie werksessies vir ringe of gemeentes stel predikante en lidmate
bloot aan 'n proses wat reeds baie mense se lewens ingrypend verander
het. Daar word deur mense se ervarings van apartheid gewerk om die pad
na versoening, genesing en 'n nuwe, gemeenskaplike verbondenheid te betree.
Aanbieder: David Botha
Kleingroepbediening: Voorberei vir mekaar
Sonder hierdie noodsaaklike deel van die gemeente se bediening kan ons
mekaar nie meer behoorlik versorg en opbou nie. Coenie Burger, Nico Simpson
en Jannie Swart het 'n kursus ontwikkel om kleingroepleiers toe te rus
wat geskoei is op die benadering van die Carr-egpaar van die Candler Teologiese
Skool in die VSA. Die teorie agter hul benadering en die doelwitte met
kleingroepe, asook 'n strategie vir die implementering van so 'n bediening,
word behandel.
Aanbieder: Michiel van der Merwe Duur: Drie dae
Koeltebome van God se genade
Breda Ludik het 'n kursus ontwikkel waarin erediensbeplanningsgroepe en
gemeenteleiers gehelp word om die verskillende spiritualiteite in hul
gemeentes te verstaan, en om almal uiteindelik in eredienste en by ander
byeenkomste te akkommodeer.
Aanbieder: Breda Ludik
bo
Familia: Agt familiegewoontes wat geloof laat
groei
Vir families met kinders ouer as vyf; die hele gesin woon die kursus by.
Dis deel van die groter inisiatief, Familia: Families wat saam groei,
en help gesinne familiegewoontes vorm wat kinders en ouers help om saam
te groei in hulle geloof. Agterna bied hierdie gesinne die kursus in hul
eie gemeentes aan.
Aanbieders: Kontak Buvton om uit te vind wie in jou streek
dit aanbied Duur: Naweek
Familia: Positiewe ouerskap (POSPAR)
Opleiding vir fasiliteerders in 'n ouerleidingsprogram – ook deel
van die Familia-inisiatief. Ons fokus doelbewus op die vestiging van 'n
deelnemende (in plaas van 'n outokratiese of permissiewe) ouerskapstyl.
Kommunikasievaardighede en dissipline word ook behandel.
Aanbieders: Kontak mev Alta Marais om uit te vind wie
in jou streek dit aanbied: 021-882 9956 of 082 923 9010
Vaardige, bemagtigende leierskap in die kerk (werkswinkel)
Leierskap is 'n onmisbare sleutel tot suksesvolle transformasie, 'n katalisator
vir groei, 'n teenmiddel teen konflik – en 'n gawe van God wat ontdek
en ontwikkel kan word. Kom leer onder meer oor: Die verskil tussen leierskap
en bestuur; die dinamika van leierskap; leierskap vandag; selfbestuur;
konflikhantering; leierskap en karakter; leierskap en spanbou; die ontwikkeling
van leiers; leiers deur die eeue (ons leer by ander leiers); die ontwikkeling
van 'n leierskapkultuur
Aanbieder: Braam Hanekom (021-976 1458 of 083-302 639)
Koste: R30 per persoon (kursusmateriaal ingesluit)
Datums: Beperkte moontlikhede; bespreek vroegtydig. Duur: Een dag
VIGS – Uitdagings vir gemeentelike en
kerklike betrokkenheid
Vir kursusse sien die moontlikhede wat CABSA, een van Buvton se vennote
bied.
Beradingsvaardighede (vir lidmate)
Lidmate leer om beraders vir ander lidmate te wees deur die heersende
teorieë rondom pastoraat self te ervaar en in te oefen. Dit is 'n
belewingsgerigte kursus wat met ervaringsleer werk. Deelnemers vertel
hulle eie verhale en ontdek watter rol dit in hulle berading speel. So
leer hulle om na ander se verhale te luister en te ontdek hoe God saam
skryf aan ons lewenstories. Vorige kursusgangers sê hulle het geleer
om hulleself en ander beter te verstaan en om nuut na mense te luister.
Navrae: Buvton
bo
|