Resensies deur
Coenie Burger

Boekresensies

 

Nuwere boeke oor die geskiedenis en teologie van die Vroeë Christelike kerk

Presbyterian Beliefs: A Brief Introduction – Donald McKim. 2003. Geneva Press. 125p.

Donald McKim is `n bekende Presbiteriaanse teoloog wat heelwat oor die Gereformeerde Tradisie geskryf het. Hy was redakteur van Introducing the Reformed Faith, een van die heel beste bundels oor die gereformeerde geloof.
Presbyterian belief bedoel as `n kort, bondige opsomming van die gereformeerde geloof. Dit is eintlik `n bondige, populêre dogmatiek want dit volg dieselfde gebruiklike indeling.

Hy gebruik drie hoofindelings:
The God who reveals, creates and guides (met hoofstukke oor openbaring, triniteit, skepping en voorsienigheid)
The Christ who saves people like us (met hoofstukke oor die mensheid, sonde, Christologie, die Heilige Gees, verkiesing, en verlossing deur genade)
The Church where faith begins, is nourished and grows (met hoofstukke oor die kerk, die christelike lewe, die toekomstige lewe)

McKim se krag is dat hy tegelyk `n betroubare teoloog is, omgee vir die kerk en kerklike lewe en redelik verstaanbaar skryf.

bo

Preaching parables to Postmoderns – Brian C. Stiller. 2005. Fortress Press.

Hierdie boek van Stiller is die nuutste volume in Fortress se reeks Resources for Preaching. Dit is `n goeie en waardevolle toevoeging tot die reeks.

Stiller is `n goeie teoloog wat vir baie jare in kommunikasie- en bestuurskringe beweeg het. Dit het hom baie goed voorberei vir die skryf van die boek.

Die boek se waarde lê op vier vlakke:
Eerstens gee Stiller in die begin van die boek `n baie goeie verstaanbare en werkbare omskrywing van Postmodernisme (vir wie verkies om die term vir die verskynsel te gebruik!).
Tweedens verduidelik hy waarom spesifiek die gelykenisse vir ons `n wonderlike geleentheid bied om met mense wat “postmodern” dink en leef te kommunikeer. Persoonlik het ek gedink dat dit van die beste dele van die boek is.
Derdens, behandel Stiller in die boek `n tiental gelykenisse redelik uitgebreid – ongeveer tien bladsye per gelykenis. Die behandeling van Stiller bied goeie gedagtes wat in die prediking gebruik sou kon word.
Vierdens, illustreer hy sy metode in vier preke van hom wat hy volledig in die boek weergee.

Hoewel die boek nie die diepsinnigste is wat ek al oor die gelykenisse gelees het nie, bied dit goeie stof tot nadenke. Dominees sal meer as waarde vir hul geld kry uit die aankoop van die boek. Dit is baie goed om van tyd tot tyd iets nuuts oor die prediking te lees. Dit raak nog beter as die boek jou tegelykertyd help met die maak van `n tien of so preke!

bo

Praying without ceasing: Revitalizing Pastoral Care – Deborah van Deusen Hunsinger. 2006. Eerdmans.

Meer as die strekking of detail van haar argumente maak die blote keuse van haar tema die boek van Deborah Hunsinger uitermate belangrik. Andrew Purves het in resente tyd my oë weer oopgemaak vir die wesenlike, onontbeerlike rol van gebed in die gemeentelike bediening van die evangelie - `n saak wat in baie kerke gruwelik afgeskeep word.

Hoewel dit nie fisies so ingedeel is nie sou `n mens kon sê dat die boek drie dele het. In die eerste hoofstuk situeer Hunsinger die diens van die gebede binne die koinoniale verbande van die gemeente. Gebed is nie primêr `n solo-bediening van enkelinge nie. Dit is `n diens van die gemeente waaraan hopelik baie individue deelneem. Die gemeente se Hunsinger is ook die beste plek om te leer bid.
In die tweede deel (hoofstukke 2-4) praat sy oor gebed as luister. Hoe verder ek in die boek gelees het, hoe meer waardering het ek vir hierdie plasing gehad. Voordat ons begin praat en vra, is dit goed om eers stil te word en te luister. Om te luister na God, na ander en na ons eie hart en lewe, is ook alles deel van gebed.
In die derde deel van die boek (hoofstukke 5-9) praat sy dan oor gebed soos wat ons gewoonlik daaroor dink. Sy het aparte hoofstukke oor gebed as versoek, as intersessie, as klag, as konfessie en as lof, dank en seën.
In die slothoofstuk van die boek gee sy idées hoe mense die boek kan bespreek in groepe en probeer inbring in die gemeente se bedienings.

bo

Presbyterians being Reformed. Robert H. Bullock jr.

Soos die meeste ouer protestantse kerke in die Weste gaan die PCUSA – die grootste presbiteriaans- gereformeerde kerk in die VSA – ook die laaste veertig jaar deur `n fase van lidmaatverlies en identiteitsonsekerheid. In hierdie boek hierdie boek gee dertien kerkleiers en predikante `n analise van wat hulle dink aan die gebeur is en ook hulle mening oor wat no gedoen behoort te word in die kerk.

Die artikels is van wisselende gehalte en is meesal soos wat `n mens kan verwag, baie spesfiek gerig op die situasie van die PCUSA. Daar is tog `n paar van die artikels waaruit ons sou kon leer vir ons situasie. Persoonlik het ek gedink dat die artikels van Clifton Kirkpatrick, Jack Haberer, John Buchanan, Stacy Johnson en Barbara Wheeler van die meer leersames is.

Die konsep van die boek is dalk iets wat ons hier by ons sou kon navolg.

bo

Elusive Togetherness: Lichterman, P., published by Princeton University Press.

Elusive Togetherness is `n studie deur `n gerekende sosioloog in die VSA oor Christelike gemeenskappe se vermoë om brûe te bou oor etniese en sosiale grense. Hy het in `n spesifieke dorp in die VSA `n studie gemaak van agt Christelike gemeenskapsorganisasies en gekyk hoe effektief hulle daarin slaag om breër sosiale diversiteit te oorbrug en sterker sosiale kohesie in die gemeenskap te stig.

In die geheel is hy positief oor wat hy gesien het. Oor die positiewe sosiale effek van godsdiens – in besonder die Christendom – kan daar min twyfel wees. Belangrik is die fyner nuanses wat hy waargeneem het. Die waarheid is dat nie al die groepe ewe effektief sosiale kohesie bevorder het nie.

Naas die bekende term sosiale kapitaal en onder onderskeid tussen bindkapitaal (bonding kapitaal) en oorbruggingskapitaal (brig Elusive Togetherness

ET is `n studie deur `n gerekende sosioloog in die VSA oor Christelike gemeenskappe se vermoe om brue te bou oor etniese en sosiale grense. Hy het in `n spesifieke dorp in die VSA `n studie gemaak van agt Christelike gemeenskapsorganisasies en gekyk hoe effektief hulle daarin slaag om breër sosiale diversiteit te oorbrug en sterker sosiale kohesie in die gemeenskap te stig.

In die geheel is hy positief oor wat hy gesien het. Oor die positiewe sosiale effek van godsdiens – in besonder die Christendom – kan daar min twyfel wees. Belangrik is die fyner nuanses wat hy waargeneem het. Die waarheid is dat nie al die groepe ewe effektief sosiale kohesie bevorder het nie.

Naas die bekende term sosiale kapitaal en onder onderskeid tussen bindkapitaal (bonding kapitaal) en oorbruggingskapitaal (bridging capital) skep hy `n nuwe term deur te praat van die sosiale spiral. Daarmee bedoel hy dat die gemeenskapvorming wat na binne in geloofsgemeenskappe plaasvind, gewoonlik `n leerervaring is wat mense help om ook beter saam te leef met mense buite die groep.

Twee van sy waarnemings is interessant. Sy belangrikste bevinding was dat die gewoontes (ons sou dalk ook praat van waardes en gebruike) van `n groep, wat toelaatbaar is en wat nie, deurslaggewend was vir hoe die groep op getree het oor mense buite. Tweedens, vir my verrassend, is dat groepe wat refleksie en gesprek oor ander groepe in die gemeenskap toegelaat en aangemoedig het (hy praat van social reflexivity), baie beter geslaag het met die generering van brugbou kapitaal as ander.

bo

Christology in Context: A Pastoral Systematics: Vol 4 – Gabriel Fackre – Fuller Seminary Bookstore

Gabe Fackre is een van my gunsteling dogmatici om twee redes. Hy is `n deur en deur gereformeerde teoloog, maar handhaaf baie sterk ekumeniese bande en hy was vir bykans twintig jaar `n gemeentepredikant voordat hy akademie toe is. Hierdie bewustheid van die gemeentelike lewe en van gewone gelowiges hoor `n mens in die subtitel van sy reeks ( a pastoral sytematics) en in die tema van hierdie boek.

Die hele boek is baie interessant en merkwaardig. Dit is `n opvolg of kompendium by sy vorige boek oor die Christologie nl The Christian Story, Vol 1. In die eerste publikasie het hy die gebruiklike Christologiese vrae gestel en probeer antwoord – die gewone soort boek wat dogmatici oor die Christologie sal skryf. In hierdie boek probeer hy om sy sienings te kontekstualiseer in vandag se wêreld. Vandaar die titel Christology in Context.

Nadat hy in die eerste twee hoofstukke die belangrikheid van kontekstualisering ook vir ons denke oor die Christologie weer beklemtoon het, kom hy by drie baie interessante afdelings. In afdeling twee probeer hy konneksies maak tussen die Christologie en die kerk en die kerklike bediening. Die hoofstukke is baie goed: dit is `n bekende terrein vir Fackre en hy het al heelwat in vroeëre boeke hieroor geskryf. Ek het persoonlik baie by Fackre geleer uit sy denke oor hierdie sake. Onder invloed van die Mercerberg Skool (Duitssprekende gereformeerdes wat in Pennsylvania gewerk het en teoloë soos Neven en Schaarf gehad het) kies hy vir `n ekklesiologie wat die verband met Christus baie, baie ernstig neem en te onderskei is van `n soort verenigings-agtige ekklesiologie wat `n mens vandag baie algemeen in die gereformeerde wêreld aantref.

In die derde deel – Jesus Christ and Parisioner Questions - gee hy aandag aan ons denke oor engele, oor mense wat nog nooit van Christus gehoor het nie en aan ons verhouding met Israel. In die laaste twee dele van die boek gee hy aandag aan die Christologiese denke van ander teoloë (oa Donald Bloesch en Schillebeecx) aan die Katolieke en Lutherane se gesamentlike verklaring oor regverdigmaking en aan sy eie kontekstualisering van die Christologie. Soos `n mens van `n goeie gereformeerde sou verwag lig hy die betekenis van die kruis en die opstanding uit.

`n Baie goeie en leersame boek!

bo

Ten great ideas from church history – Mark Shaw. IVP. 1997.

Mark Shaw, `n Amerikaner wat klasgee in Kenia, het met die boekie werklik vir die kerk `n juweel gegee. Hy slaag op `n uitmuntende manier daarin om kerkgeskiedenis en die praktiese bediening van die kerk by mekaar uit te bring.

Agter die boek le `n wonderlike, basiese idée. Shaw het tereg gesien dat die groot name van die kerk- en teologie-geskiednis nie mense was wat in die eerste plek teoretiese teologie wou skryf nie, maar gelowiges en predikante was wat `n drif gehad het om die evangelie in te dra in die wêreld waarin hulle geleef het.

In die boek vertel hy hulle stories: hoe hulle die nood van hulle tyd verstaan het en onder die leiding van die Gees `n roeping ontvang het om iets daaraan te doen. Hy vertel van hulle gehoorsaamheid aan die Here maar ook van hulle oorspronklikheid en deursettingsvermoë. Hoewel ons situasie totaal van hulle s`n verskil en ons nie dieselfde planne kan gebruik nie, meen Shaw dat ons veel van die voorganger kan leer. En hy is beslis reg. Dit is `n inspirerende en stimulerende boek. Ek is seker dat die lesers van die boek nie net aangespoor sal word deur die verhale nie, maar ook `n idees sal kry wat hulle kan opvolg en toepas.

Hy werk met tien persone se verhale en werk oa Luther, Calvyn, Baxter, Edwards, Wesley, Carey, Wilberforce en Bonhoeffer en gee aandag aan sake soos eenheid, waarheid, aanbidding , vernuwing, groei, koinonia en geregtigheid.

By alles is die boek regtig informatief en lees ook nog lekker. Dit het ook vrae wat in kleingroepe bespreek sou kon word. Vir predikante en gemeenteleiers wat nie maar nog `n “quickfix” soek nie, maar wil leer uit die geskiedenis en ervaring van die waardige voorgangers, is hierdie die regte boek.

bo

An Introduction to Pentecostalism: Global Charismatic Christianity – Allan Anderson. 2004. Cambridge University Press

Die Pinkster-en Charismatiese Beweging van die afgelope eeu word allerweë beskou as die vinniggroeiendste godsdiensbeweging ooit in die geskiedenis van die wêreld. Die deel van die Christendom het in honderd jaar se tyd gegroei vanaf `n klein, randgroep tot `n groep wat 25% van die Christendom verteenwoordig.

Die boek van Anderson is `n uitstekende inleiding op die beweging. Anderson, `n oud-Suid-Afrikaner wat meer as twintig jaar in die bediening was, ken die beweging van binne en is `n goeie en betroubare gids. Hy gee tans klas in Birmingham en is `n gerekende akademikus.

Die boek is verdeel in twee dele. In die eerste deel vertel hy die geskiedenis van die beweging. Na `n bondige oorsig oor die Bybelse en vroeg-historiese wortels van die beweging, gee hy aandag aan die diverse ontwikkeling van die beweging in verskillende wêrelddele oa die VSA, Latyns-Amerika, Europa, Afrika, en Stille Oseaan Area. Hy verduidelik ook die verskillende fases wat die beweging deurgegaan het – van klassieke pentekostalisme, tot die charismatiese beweging tot by die sg nuwe pentekostaliste.

In die tweede deel van die boek gee hy aandag aan “Pentecostal and Charismatic Theology in Context”. Die deel is baie onderhoudend want Anderson gee aandag aan al die vrae waaroor mense graag praat. Daar is hoofstukke oor `n teologie van die Gees, oor die Pentekostaliste en sendingywer, oor hulle siening van die Bybel en die sg volle evangelie, oor hulle groeiende verbintenis aan akademiese teologie en aan die ekumeniese beweging, en oor hulle rol in die breër samelewing.

Anderson skryf nie ingewikkeld nie en die boek lees baie lekker. Vir enigiemand wat meer van die beweging wil weet is dit ‘n baie betroubare inleiding.

bo

 

The Story of Christian Theology: Twenty Centuries of Tradition and Reform – Roger Olsen. IVP. 1999.

Ek begin met die boek wat ek die sterkste wil aanbeveel. Olsen se boek is nie noodwendig die mees wetenskaplike, beste of volledigste van die klomp nie, maar ek plaas hom eerste op die lys omdat Olsen die gawe het om boeiend en baie verstaanbaar te skryf. Die woord storie kom nie verniet in die titel van die boek voor nie. Die verhaal word bewustelik so vertel: die verhaal van die kerk is een verhaal van tradisie en herhaaldelike hevorming (vgl subtitel). Voordat `n mens te veel detail kan inneem oor die geskiedenis, soek jy eers `n oorsig van die geheel; daarvoor is Olsen se boek ideaal.

Die wins van die boek is dat `n mens hier in een boek die hele verhaal van die Christelike teologie het. Dit is ook goed dat daar in die boek `n sterker konsentrasie op die vroeër geskiedenis is. Die latere geskiedenis (bv 20ste eeu) ken ons `n bietjie beter en weet ons meer van.

Ek het die eerste vier hoofstukke baie geniet en baie interessant gevind. Dit handel oor die eerste vier eeue en al die groot debatte word bespreek. Hy gee ook in die loop van die verhaal `n bietjie meer inligting oor die lewens en werk van die groot kerkvaders: Athanasius, Augustinus, Ireneaus, Tertullianus, die drie Kappadosiërs,Cyprianus, ens.

Die ander twee hoofstukke wat ek baie interessant gevind het, was die oor die verdeling van die Westerse en Oosterse kerke en die oor die Skolastiek (Anselmus, Abelardus, Thomas, ens). Dit is ook boeiende (en hartseer) verhale wat die meeste van ons nie goed ken nie.

Die belangrikste negatiewe punt is waarskynlik die feit dat Olsen, `n Baptis wat by Baylor Universiteit klasgee, `n self-erkende Arminiaan is wat lugtig is vir Calvyn. Ek moet erken dat sy hoofstuk oor die Reformasie na my mening nie die beste in die boek is nie.

’n Woord oor Olsen self. Hy is ‘n Baptis en ‘n uitgesproke evangelikaal (evangelical). Tog is hy lank genoeg met die teologie besig dat hy `n groot ekumeniese openheid ontwikkkel het. Hy probeer inklusief en billik wees in sy oordeel sonder om sy evangeliese standpunte prys te gee.

bo

Pocket History of Theology – Roger Olsen en Adam English. IVP. 1999.

Kort na die verskyning van sy uitvoeriger boek oor die geskiedenis van die teologie het Olsen besluit om saam met English `n korter opsomming – hulle noem dit `n pocket edition – van die dikker boek uit te gee. Ook dié boekie is die moeite werd om te lees. Ek dink dit is `n goeie opsomming en gee die hooftrekke van die uitvoeriger boek goed weer. Vir iemand wat voel dat jy behoefte het om vinnig georienteer te word oor die breë lyne van die kerk- en teologiegeskiedenis is hierdie `n baie goeie lees.

bo

 

The History of Christian Thought – Jonathan Hill. IVP. 2003.

‘n Boek wat min of meer dieselfde verhaal vertel as die eerste boek van Olsen is die van Hill. Die verskil dit is nog meer populêr geskryf en kyk ook in besonder na die impak van die groot teoloë se denke op die kerk en selfs wyer op die lewe. Die uitgebreide subtitel van die boek is: “The fascinating story of the great Christian thinkers and how they helped shape the world as we know it today”.

Die boek is nie heeltemal so omvangryk as Olsen nie en verskil ook in die sin dat daar sterker gekonsentreer word op spesifieke denkers. Al die groot name is daar en nog `n paar ander. So bv kry John Henry Newman, die Britse Anglikaan wat in 1845 na die Katolieke Kerk oor is (`n ongewone ding vir die tyd) heelwat aandag.

Hill volg in sy besprekings die patroon dat hy eers aan die persone se lewe aandag gee en dan na hulle teologiese werk.

My indruk is dat Hill nie `n vakspesialis is nie en bewustelik meer populêr skryf. Ek het met die lees van die boek meer meermale aan Paul Johnson van History of the Modern World-faam gedink. Die soort aanpak het uiteraard nadele. Die besprekings is oorsigtelik en soms voel `n mens dat nie alles gesê is nie. Maar dit het ook voordele. Hill bespreek hierdie teoloë omdat hy dink dat hulle `n wesenlike bydrae tot Christelike denke gemaak het wat op `n manier tot vandag toe nog op die kerk impakteer. Hy doen moeite in sy besprekings om aan te toon waarom hy dink dat die belangrik is dat die kerk ook vandag nog sal onthou van die werk wat hierdie teoloë gedoen het.

bo

Learning Theology with the Church Fathers – Christopher Hall. IVP. 2002.

Soos die titel aandui probeer Hall nie soos die vorige twee skrywers om die hele geskiedenis van die Christendom te dek nie, maar fokus hy op die eerste vier, vyf eeue en kyk hy na die werk van die groot kerkvaders.

Hall is meer van `n vakteoloog en het saam met Olsen `n baie goeie inleiding op die Drie-eenheid geskryf. Die boek is deel van `n trilogie waarmee hy besig is. Die eerste deel het gegaan oor hoe die agt groot kerkvaders die Bybel gelees en uitgelê het. Hierdie volume oor die teologie van die kerkvaders is die tweede deel. Die derde deel sal handel oor hoe die kerkvaders gedink het oor gebed en spiritualiteit.

Die boek wil `n oorsig bied oor die groot teologiese vrae waarmee die kerk in die eerste eeue geworstel het en wys hoe die kerkvaders oor hierdie sake gedink het. Hoewel die boek `n goeie logiese vloei het, het ek nooit die gevoel gehad dat Hall skemas van buite of vrae van ons tyd op die era probeer af-forseer nie. Hy bespreek oa die volgende temas: die identiteit van Christus, die ontwikkeling van die Triniteitsleer, die debat oor Christus se godheid en mensheid, die Heilige Gees, die pelagiaanse stryd rondom sonde en genade, God se voorsienigheid, die Skrif en Openbaring, die kerk en die ewige lewe.

By elkeen van die temas sal hy die debat soos wat dit geloop het probeer volg; die bydraes van verskillende teoloë bespreek – sonder om te probeer om alle vrae volledig te antwoord.

`n Baie goeie inleiding op die teologie van die groot doktors van die kerk.

bo


Introducing Early Christianity: a topical survey of its Life, Beliefs and Practices – Laurie Guy. IVP. 2004.

Laurie Guy se boek handel ook oor die geskiedenis en werk van die Vroeë Kerk. Hy fokus op die eerste vier en `n half eeue – spesifiek tot 451 nC, die konsilie van Chalcedon. Kort daarna het `n totaal nuwe fase in die lewe van die kerk aangebreek.

Soos die subtitel van die boek aandui gee Guy vir ons `n bietjie meer as net `n weergawe van die teologiese denke van die Vroeë Kerk. Hy wil ook kyk na die sosiale lewe en die gemeentepraktyke van daardie tyd. Vir iemand wat geïnteresseerd is in gemeentes is hierdie `n goeie boek om te lees.

Die fokus is van meet af nie net op die Vaders en hulle teologie nie, maar ook op hulle gemeentes en op wat hulle in die gemeentes gedoen het. Daar word aandag gegee aan wat ons weet van hulle bediening en erediensgebruike en hoe hulle verhouding met die omgewing en die staat van hulle tyd Daar is aparte hoofstukke oor bediening en gemeentestruktuur, oor liturgie, oor die dooppraktyke, oor die rol van vroue en oor askese en die opkoms van die kloosters.

bo

 

The Mosaic of Christian Belief: Twenty Centuries of Unity and Diversity – Roger Olsen. IVP. 2002.

Olsen het `n derde boek geskryf waarin hy nie kronologies nie maar tematies met die kerk en teologie-geskiedenis probeer omgaan. Hy werk in die boek met vyftien temas – die groot temas van die Christelike geloof waaronder Openbaring, Skrif, Godsleer, Skepping, Voorsienigheid, Christus, Verlossing, Kerk en Koninkryk.

Die skema wat hy gebruik (vgl die subtitel) is die van eenheid (dit waaroor die kerke saamstem) en verskeidenheid (dit waaroor die groepe met mekaar verskil). In die inleiding van die boek praat hy van die behoefte aan `n both-and-teologie. Hoewel hy self `n evangelikaal is, wil hy inklusief wees en soveel as moontlik van ander gelowiges probeer akkommodeer en leer.

Die patroon wat hy telkens in die hoofstukke gebruik is dat hy kyk na groot konsensuspunte tussen die teoloë en tradisies, dan aandag gee aan wat hy noem alternatiewe standpunte (dit verteenwoordig gewoonlik ernstige dwalings), en daarna kom hy by diverse standpunte wat nie noodwendig uitsluitend van mekaar is nie (hier kom die both-and ter sprake). In `n laaste punt probeer hy wys hoe die diverse standpunte versoen kan word of ten minste aanvullend kan funksioneer.

Hoewel die gedagte goed, is die uitvoering daarvan tog heelwat ingewikkelder as wat `n mens sou dink. In sommige hoofstukke kom Olsen nie sleg uit die sop nie en is sy verklarings interessant en van waarde. In ander hoofstukke is dit moeiliker. Dieselfde temas het in die geskiedenis dikwels binne verskillende debatte aan die orde gekom en dit is nie eenvoudig om die insette met mekaar te vergelyk nie. Dit kom dan soms geforseerd oor en die opmerkings raak te oorsigtelik of algemeen.

bo

 

The First Christian Theologians: an introduction to theology in the Early Church – G R Evans (red). Blackwell. 2004.

Evans se boek - `n Blackwell-publikasie – is baie meer wetenskaplike en tegnies van aard. Dit fokus op die eerste vyf eeue en werk beide tematies en kronologies. Sy het altesaam 15 medewerkers gebruik om die 22 hoofstukke te skryf.

In die eerste twee dele word gefokus op die Bybel en op die kerk onderskeidelik. In die volgende twee dele word aandag gegee aan die gesprek van die kerk met die Jodedom (Deel III) en die gesprek met die sekulêre filosofie van die tyd (Deel IV). In hierdie twee dele word die verhaal vertel aan die hand van spesifieke teoloë se stories. Hulle vertel die verhale van Justinus Martyr, Irenaues, Clemens Alexandrinus, Origenes en Tertullianus.

Die vyfde deel se opskrif is “The Maturing Early Christian Theologians in East and West”. Hier vertel hulle die verhale van Athanasius, die Kappadosiërs, Pseido-Dionysius en Maximus die Konfessor, Ambrosius, Hiëronimus, Augustinus en die Chalcedon-verhaal met verwysing na Eutichus en Nestorius

Dit is `n uitstekende boek wat, gegewe die feit dat dit soliede, wetenskaplike teologie wil skryf, tog ook baie leesbaar en verstaanbaar is.

bo

 

The Westminster Handbook to Patristic Theology – John Anthony McGuckin. WJK. 2004

Hierdie publikasie is deel van Westminster John Knox se reeks Handboeke by die Christelike Teologie. Dit is geskryf deur `n baie gerespekteerde priester uit die Ortodokse kerk, John Anthony McGuckin. Hy is `n Brit wat tans klasgee in New York by Union Theological Seminary en Columbia Universiteit.

Die opset van die boek is anders as al die ander in die sin dat dit `n naslaanbron is, gerangskik is op die patroon van `n alfabetiese ensiklopedie. Dit bevat heelwat meer inskrywings as al die ander boeke, maar die stukke is veel korter en saakliker. Dit is `n baie goeie aanvullend bron om saam met die ander te gebruik omdat dit baie toeganklik is en `n mens vinnig oriënteer ten opsigte van die onderwerp of persoon waaroor jy informasie soek.

bo