|

Van die bekendste en aangrypendste Bybelverhale is die
roepingsverhale – dink maar aan Abraham en Moses, aan Paulus en
die ander dissipels. Die Bybel is op 'n manier eintlik 'n roepingsboek:
Dit vertel die groot verhaal van hoe die Here in die Ou Testament eers
vir Israel en in die Nuwe Testament die hele kerk roep om Hom te help
met die uitwerking van sy verlossingsplan. Die roeping van enkelinge en
groepe, en wat hulle met hulle roeping maak, is die verhaal van die Bybel
vertel.
Roeping gaan daaroor dat 'n mens jou lewe met die Here so ernstig opneem
dat jy glo Hy weet van jou en het 'n plan en 'n wil vir jou lewe.
As ons werklik ons roeping wil hoor en ons lewe as 'n roepingsantwoord
voor die Here wil leef, behoort ons voortdurend met drie lewensvrae besig
te wees:
1. Wie is God en hoe kan ek in 'n sinvolle verhouding met Hom leef?
2. Wie is ek presies en wat moet ek met my lewe doen?
3. Waaroor gaan die lewe daar buite en hoe kan ek 'n sinvolle bydrae maak?
Ons kan dié drie nie skei nie: Dit is eenvoudig onmoontlik om
onsself te begryp as ons vergeet dat ons in God geanker is en hoe ons
op die lewe gerig is; dit is eenvoudig onmoontlik om die lewe te verstaan
sonder om God of ons betrokkenheid daarby in ag te neem; en ons sal die
God van die Bybel nooit reg begryp as ons nie onthou Hy het ons lief en
stuur ons na die wêreld nie.
'n Mens se roeping lê vir die skrywer op 'n kruispunt waar hierdie
drie prosesse of lyne mekaar ontmoet. Maar dit is 'n diep bewustheid van
die Here se teenwoordigheid en werk uiteindelik al die verskil maak. Dìt
is wat al drie lyne saamweef, en aan die saak van roeping 'n unieke karakter
gee. Dìt is wat 'n opdrag wat moeilik en soms onmoontlik lyk, in
'n genadevoorreg en geleentheid omskep; 'n wet in 'n wondergawe van die
evangelie. Dìt is wat maak dat mense vir die Here dankie sê
vir die werk wat Hy ons vra om te doen.
bo

“Dit verseker Ek julle:
Vir sover julle dit aan een van die geringste
Van hierdie broers [of susters] van My gedoen het,
Het julle dit aan My gedoen.“
In Matteus 25:31-46 verduidelik Christus dat ons optrede teenoor mense
in nood 'n betroubare barometer is van ons geloof en en liefde vir Hom.
Liefdeswerke is nie 'n tweede saak ná geloof nie, maar die logiese
uitvloeisel van ware geloof.
Gemeentes wat “werk“in nie noodwendig suksesvol volgens wêreldse
maatstawwe nie; hulle lewer wel 'n bydrae op kritieke lewensterreine.
“Werk“in die titel van hierdie boek het 'n dubbele betekenis:
Ons bedoel daarmee eerstens konkrete liefdesdade. Tweedens gaan dit oor
getrouheid aan ons roeping – “werk“in die sin van “dit
wat slaag“.
Die Skrywers is 'n span met ervaring van of kundigheid oor elk van die
ses lewensterreine wat hier onder die loep kom. Die menings wat weergegee
word, kom dus vanuit verskillende perspektiewe. Ons het hierdie verskeidenheid
nie met mekaar geharmonieer nie, want enersyds weerspieël dit die
realiteit in die kerklike geledere en andersyds bied dit 'n geleentheid
vir toetsing en verryking van 'n mens se eie standpunte. Die hoofstukke
word afgesluit met kort, ware verhale van gelowiges wat 'n verskil maak,
meestal oorvertel in hulle eie woorde.
Deur samewerking met mekaar en met ander organisasies kan gemeentes die
nodige verandering help teweegbring om ons land 'n ware tuiste te maak
vir al die inwoners daarvan. Dit is in die lig van hierdie uitdaging dat
ons die boek saamgestel het.
~ Coenie Burger, Lieze Meiring, André van Niekerk en Cas Wepener
~
bo
|