English

 

 
Ansie Lombaard
On the human side... of illness and research

Hierdie kwalitatiewe studie is gebaseer op ‘n in-diepte ondersoek gerig op die subjektiewe – die onteenseglik menslike – ervaring van diegene wat ly aan Myaligië Enkefalomiëlitis (ME). Ek was, eerstens, geïnteresseerd in die aard en betekenis van die sosiale dimensie van siekte, dit wil sê, die lyer se ervaring van sosiale kontak met dokters, gesinslede, vriende en kennisse. Ek was, tweedens, gerig op die ontwikkeling van ‘n grondige insig in die uiters persoonlike ervaring van siek-wees. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat, selfs te midde van die onmenslike teenwoordigheid van blatante onkunde wat die ganse ervaring van ME kenmerk, geen ME lyer noodwendig tot ‘n slagoffer-status gedoem is nie. Hulle kan altyd ‘n doelbewuste besluit neem om ‘n sê te hê in hul eie situasie, in hul eie ervaring van hul omstandighede. Hulle het die mag van persoonlike keuse. Aanbevelings is dus daarop gerig om die potentiële trefwydte en impak van hierdie dinamiese mag uit te brei.

Die substantiewe dimensie van my studie is verryk deur ‘n doelbewuste fokus op die metodologiese implikasies van my eie intieme betrokkenheid in die navorsingsproses. Ek was hoofsaaklik gemoeid met my persoonlike bydrae tot die navorsingsproses en die invloed daarvan op die ontwikkel van navorsingsverhoudings en die toepassing van gekose navorsingstrategieë. Hierdie fokus het gelei tot die besef dat die beskrywing wat ek aanbied, soos inderdaad alle sosiale teorie, essensieël ‘n menslike konstruksie is, soos ontwikkel deur my, in my uitdruklik menslike kapasiteit. Aanbevelings is dus daarop gerig om alle sosiale navorsers te sensitiseer ten opsigte van hul eie bydrae tot die konstruksie van dit wat uiteindelik voorgestel (en geag) word as die waarheidsgetroue kennis.

In slotsom, is ek oortuig dat die ervaring van beide siekte en navorsing fundamenteel menslik is. Hierdie “mensheid” kan en behoort nie ontken te word nie. Inteendeel, ek bepleit ‘n doelbewuste fokus op die menslike dimensie van siekte en navorsing. Sonder só ‘n fokus sal ‘n meer diepgaande begrip van iedere area bloot ‘n onbereikbare ideaal bly.

Terug na bo

 

© SENWET
Alle Regte Voorbehou