English

 
George Tsibani
A literature review of the Water Services education and training needs of councillors in local authorities within the context of developmental local government agenda with special reference to the Northern Cape Province

Hierdie studie beskryf en ontleed die behoefte aan onderwys en opleiding (E&T) by raadslede in plaaslike owerhede in die Noord-Kaap, om hul moeilike taak te kan verrig in 'n veranderende beleidsomgewing in Suid Afrika. Die studie besin daaroor dat daar waarskynlik gedurende die oorgangstydperk vanaf 1994 tot 2003 en ook daarna, 'n tekort aan bevoedgheid om hul funksies te vervul, by heelwat plaaslike owerhede in die Noord-Kaap bestaan. Dit is deels 'n gevolg daarvan dat nuwe verantwoordelikhede op die skouers van die rolspelers en raadslede in plaaslike owerhede geplaas word. Die nuwe rol van raadslede word herdefinieer vanaf verteenwoordiging na verantwoording en optrede; "from resemblance to responsibility and responsiveness" (Sartori 1968: 465).

Vier belangrike areas waar onderwys- en opleidingsbehoeftes ten opsigte van die leierskapsprofiel van Raadslede bestaan, is op grond van ‘n literatuur-oorsig geïdentifiseer:
· die belangrikheid daarvan om beleid- en besigheidsaspekte van die lewering van waterdienste te verstaan teen die agtergrond van desentralisering en stelselmatige afwenteling van magte en funksies na die plaaslike owerheidsvlak;
· die behoefte wat bestaan aan bestuurs- en beplanningsvaardighede met betrekking tot waterdienste en water-ekonomiese aspekte;
· ‘n begrip van die rol van die plaaslike gemeenskap in beplanning en uitvoer van ontwikkelingsprojekte vir die lewering van waterdienste;
· konflikhanteringsvaardighede.

Na aanleiding van die getuienis uit hierdie literatuurstudie word dit duidelik dat die heersende reaksie- en besluitnemingstyle van Plaaslike Owerheid (LG) wat spruit uit beginsels van organisasie ontwerp (OD) wat dateer uit die vorige eeu en die staatsdienservaring en -denke van daardie era, nie die komplekse veranderlikes van die nuwe Plaaslike Owerheid Ontwikkelingsagenda (LGDA) kan verduidelik of aanspreek nie, en dus nie geskik is om 'n dreigende krisis in die Noordkaap te af te weer nie.

Om waterdienste in die toekoms as 'n voertuig vir die opheffing van agtergeblewe gemeenskappe te kan gebruik, veral op plaaslike owerheidsvlak, is dit belangrik dat huidige en toekomstige raadslede deur middel van effektiewe onderwys - en opleidingstrategieë toegerus word met water-ekonomie kennis en vaardighede. Sodoende sal hulle die komplekse uitdagings wat aan hulle gestel word, die hoof kan bied. 'n Aksie-gerigte strategie gefundeer op 'n uitkomsgebaseerde (OBE) kurrikulum, word voorgestel as plaasvervanger vir die huidige tradisionele onderwysbenadering in die Noord-Kaap. Dit is duidelik uit die outeur se interpretasie en ontleding van LGDA veranderlikes, dat die geïdentifiseerde onderwys- en opleidings behoeftes en gapings 'n heeltemal nuwe benadering vereis. Dié benadering behels 'n deurdagte heroriëntering tot opleidingsprogramme vir raadslede in plaaslike owerhede (LG) in die Noord-Kaap. Die studie dra by tot die sosiologie van plaaslike owerheidstudie, en wys op die vaardighede, vermoëns en innovasie-eienskappe van raadslede wat benodig word om die kompleksiteit van LGDA en die uitdagings in plaaslike owerhede aan te spreek.

Ten slotte is die studie nie bedoel om volledig te wees nie maar om wel 'n bydrae te lewer tot die onderwys- en opleidingsinisiatiewe wat voortspruit uit die aksies van belanghebbendes in die water sektor in ooreenstemming met die Wet op Vaardigheidsontwikkeling (1998) en SAKWA (1995).

Terug na bo

 

© SENWET
Alle Regte Voorbehou