Gloria McLean-Anderson
A
critical evaluation of the research experiences of master and doctoral
students at Technikon Natal
Globale tendense in die produksie en disseminasie
van kennis blyk wêreldwyd ’n invloed op wetenskapsbeleid
te hê en noodsaak universiteite (en ook technikons in Suid-Afrika)
om ’n groter markgerigtheid, mededingendheid en ondernemingsgees
te openbaar. Hierdie globale tendense behels, onder andere, ’n
verskuiwing na nuwe modi van kennisproduksie, sowel as ’n toename
in finansiële en akademiese verantwoordbaarheid, en afstandsonderrig.
Suid-Afrikaanse tersiêre instellings kan hierdie wêreldwye
veranderinge in die landskap van hoër onderwys moeilik ontsnap.
Daarbenewens het die demokratiese regering, wat in 1994 aan bewind
gekom het, dit ten doel gestel om hoër onderwys in die land te
transformeer. In 1997 het die eerste veranderinge ingetree met die
publikasie van die Witskrif op Onderwys, en dit is in 2001 opgevolg
met die totstandkoming van die Raad op Hoër Onderwys (CHE), die
Hoër Onderwyskwaliteitskomitee (HEQC), en die Nasionale Plan
vir Hoër Onderwys. Gevolglik het dit nodig geword dat hoër
onderwysinstellings oorleg pleeg rakende die toekomstige verloop van
voorgraadse en nagraadse onderrig- en opleidingsprogramme. Binne hierdie
konteks is dit nodig vir universiteite en technikons om begrip te
hê vir die behoeftes van hul nagraadse studente.
Die oorhoofse doel van hierdie studie was om die persepsies
te identifiseer van nagraadse studente aan die eertydse Technikon
Natal (nou deel van die Durban Instituut vir Tegnologie). Die fokus
was op studente se navorsingservarings met betrekking tot supervisie,
kommunikasie, die technikon in die algemeen, die beskikbaarheid van
hulpbronne, finansies, tyd, departemente, fakulteite, navorsingsmetodologie,
statistiek, biblioteekfasiliteite en kundigheid. Studente wat in 2001
aan die Technikon Natal geregistreer was, is by die ondersoek betrek,
ongeag of die student ’n navorsingsvoorstel ingedien het of
nie. ’n Posvraelys-opname is gebruik.
Die resultate van die opname toon die meerderheid
nagraadse studente het ’n negatiewe persepsie van die Technikon.
Die studente voel daar is nie genoeg ervare studieleiers om te raadpleeg
nie, en dit lei tot onnodige vertragings. Wat kommunikasie betref,
voel die studente dat die Technikon nie genoeg inligting omtrent nagraadse
prosesse en prosedures versprei nie. In geheel gesien, het studente
in die Gesondheidswetenskappe ’n veel groter ontevredenheid
uitgespreek as studente in ander fakulteite. In die ander fakulteite
was ’n geringe persentasie studente meer positief as negatief
omtrent hul nagraadse ervaring. ’n Redelike persentasie studente
in die Natuur- en Ingenieurswetenskappe (38%) was egter besluiteloos
in hul opinie. Verder het die oop vrae aan die einde van die vraelys,
wat kommentaar versoek, veel meer negatiewe as positiewe persepsies
ontlok. Die studente is ontevrede met die gebrek aan moderne rekenaarfasiliteite
en beskikbare fondse. Hul voel dat dit te lank neem om ’n navorsingsvoorstel
goedgekeur te kry. Die meerderheid is van mening dat ’n nagraadse
informasiepakket van groot waarde sou wees. Die kommentaar omtrent
Navorsingsmetodologie as ’n vak is besonder negatief, veral
wat statistiek betref, en hulle voel die kursus is te algemeen. Die
studente blyk nie ernstige probleme met biblioteekdienste te hê
nie.
Die technikon moet derhalwe strukture in plek stel
ten einde die negatiewe persepsies van die studente aan te spreek
en hul behoeftes doeltreffend te bestuur. Tesame met die impak van
die samesmelting (waarvan die effek nog nie ten volle begryp word
nie), moet die instelling ook ernstige oorweging skenk aan die behoeftes
van die nagraadse populasie, veral in die Fakulteit van Gesondheid.
Terug
na bo