English

 
Rethabile Maluke
Science and technology policies and structures in Southern Africa: a discussion of the concept of national system of innovation with reference to Malawi, Namibia and South Africa.

Die koppelvlak tussen wetenskap en tegnologie en die gemeenskap het gelei tot die siening van wetenskap as 'n sosiale kontrak waarin wetenskaplikes, politici en die algemene publiek versoek word om te erken dat dit nodig geword het om alle vertakkinge van wetenskap en tegnologie aan te wend om menslike nood te verlig. Wetenskap en tegnologie word gebruik as 'n instrument om verandering teweeg te bring ter bevordering van 'n beter kwaliteit lewe en volhoubare ontwikkeling vir die huidige en toekomstige generasies. Die doel van 'n wetenskap en tegnologiebeleid is om spesifieke ontwikkelingsdoelstellings te verwesenlik. Dit is dus noodsaaklik dat hierdie beleid in ooreenstemming met die nasionale onwikkelingsstrategieë ontwerp moet word. Dit is ook belangrik om wetenskap en tegnologiestrukture in plek te stel wat die effektiewe funksionering van die sisteem kan vergemaklik.

Mededingbaarheid is een van die grootste uitdagings wat Suider Afrika tans in die gesig staar. Met globalisering en die uitbreiding van wêreldhandel het dit moeiliker geword vir Suider Afrikaanse ondernemings om in pas te bly met tegnologiese ontwikkeling. In die lig van hierdie uitdagings stuur die meeste lande in die rigting van 'n Nasionale Sisteem vir Innovasie (NSI) om interaksie tussen beleid, navorsing en ontwikkeling , menslike hulpbronontwikkeling en industriële ontwikkeling aan te moedig.

Wat aanleiding gegee het tot hierdie studie is die wetenskap en tegnologieprobleme wat algemeen voorkom in die lande in Suider Afrikaanse, naamlik onvoldoende koördinasie meganismes, swak wetenskap en tegnologie-infrastruktuur en 'n gebrek aan fondse.

'n Kwalitatiewe navorsingsontwerp is gevolg waarin analise van die inhoud van dokumente as navorsingsmetode gebruik is. Die studie verskaf agtergrond-inligting oor die teoretiese raamwerk van die NSI konsep. Gepubliseerde dokumente is gebruik om inligting te verskaf oor die drie lande wat as gevallestudies dien, naamlik Malawi, Namibië en Suid-Afrika. Die hooffokus van die gevallestudies is soos volg: 'n raamwerk van die beleidsdoelstellings van elk van die drie lande, die konsep NSI soos toegepas deur elkeen en die wetenskap en tegnologiestrukture in elk van die betrokke lande.

Die studie het swak koördinasie van wetenskap en tegnologie-aktiwiteite as die sleutelprobleem van aldrie lande geïdentifiseer. Die strukture verskil effens van mekaar en veral die plasing van die wetenskap en tegnologiebestuur bepaal die effektiwiteit van die stelsel. Die Suid Afrikaanse NSI is goed gevestig omdat sy netwerk versterk word deur die Nasionale Adviesraad vir Innovasie en die Nasionale Navorsing- en Ontwikkelingstrategie. Volgende is Namibië wat ‘n sisteem in plek het, terwyl Malawi nog maar in die beginstadium is van die daarstelling van hul NSI.

Terug na bo

 

© SENWET
Alle Regte Voorbehou