Die Matie is sedert 1941 die Universiteit van Stellenbosch se amptelike studentekoerant. Die afgelope halfeeu het dié tweeweeklikse koerant gereeld opspraakwekkende politieke uitsprake gemaak. Die politiek van Die Matie het telkens die politiek van wit Suid-Afrika geword, voer Willem Kempen (gewese redakteur van Die Matie) aan.
Dink rewolusionêr - leef gevaarlik!" Dié woorde van Oswald Pirow, tydens n vergadering van die Afrikaans-Nasionale Studentebond (ANS) in 1943, was veral bedoel as n wegwyser vir Die Matie, wat van 1941 tot 1946 die ANS se mondstuk op Stellenbosch was.
Hoewel Die Matie ná 1946 nie meer deur die ANS uitgegee is nie, het daar altyd iets van dié rewolusionêre gees in die koerant behoue gebly. As resultaat was Die Matie dikwels sy tyd vooruit, en ewe dikwels daarvoor in die moeilikheid.
Die Matie was sedert sy ontstaan n platform vir idees, iets waarvan daar op Stellenbosch nooit n tekort was nie. Die Universiteit van Stellenbosch (US) het nie net D.F. Malan, H.F. Verwoerd en B.J. Vorster aan Suid-Afrika gegee nie, maar ook n magdom ander leiers, wat op feitlik elke terrein van die Suid-Afrikaanse samelewing hul merk gelaat het. En, as hul politieke menings op Stellenbosch gevorm is, dan het Die Matie n groot aandeel daarin gehad.
In 1941 is Die Matie gekritiseer vir sy openlike steun aan die Ossewabrandwag (OB) en Nazi-Duitsland - in 1990 vir sy simpatie met die ANC... In dié bykans vyftig jaar was Die Matie déél van die evolusie van wit Afrikaanse politieke denke.
Die Matie se eerste uitgawe, op 1 Augustus 1941, dra onder andere boodskappe van verwelkoming van D.F. Malan, destyds kanselier van die universiteit, die rektor, R.W. Wilcocks, en die erepresident van die ANS, Hans van Rensburg, wat ook "kommandant-generaal" van die OB was.
Die Matie van dié tyd het hom beywer vir die standpunte van die ANS, waaronder "algehele segregasie op sosiale gebied, gedeeltelike woonbuurt-segregasie op die platteland, en volkome woonbuurt-segregasie in die stedelike gebiede."
Die ANS het ook besluit om "as n eenheid op te tree om die liberalistiese, negrofilistiese standpunt van die Nusas-studente van die Universiteit van die Witwatersrand... tot die uiterste te beveg." Dit was in reaksie op n besluit om swart studente van Fort Hare tot Nusas toe te laat.
In 1942 word die eerste "monstervergadering" (n massa-vergadering van Stellenbosse studente) teen Die Matie georganiseer, omdat die koerant na D.F. Malan verwys as iemand "wat met veldmaarskalk Smuts wedywer om die posisie van Openbare Vyand No. 1 van die OB". n Mosie om Die Matie te verban is aanvaar, maar deur die rektor se bemiddeling verskyn die koerant steeds.
Skynbaar aangevuur deur die kritiek, gaan Die Matie voort om ANS-beleid amper op militante wyse te verkondig. Die redaksie is vir die volle duur van die Tweede Wêreldoorlog uiters krities van die Geallieerde oorlogspoging, en spreek uiteindelik, in die uitgawe van 25 Oktober 1946, hulle "absolute walging" uit in die terdoodveroordeling van Nazi-leiers by die Neurenberg-verhore.
Dié soort politiek was egter ongewild onder Stellenbosse studente. In 1946 loods die Nasionale Jeugbond die Werda as n teenvoeter vir Die Matie, maar albei publikasies word gou gedwing om te staak.
Op 9 Oktober 1947 verskyn Die Matie weer, hierdie keer onder die Studenteraad (SR) se beskerming. Hoewel die koerant tot in 1987 die woorde "Onder beskerming van die Studenteraad" op sy mashoof gedra het, was dit van meet af onafhanklik van die SR, en het nooit geskroom om hom te kritiseer nie.
In die vyftigerjare was die Stellenbosse SR nog geaffilieer aan die Afrikaanse Studentebond (ASB). Die ASB was bedoel om as n "Afrikaanse kulturele strydorganisasie" op te tree, en die seksionele belange van Christelik-Nasionale Afrikaanse studente te bevorder. Dit was egter ook n inter-universitêre verteenwoordigende organisasie, as Afrikaanse teenvoeter vir die "liberale, Engelse Nusas" (National Union of South African Students).
Die Matie het gereeld verwys na dié dubbele rol wat die ASB probeer speel, en het so vroeg as 1959 Stellenbosch se bedanking uit die ASB bepleit. Die SR sou egter eers nege jaar later, in 1968, tot dié stap oorgaan.
So vroeg as 1949 waarsku Die Matie in n hoofartikel teen sekere tendense by dié jaar se ASB-kongres, wat "apartheid" as onderwerp gehad het: "Dit is egter jammer dat daar nie iets oor die huidige oorgangstadium gesê is nie. Is dit dan nie juis ons moeilikheid nie? Wat staan ons te doen solank die naturelle en nie-blanke studente nog nie n heenkome het nie?"
Die redakteur, Jan le Roux, het miskien nie besef hóé profeties sy verdere woorde sou wees nie: "Vir elkeen wat sy gedagte maar wil laat gaan oor die fabelagtige onkoste wat apartheid gaan meebring, sal dit duidelik wees dat so n addisionele onkoste... onsinnig is."
Die Matie het homself egter in dié tyd allesbehalwe as "liberaal" geag. Die vyftigerjare is toenemend gekenmerk deur n tydperk van ideologiese "vestiging", waarin die "godgegewe" aard van apartheid dikwels beklemtoon is, die "kommunistiese bedreiging" uitgewys is en enige kritiek teen apartheid met groot agterdog bejeën is. Die Christelik-Nasionale ideaal is bo alles gestel.
Tog het Die Matie in die vroeë vyftigerjare dikwels gewys op die noodsaaklikheid van "kontak" met nie-witmense, veral "by wyse van konferensies". Dié standpunt, wat ook gereeld deur die Stellenbosse SR by ASB-kongresse gestel is, is egter eers in 1956 deur die ASB aanvaar.
Ondanks die Sharpeville-verwante gebeure van 1960, volhard Die Matie met sy betoog om kontak met nie-wit groepe. In 1961 spreek dié jaar se redakteur, Bernard Louw, hom egter steeds sterk uit teen Varsity, die studentekoerant van die Universiteit van Kaapstad, se opeenvolgende aanvalle op regeringsbeleid. Hy verwerp hierdie soort berriggewing as "negatief en sonder meer afbrekend".
In dieselfde jaar word n anonieme "vlugskrif" met die naam Pro Libertate op die Stellenbosse kampus versprei. Die Matie reageer hewig op wat hy "n pleidooi om integrasie" noem. J.P. Bruwer, n destydse hoogleraar in Volkekunde, noem Pro Libertate n "skakel in n fyn uitgewerkte plan, wat tot sy uiteindelike doelstelling het om die huidige regering omver te werp", en hy word prominent op die voorblad aangehaal. Pro Libertate het volgens dieselfde berig vele vrae laat opduik en "by baie n onsekerheid geskep, omdat die stellings alles baie aanneemlik en christelik (sic) lyk. Studente wat hieroor nie goed ingelig is nie, is deur die oënskynlike welmenendheid en eerlikheid van hulle voete gegooi, sodat hulle nie geweet het wat om te glo en wat om te laat nie." Die Matie begroet n tweede uitgawe van Pro Libertate met ewe veel venyn.
Die tydsgees van die vroeë 1960s op Stellenbosch word dalk goed opgesom deur die redakteur van 1964, Andreas van Wyk (die huidige rektor van die US). Hy skryf op 17 April van dié jaar in n hoofartikel, "... baie Afrikaanse studente meen dat dít waarvoor so lank gestry is, verwerf is... Baie van ons verkeer vandag onder die salige waan dat, soos Voltaire dit gestel het, alles op die oomblik vir die beste is in die beste moontlike wêreld."
In die volgende jaar, 1965, word Die Matie, toe onder redakteurskap van Frits Gaum (vandag redakteur van Die Kerkbode), tydens die SR-verkiesing daarvan beskuldig dat dit "ekstremisties konserwatief" is. Gaum antwoord in n hoofartikel en sê, "... as hieronder verstaan word dat Die Matie deurentyd n Christelike, n behoudende en n regse standpunt ingeneem het... dan staan ons graag pa. En daarmee saam hoop ons dat ons studentekoerant ook n aandeel gehad het in die uiteindelike verkiesingsuitslag."
In 1966 word n nuwe organisasie deur die Stellenbosse studenteraad erken: die Stellenbosse Aktuele Aangeleentheid Kring (Saak). Dié organisasie sou later saam met Die Matie die belangrikste verteenwoordigers van liberale waardes op die kampus word. Pas ná sy stigting rig Saak n uitnodiging aan Robert Kennedy, wat in daardie stadium op uitnodiging van Nusas in Suid-Afrika op besoek was, om n vergadering op Stellenbosch toe te spreek. Die SR dwing Saak egter om dié uitnodiging terug te trek, n stap wat tot n landwye polemiek lei. J. van Rooyen, wat in daardie stadium n mede-redakteur van Die Transvaler was, beskuldig die Stellenbosse SR en die ASB van "frontvorming" en van "massadenke". Verskeie briefskrywers in Die Matie dui ook hul ontevredenheid aan met n studenteraad wat "namens ons wil dink".
Midde-in die bohaai oor Kennedy se besoek, tref n ander terugslag die wit Afrikanerpolitiek - die sluipmoord op H.F. Verwoerd. Die Matie staan n groot deel van sy uitgawe van 9 September 1966 af aan dié gebeure.
In die tydperk tussen Verwoerd se dood en die Kennedy-gebeure van 1966, asook Stellenbosch se bedanking uit die ASB in 1968, het n nuwe gees skynbaar op die Stellenbosse kampus posgevat. Hierdie gees is ook duidelik te bespeur in Die Matie.
Op 5 Mei 1967 gee Die Matie taamlike prominensie aan n toespraak deur Hermann Giliomee, in daardie stadium n dosent in geskiedenis aan die US. "Die Afrikanerstudent is n konformis - leef in situasie van vrees," lui die opskrif.
Twee weke later plaas Die Matie vir die eerste keer in sy bestaan n artikel oor vroueregte. Die artikel is boonop ietwat sarkasties oor Stellenbosse mans se onvermoë om die "emansipasie van die vrou" te aanvaar: "Maties hou daarvan dat meisies slim moet wees, maar nie té slim nie; en sy moet dit bo alles tog nooit toon nie. Wanneer sy dit doen, word dit n bedreiging vir manlike meerderwaardigheid."
In 1968 waag ene "L.E.S." (dié naam was waarskynlik toevallig) dit selfs om in Die Matie se rubriek "Perspektiewe en Dinge" te sê: "As ek nog iets van ASB of Christelike Nasionalisme moet hoor, sal ek sowaar aan die skree gaan." en "Drie hoeras vir Saak, wat die voorbeeld van UK (Universiteit van Kaapstad) gevolg het en aan ons so n kontroversiële onderwerp soos homoseksualisme gegee het om te bespreek."
Al was 1967 en 1968 jare waarin daar weer lewe gekom het in Stellenbosch se kampuspolitiek, was dit niks in vergelyking met wat op ander kampusse in die wêreld aan die gebeur was nie.
Die Matie rapporteer op 24 Mei 1968 dat studente-opstande in dié jaar kampusse in Frankryk, Spanje, Wes-Duitsland, Pole, Egipte en Chile geruk het. Volgens Die Matie is dit ontstellend "dat andersins verantwoordelike jong mense daartoe gedryf voel om te glo dat 'sinlose geweld' die enigste moontlike vorm van protes is wat vir hulle oorbly".
"Op daardie stadium was daar binne die Ruiterwag-kringe n sterk betoog; omdat hulle Die Matie as te krities beskou het vir n eie studenteblad." - Nico Smith, wat in 1968 nog n lid van die RW was, in n onderhoud met Die Matie in Maart 1983.
Die grootste "opstand" onder wit Afrikaanse studente in dieselfde jaar was die langverwagte bedanking van die Stellenbosse SR uit die ASB. In terme van Afrikaanse studentepolitiek was dit egter n uiters betekenisvolle stap. Hoewel dit in sommige kringe bestempel is as n aanduiding dat die US besig was om in n "liberale rigting" te neig, het Smith in 1983 beweer dat baie Stellenbosse Ruiterwag-lede die ASB as "te progressief" gesien het en meegewerk het om disaffiliasie te bewerkstellig (Die Ruiterwag is die sogenaamde "junior-Broederbond").
In 1971 reageer Die Matie baie gunstig op die pleidooi van die voorsitter van die destydse Kleurlingraad, Tom Schwartz, dat alle rassegroepe gelyke besoldiging vir gelyke werk moet ontvang. Schwartz was die eerste nie-wit spreker in die US se geskiedenis wat toegelaat is om n studentevergadering by te woon. Verskeie briewe verskyn in dié jaar waarin Die Matie gekritiseer word as n verkondiger van die "nuwe gees" wat op Stellenbosch sou posgevat het.
Die volgende "veldslag" in Die Matie se politieke geskiedenis is geveg tydens die studenteraadsverkiesing van 1973, waartydens beweringe van Broederbond- en Ruiterwag-betrokkenheid vir die eerste keer openlik die rondte gedoen het. Die Matie beweer dat ondervinding en bekwaamheid n mindere rol gespeel het en waarsku in n hoofartikel die SR moet nie in n "ruggraatlose napratery verval nie". Op die voorblad, onder die opskrif "Die Studente sê...", bespiegel Die Matie selfs dat Stellenbosch se "verligte era" van 1968-1973 tot n einde gekom het.
Eers in Augustus 1975 word die "verligte gees" weer sigbaar. In dié jaar verleen Die Matie groot prominensie aan n toespraak wat Johann Degenaar tydens n Saak-vergadering gehou het. In n voorblad-hoofberig, onder die opskrif "Afrikaner-Nasionalisme ontwikkel in Rassisme", waarsku Degenaar dat Afrikaner-volksnasionalisme besig was om in n rassistiese nasionalisme te ontaard.
Koos Bekker, redakteur in 1975, sê in n hoofartikel dat Stellenbosch die gevaar loop om n "Boschkollege" te word: "Die Suid-Afrikaanse politiek het egter intussen merkwaardig verander, terwyl die Maties platvoet bly staan het en tans geïgnoreer kan word."
"Die besluit dat bruin, swart en Indiërstudente voortaan onder bepaalde omstandighede aan die US toegelaat sal word, is wel geneem teen die agtergrond van ontwikkelinge in rasseverhoudings in Suid-Afrika die afgelope jare, maar is primêr akademies-opvoedkundig gemotiveerd." - Registrateur, R.P. Conradie, soos gerapporteer in Die Matie van 29 Julie 1977.
In 1977 begin die destydse Publikasiekomitee met wat Die Matie noem n "verskerpte aanslag" teen Engelstalige studentepublikasies. Volgens die Cape Times van 3 Augustus 1977 was daar op daardie stadium reeds 42 studentepublikasies in dié jaar verbied. Die meeste publikasies is ongewens verklaar onder Artikel 47(2) (e) van die Wet op Publikasies van 1974, wat beteken hulle was "skadelik vir die veiligheid van die staat, die algemene welsyn van vrede en goeie orde".
Die Matie was baie krities oor dié soort optrede, en noem dit "n daadwerklike poging om alle kanale wat aan studente gelaat is om n kritiese of indringende mening uit te spreek... te sluit".
Tog bly Die Matie ver weg van enigiets wat die koerant self onder die Publikasieraad se swaard sou laat beland.
In 1981 begin die debat om die volle oopstelling van die US in alle erns (voorheen is nie-wit studente slegs toegelaat indien hul betrokke kursusse nie aan enige van die "etniese universiteite" gedoseer is nie).
Die Matie spreek hom sterk uit ten gunste van volle oopstelling, en kritiseer ook die stigting van die Universiteit van Stellenbosch Militêre Eenheid (USME) as die "militarisering van die Universiteit".
In 1982 en 1983 publiseer Die Matie ook vir die eerste keer openlike aantygings van Ruiterwag-betrokkenheid op Afrikaanse kampusse. In n patroon wat homself later dikwels sou herhaal, word daar, kort ná die eerste van dié beweringe, pogings aangewend deur sommige SR-lede om Die Matie op te skort of die redaksie af te dank.
In dieselfde patroon word skynbare onbenullighede soos die koerant se "onvermoë om hoegenaamd ewewigtig verslag te doen, nuusdekking te gee en te rapporteer oor die breë spektrum van studente-aktiwiteite", soos n SR-mosie van 14 Maart 1983 dit gestel het.
Ondanks al dié pogings, het Die Matie van 1983 toenemend "opstandig" geword. In 1984 kritiseer die redakteur van dié jaar, Corinne Oosthuizen, die aanstelling van P.W. Botha as kanselier van die US as "te partypolities".
Die rektor, Mike de Vries, dank haar as redakteur af daaroor, maar sy word kort daarna weer in haar amp herstel nadat n landwye polemiek oor De Vries se optrede uitgebreek het.
Die volgende jaar publiseer Die Matie wéér n berig waarin verskeie Stellenbosse Ruiterwaglede by die naam genoem word en, n maand later, word n mosie teen die koerant by n monstervergadering bespreek. Die rede wat aangevoer word, is dat die koerant in sy beriggewing "nie die beeld van die Universiteit dien nie" - ná Die Matie se openbaarmaking van ontgroenings-wanpraktyke by die manskoshuis Wilgenhof.
Die monstervergadering verwerp egter die mosie van wantroue in Die Matie met 666 stemme teen 399.
Die jaar 1985 was waarskynlik die mees stormagtige jaar in die geskiedenis van die US en Die Matie. Die koerant het nie net Ruiterwaglede en doop-wanpraktyke ontbloot nie, maar het ook groot prominensie verleen aan Nusas en die United Democratic Front (UDF).
Dieselfde jaar sien ook die stigting van n Stellenbosse Nusas-tak, met die uittredende redakteur van Die Matie, Anton Steenkamp, wat as tussentydse voorsitter verkies word. Nusas word egter steeds nie as n amptelike vereniging op die kampus erken nie.
Een van die min voorvalle van potensiële geweldpleging op die Matie-kampus het ook in 1985 voorgekom, toe sowat 300 Maties, wat n vreedsame anti-apartheidsoptog op die kampus gehou het, met stokke en knuppels gedreig en met eiers bestook is.
Die Matie trek sterk te velde teen De Vries, wat in reaksie alle demonstrasies "van enige aard" op die kampus verbied, en vir sy toelating van n videospan van die Veiligheidspolisie om die optoggangers op band vas te lê.
"Al manier hoe blywende vrede in Suid-Afrika verseker kan word, is om tot n vergelyk met die UDF en die ANC te kom." - Riaan Smit in "Perspektiewe en Dinge", 25 April 1985.
In Oktober 1985 word die eerste inisiatief uit Matie-geledere geneem om die ANC Jeugliga in Lusaka te besoek. Die groep, wie se paspoorte deur die regering ingetrek is, het bestaan uit verskeie SR-lede, onder wie die voorsitter, Phillip Verster, die vorige redakteur van Die Matie, Anton Steenkamp, en die redakteur in daardie stadium, Eric le Grange.
Die beweging van 1985 het verdere momentum gekry in 1986, en die politieke gebeure van die dag word, anders as in 1960, deeglik in Die Matie en op die Stellenbosse kampus weerspieël.
Die Matie dra op Donderdag 15 Mei 1986 n banieropskrif op sy voorblad met die woorde: "Wettig die ANC". Die redakteur van Die Matie, Eric le Grange, was een van 20 Stellenbosse studenteleiers wat n ope brief onderteken aan P.W. Botha, Oliver Tambo en Mangosuthu Buthelezi, waarin hulle vra dat die ANC gewettig word en vreedsaam in Suid-Afrika moet opereer.
In 1987 en 1988 word die politieke debat op Stellenbosch gevoer rondom rassepolitiek, en spesifiek die oopstelling van universiteitskoshuise vir alle rasse.
In 1988 word die Stellenbosse voorsitter van Nusas, Mark Behr, tot die SR verkies. Die Matie dra dié nuus in nog n banieropskrif op sy voorblad.
Op 13 April kan Die Matie wel aankondig dat studente van die US die ANC in Zambië besoek het, nadat 18 Maties, onder leiding van Mark Behr, vir vyf dae in Lusaka die gas van Kenneth Kaunda was.
Die Matie begroet die nuus weereens met n voorblad-banieropskrif, en sê in n hoofartikel, "Die ANC is inherent deel van die Suid-Afrikaanse politiek en deel van die Suid-Afrikaanse toekoms".
In die polities verdeelde SR van 1989/1990 was die gemoedere ook gelaai teen Die Matie, wat deur teenkanters van gesprek met die ANC gesien is as een van die aanhitsers van die Lusaka-besoek.
Toe Tina du Toit, skrywer van "Perspektiewe en Dinge" in dié termyn, dus in April 1990, sê "die SR het nie knaters nie", dank die SR haar summier af.
Die koerant reageer skerp en sê in n hoofartikel dat "kontroversiële sosiale kritiek" soms te wagte moet wees in n omgewing waar op vryheid van spraak aanspraak gemaak word.
Op 10 Mei 1990 kom Die Matie uit met n voorblad wat sekerlik so dramaties is soos die Hitler-voorblad van 1946, onder die opskrif "ANC by Maties - Mbeki en Sachs vra vrede", plaas die koerant n reuse-foto van Thabo Mbeki, omring deur Matie-studenteleiers. Mbeki ontmoet selfs De Vries.
Die Matie spaar steeds nie die SR nie, en sê in dié uitgawe se hoofartikel: "Die SR was oor die afgelope paar maande eerder n remskoen aan die wa van politieke verandering... Die SR maak geen daadwerklike bydrae tot verandering nie, maar sluit hulself in die status quo op."
Die Matie het reeds in die 1980s begin om ook aandag te gee aan Nuwe Politiek: vroue- en gayregte het veral aandag geniet, en is steeds die soort kwessies waaraan die koerant in die 1990s aandag gee.
Die Matie het in die bykans 50 jaar sedert sy ontstaan die volle pad van wit Afrikaner-nasionalisme geloop; van die verkiesing van die NP in 1948, tot by F.W. de Klerk se toespraak in Februarie 1990. Die politiek van Die Matie was n tydsame volwassenheidswording, maar een wat selde bang was vir verandering.
Die unieke struktuur van n studentekoerant, wat redakteurs nie toelaat om vir té lank in die magstoel te sit nie, is een van die moontlike verklarings vir die kritiese kultuur wat in Die Matie bestaan het by tye toe sulke tipe denke afwesig was by soveel ander (wit-) Afrikaans-beheerde media.
Voeg daarby die jeugdige idealisme en voortvarendheid van studente wat (soos dit hoort) dink hulle weet alles, en is dit makliker om te verstaan waarom Die Matie al in 1949 gewys het op die gevare en kostes van apartheid; waarom hy al in 1975 gewys het op die gevare van konformistiese Afrikanerdenke en waarom hy in 1986 al gevra het vir die ontbanning van die ANC
[ Tuisblad ] [ Publikasies ] [ Inhoud / Index ] [ Publications ] [ Home Page ] |