previous page

Inhoud -SJI 1995- Index

next page


hoofartikel

Van Muldergate na Shellgate
- die atrofie van ondersoekende joernalistiek

Sed quis custodiet ipsos Custodes? (Wie sal waghou oor die wagte?) het die Romeinse digter Juvenal retories gevra. Tweeduisend jaar later, in 'n nuutgestigde demokrasie wat die wêreld verstom het vanweë sy relatiewe vreedsame vestiging, word dié vraag meer dikwels gevra. Marné Strydom ondersoek die toenemende afwesigheid van deeglike ondersoekende joernalisitek in Suid-Afrika en vind dat die mitologiese Argus slaap.

Argus, die gedierte met n honderd oë wat veronderstel is om nooit n uiltjie te knip nie, is deur Mercurius se stories aan die slaap gesus en loop die gevaar om sy kop te verloor indien hy nie vinnig wakker word nie.

Die media is n bastion van die demokrasie, met die vermoë om die magtigste politieke figure te laat tuimel, openbare belang te beskerm, te kritiseer, te debatteer, mense te laat dink en die reg om te krap om die waarheid bloot te lê. Dit loop egter ook die gevaar om die magtigste wapen - en slagoffer - te word in die politieke stryd om n land. Só ’n stryd berus op twee basiese strategieë wat aan die kiesers voorgehou en wat weerhou word (sensuur en propaganda). Suid-Afrikaanse politici het in die geskiedenis al van albei strategieë gebruik gemaak. Die propaganda-offensief wat seker die meeste opslae gemaak het en wat later bekend sou word as Muldergate, word beskou as Suid-Afrika se eie Watergate; die reperkussies was ingrypend en omvangryk.

Tussen 1977 en 1979 het die pers stelselmatig die Departement van Inligting se geheime propaganda-veldtog onthul wat gerig was om Suid-Afrika se apartheidsbeleid aan die res van die wêreld te verkoop. Miljoene rande is uit openbare fondse, sonder die parlement se toestemming, gebruik om die buitelandse, sowel as binnelandse media te beïnvloed en politici en ander meningvormers in die VSA, Europa en Afrika se vriendskap te koop. Maar geheime befondsing was net die punt van die ysberg. Die wanbesteding van hierdie miljoene deur indiwidue om hulle eie belang te bevorder het die regering tot in sy fondamente geruk. Soos in die geval van Watergate het die gekombineerde poging van die media en die juridiese gesag die skandaal en die toesmeerpoging oopgevlek.

"Muldergate," was volgens Allister Sparks in sy voorwoord tot Chris Day en Mervyn Rees se boek, Muldergate, "die storie waarin die twee magtigste instansies van demokrasie triomfeer en oorleef - die pers en die reg." Hy glo die mees betekenisvolle aspek van Muldergate moet op n eenvoudige vlak gesien word. "n Land waarin die pers sowel as die regstelsel n massiewe skandaal kon oopvlek en die magtigste politieke figure kon laat tuimel, het die hoop gebied om vreedsame veranderinge mee te bring."

Byna 17 jaar later het die "vreedsame veranderinge" hul verloop geneem: die wonderwerk het gebeur. Maar die woorde van die Romeinse digter eggo nog. Die wagte is dalk in ’n ander uniform, maar die bewakers se plig bly onveranderd.

"Muckrakers"

Aan die begin van die twintigste eeu het Amerikaners met n skok besef dat hul land nie so wonderlik was as wat hulle gedink het nie, alles net omdat n groep joernaliste korrupsie en ongerymdhede in die samelewing begin blootlê het. President Teddy Roosevelt het hierdie ondersoekende joernaliste "muckrakers" genoem, n naam wat vandag ongelukkig nog te veel negatief aan toegewyde verslaggewers deur n smalende publiek toegesnou word. Maar die tradisie van ondersoekende joernalistiek is te danke aan hul ywer en dryf om korrupsie tot in sy diepste kern uit te delf en op voorblaaie te verkondig.

In vergelyking met ander ontwikkelde lande, is ondersoekende joernalistiek in Suid-Afrika beperk. Volgens Martin Welz, redakteur van die ondersoekende maandblad, Noseweek, het koerante hul kritiese vermoë verloor. Die redes is prakties, filosofies en debatteerbaar, maar die slotsom: die beoefening van sonskynjoernalistiek is die grootste vyand van goeie, kritiese en dieptejoernalistiek. Anton Harber, redakteur van die Mail & Guardian, skryf die onvoldoende ondersoekende verslaggewing in Suid-Afrika toe aan die stand van die drukmedia. "Slegs n paar publikasies wend n poging aan om ondersoekende joernalistiek te beoefen, terwyl die opleiding in hierdie rigting onvoldoende is. n Gebrek aan ondervinding en vaardigheid speel n belangrike rol."

Ondervinding is n waardevolle bate wat kom met tyd, maar statistieke toon die gemiddelde ouderdom van verslaggewers het oor die afgelope paar jaar geweldig gedaal. Sommige koerante het jong rekrute met min ondervinding en vaardigheid wat onder groot druk tot twaalf stories n dag moet skryf. Boonop is hul salarisse nie kompeterend nie.

Mervyn Rees, die verslaggewer wat vir 14 maande ondersoek ingestel het na die bedrywighede van die Departement van Inligting voordat n woord gepubliseer is, skryf sy sukses toe aan die kultuur van verslaggewing by die Rand Daily Mail. "Ons moes spesialiste wees in ons veld. Die Mail het jou die geleentheid en tyd gegee om jou bronne op te bou en hul vertroue te wen." Só n kultuur word deesdae as n luukse eerder as n werkwyse beskou. Rees en medejoernalis Chris Day het later hul wedervaringe vertel in Muldergate, n werk wat soos n spanningsverhaal lees.

Welz sê groot getalle jong joernaliste word vinnig uitgebrand onder die geweldige werkslading en verlaat die bedryf binne n paar jaar. Sodoende verloor die bedryf kosbare ondervinding en vaardigheid.

Die era van televisie, wat oorheersend op vermaak gerig is, het verder ook lesers se behoeftes omvorm. Die publiek verkies dikwels vermaak wanneer hulle lees en publikasies stel dienooreenkomstig hul agendas vir beriggewing op. Die bestuur baseer publikasies dan eerder op vermaak as kritiek of debat om sodoende sirkulasie te verhoog. Groot koerante se sirkulasie is deesdae eerder afhanklik van kompetisies en krapkaarte as gehalte beriggewing. Hoë sirkulasiesyfers lyk dan aantrekliker vir adverteerders, wat weer lei tot hoër winste.

Die gebruik van kopie wat deur skakelbeamptes aan koerante gestuur word, lei tot n verdere vervlakking van beriggewing. Bedryfsjoernaliste pas kopie aan by die styl van die koerant en slaag gewoonlik daarin om persverklarings as berigte gepubliseer te kry. "Die insameling van nuus is dan eensydig, maar is meer winsgewend vir die koerant om spasie te vul," sê Welz.

Die rol van die pers is tweeledig en die funksie van informant en opvoeder kan nie geskei word nie. Harber meen die beste manier om die publiek te onderrig is deur hulle aan te moedig om te dink. Lesers behoort te eis dat die standaard van beriggewing verhoog word. Dalende sirkulasiesyfers by sekere koerante is waarskynlik die tekens van ’n publiek wat besef dat deeglike navorsing, diepte en perspektief ontbreek in beriggewing.

Die pyne van die 80's

"Vanaf die middel tagtigs was daar al ’n kwyning in ondersoekende joernalistiek," glo Welz. Die regering onder P.W. Botha het geweldige beperkings op die media en spesifiek ondersoekende joernalistiek afgedwing. Die Wet op Binnelandse Veiligheid van 1982 het n verbod op sekere publikasies geplaas en die aanhaling van persone wie se name op die Gekonsolideerde lys verskyn het. Op die lys was die name van persone in politieke aanhouding, lede van verbode organisasies en mense wat skuldig bevind is aan opstoking, terrorisme of kommunisme. Hierdie beperkende wetgewing het die gees van ondersoekende joernalistiek n geweldige knou gegee.

Vandag nog ly die media onder die oorblyfsels van die stremmende wetgewing. Volgens die gemenereg is waarheid nie n verweer in n lastersaak nie; openbare belang ook nie. Joernaliste wat gedagvaar word, dra n verweerlas, sowel as n bewyslas.

Die reg is nie toegemoetkomend teenoor die werkwyse van die joernalis nie. So byvoorbeeld sal hoorsê-getuienis as algemene beginsel nie geld in die hof nie - n bron wat dikwels deur joernaliste gebruik word. Verder kyk howe doodeenvoudig na n berig, besluit hoe die deursnee publiek dit sal interpreteer en lewer n uitspraak. Welz glo die funksie van die howe stimuleer nie die proses van nuusverskaffing nie. "Die pers plaas tog hul inligting in die ope mark. Daar is geleentheid vir korreksie en debatvoering oor die waarheid. In n demokrasie moet die reg tegemoetkomend wees teenoor die pers."

Die kostes van lang uitgerekte lastersake vervreem publikasies verder van ondersoekende joernalistiek. Die finansiële oorwegings weeg net te swaar wanneer dit kom by ondersoekende joernalistiek en dit word eerder laat vaar.

Die gebrek aan ondersoekende joernalistiek in Suid-Afrika is nie net in die verlede gefundeer nie, maar ook in die mirakel van die demokratiseringsproses. n Sensitiwiteit en verdraagsaamheid jeens die regering en sy doen-en-late laat die media sy demokratiese plig van kritiek opsy skuif. Harber erken "in die nuwe Suid-Afrika is die media huiwerig om die regering aan te vat. Daar is nog nooit n taai onderhoud met President Mandela gevoer nie."

Daar bestaan beslis n verlengde wittebrood rondom President Mandela en die Regering van Nasionale Eenheid en dit vind neerslag in die opstelling van publikasies se agendas. Die media se onderspeling van die Shellhouse-skietery en sy onvermoë om agter die waarheid te kom, waarom die polisie weerhou is om Shellhouse te ondersoek, asook President Mandela se geheimhouding van sy aanvanklike riglyne rondom die verdediging van die ANC-hoofkantoor, is n sprekende voorbeeld. Hugh Robertson van The Argus vra tereg "waar daar geheimsinnigheid is, hoe ver agter is die verdraaiings, onwaarhede en toevallige verskriklike feite nie?"

Die media word beskuldig dat hulle weerstand en vooroordele teenoor die Inkatha Vryheidsparty vertoon. Dit is die Zulu-party met die kwaai leier wat om dieselfde vuur as die vorige regering gesit het. n Aggressiewe ondersoek oor die Shellhouse-insident kan vertolk word as simpatie teenoor die IVP. Maar die vrae rondom die IVP-optog bly ook onbeantwoord. Waarom is n gewapende massa, al was dit met knopkieries en assegaaie, nie ontwapen nie, soos die Polisie beloof het nie? En hoekom is die massa toegelaat om só naby die hoofkantoor te kom?

Die storie het letterlik in die skoot van die media geval. Ironies genoeg is dit in die skoot van n vryer media as 17 jaar gelede, toe Muldergate tot op die been oopgevlek is. Destyds was die pers beperk deur verskeie statute en geïntimideer deur die verbanning van twee koerante, die aanhouding van n redakteur, en die inperking van n ander een. Verder het die Persraad soos n valk oor koerante se inhoud gewaak. Koeranteienaars het hul personeel gewaarsku om geen antagonistiese berigte teenoor die regering te publiseer nie. Byna twee dekades later kom dit voor asof selfsensuur aan die dag gelê word.

In die jare tagtig was dit hoofsaaklik die alternatiewe koerante soos die Mail & Guardian en die gestorwe Vrye Weekblad wat op die voorpunt was van die ondersoekende joernalistiek in Suid-Afrika. Dit is hulle wat Inkathagate, die Burgerlike Samewerkingsburo en die slagbendes van die polisie ontbloot het.

Onderwerpe vir ondersoekende joernalistiek staan geil op die land, reg om geoes te word. Maar waar is die opvolgers van Mervyn Rees, Chris Day, Kitt Katzin, Fleur de Villiers en ander Suid-Afrikaanse "muckrakers" vandag - joernaliste om die gebeure in die ANC-strafkampe, FW de Klerk se "onwetendheid" van die Vlakplaas-bedrywighede, die geweld in Kwa-Zulu/Natal, die korrupsie in die voedingskemas vir behoeftige kinders, en die waarheid by Shellhouse uit te grawe?

Die mitologiese Argus voer baie argumente aan vir sy sluimerende staat. Maar was hy ooit n wese met n honderd oë, of is hy eerder ’n eenoogkoning in die land van die blindes?

Wás die media ooit 'n Argus?

Tony Stirling, een van die Rand Daily Mail se ondersoekende joernaliste wat self aan die Muldergate-ondersoek deelgeneem het, meen die Inligtingskandaal was te groot vir die pers. Waarnemers beweer verder die pers beskik vandag nog nie oor die vermoë om krities en weldeurdag te rapporteer oor die nuwe, veranderde bestel in Suid-Afrika nie. Hulle redeneer deursigtigheid behoort nie vlees en bloed te word deur die regering se handelinge nie, maar eerder deur die media se inisiatief.

Joernaliste werk permanent teen die horlosie - en dit het een van die grootste redes geword waarom ondersoekende joernalistiek soveel minder aandag kry van redakteurs wat nie meer kan - of wil - bekostig om een of twee, of selfs n span verslaggewers af te staan om maande lank te grawe waar toesmerende politici en ander amptenare beweeg nie. Min redakteurs het die geduld om vandag soos Benjamin Bradlee van die Washington Post twee joernaliste vir 26 maande af te staan aan n storie wat kort-kort lyk asof sy vlam geblus is.

Maar soos Arthur en Lila Weinberg in hul omvattende studie oor die Amerikaanse "muckrakers" aantoon, is daar "no such thing in this world as a wasted protest against any existing evil."


previous page

[ Tuisblad ] [ Publikasies ] [ Inhoud / Index ] [ Publications ] [ Home Page ]

next page