previous page

Inhoud -SJI 1995- Index

next page


lugverkeer

Radio breek die klankgrens

Suid-Afrikaners het skielik ’n wyer keuse van radiostasies ná die Onafhanklike Uitsaai-Owerheid (OUO) vanjaar reeds tagtig tydelike gemeenskapsradiolisensies toegeken het. Hester Blom het gaan uitvind wie die OUO is en of hulle voldoen het aan die regeringsopdrag om die uitsaaiwese te bevry van regeringsbeheer en politieke inmenging.

Die OUO, wat onafhanklik van die regering staan, is ’n statutêre liggaam wat tot stand gekom het volgens die bepalings van die Onafhanklike Uitsaai-owerheid Wet van 1993.

Dié Wet bepaal die OUO moet die mees effektiewe benutting van beskikbare frekwensies verseker sodat ’n wye ver-skeidenheid gemeenskappe, wat die afgelope 40 jaar toegang tot die elektroniese media ontsê is, hul stem kan lug.

Die OUO-bloudruk vir die uitsaaiwese, is einde Augustus aan die parlement voorgelê. Dit lê riglyne neer vir die persentasie plaaslike inhoud wat uitgesaai moet word, sowel as voorskrifte oor kruis-eienaarskap. As ’n radiostasie se programinhoud byvoorbeeld 50 persent musiek is, moet 20 persent daarvan aan plaaslike musiek gewy word. Die OUO bepaal verder dié musiek moet in die 18 uur tussen 05:00 en 23:00 gespeel word.

Maar hoe het die OUO te werk gegaan om die uitsaaiwese van sy monopolistiese juk te bevry?

Eers het dit gaan kers opsteek by ander lande wat reeds jare die ekwivalent van Suid-Afrika se OUO het. Amerika het byvoorbeeld die Federal Communications Commission en Brittanje die Independent Television Commission and Radio Authority.

Die skakelbeampte van die OUO, Labahn Maluleke, sê omdat die OUO die voorbeeld van ander lande kon navolg, kon hulle binne ’n kwessie van tien maande sake afhandel wat hul oorsese eweknieë bykans vyf jaar besig gehou het.

Die OUO het byvoorbeeld tussen September 1994 en Junie 1995 deur middel van die sogenaamde "Triple Inquiry" sake soos kruis-eienaarskap, die hoeveelheid plaaslike inhoud en die kriteria vir die toekenning van tydelike gemeenskapslisensies, vasgestel. Die Triple Inquiry, wat neerslag gevind het in die OUO-bloudruk, was drie verhore waartydens die publiek voorstelle oor dié sake kon maak.

Die OUO mag lisensies in drie kategorieë toeken, naamlik aan openbare, private en gemeenskapsuitsaaiers. Gemeenskapsuitsaaiers is egter die enigste groep wat reeds deur die OUO gelisensieer is.

Twee afsonderlike panele van die OUO, onder voorsitterskap van Peter de Klerk en Sebiletso Mokone-Matabane, het die land deurkruis op soek na geskikte kandidate.

Van die sowat 190 aansoeke, is 34 toegeken in Gauteng, 14 in die Wes-Kaap, agt in die Oos-Kaap, sewe elk in die Vrystaat en KwaZulu/Natal, vier in Mpumalanga en in die Noordwes-provinsie, en een elk in die Noord-Kaap en Noord-elike Provinsie. Vier-en-veertig radiostasies uit die 80 goedgekeurde aansoeke, is reeds op die lug.

Voordat die OUO tydelike lisensies kon toeken, moes begrippe soos gemeenskap eers gedefinieer word. Twee tipes gemeenskappe is geïdentifiseer, naamlik geografies, soos Radio Zibonele wat net in Khayelitsha uitsaai, en volgens wat die OUO ’n gemeenskapsbelangegroep ("Community of interest") noem.

Laasgenoemde kan ’n godsdiensgroep wees, soos Radio 786 en Voice of the Cape, wat gerig is op ’n Moslemgehoor, of soos Radio Tygerberg en CCFM (vroeër Radio Fish Hoek) wat Christelike stasies is. UCT Radio en Matie FM se programme word weer op ’n kampusgehoor gemik.

Die OUO het verskeie bepalings wat nagekom moet word. Om propaganda uit te skakel, mag niemand betrokke by ’n radiostasie ’n pos by ’n politieke party beklee nie. Radiostasies moet ook alles wat uitgesaai word, opneem en vir 30 dae hou. Indien enige klagte van byvoorbeeld onwelvoeglike taalgebruik by die Klagte- en Moniteringskomitee van die OUO of die Nasionale Vereniging van Uitsaaiers se Uitsaai Klagtekommissie gelê word, is dit maklik om die konteks na te vors.

Al 80 lisensies wat toegeken is, is slegs geldig vir een jaar, waarna die lisensiehouers mag aansoek doen vir ’n opvolglisensie van vier jaar. OUO raadslid John Matisonn sê: "Gelisensieerde stasies se kanse vir ’n vierjaar lisensie is goed, mits daar nie binne die jaar proeftydperk enige probleme was nie."

Kritiek

Die Mail & Guardian het in kritiek op die OUO gesê daar is voorkeur gegee aan Christelike en Afrikaner stasies (soos Radio Pretoria en Radio Koppies) met lisensietoekenning. Hierop antwoord Maluleke: "Die OUO het niemand voorgetrek nie. Ons kon slegs dié stasies lisensieer wat aansoek gedoen het en wat voldoen het aan die lisensievoorwaardes."

’n Verdere punt van kritiek was dat stasies wat vroeër ’n voet in die deur gekry het met roofuitsendings (soos Radio Pretoria) voorkeur gekry het bo aansoeke van minderbevoorregte gemeenskappe. Maluleke sê egter "daar is baie stasies (soos Radio Zibonele van Kayelitsha) wat gelisensieer is sonder dat hulle vroeër ondervinding gehad het."

Maar die felste kritiek het uit die Wes-Kaap gekom omdat die OUO, weens ’n gebrek aan beskikbare frekwensies, besluit het om sekere radiostasies frekwensies te laat deel.

’n Groep verteenwoordigers van Wes-Kaapse radiostasies het bymekaargekom om hul griewe by die OUO te lug. Daaronder was Bush Radio en Radio C-flat asook Voice of the Cape en Radio 786 wat twee-twee ’n frekwensie deel.

Die OUO kon egter nie die probleem oplos nie, omdat die SAUK verskillende frekwensies gebruik om by die berge verby te kom en daar dan te min frekwensies oorbly. Matisonn sê egter die situasie sal herevalueer word nadat die jaar proeftydperk, waarvoor die lisensies toegeken is, verstryk het.

Bush Radio stasiebestuurder, Farah Moosa, sê die samekoms van sekere Wes-Kaapse uitsaaiers was ’n tydelike maatreël en daar bestaan nog nie ’n Wes-Kaapse Gemeenskapsradio Forum nie. Sy voorsien egter dat die Nasionale Gemeenskapsradio Forum ’n Wes-Kaapse tak sal stig. Dié forum het 35 lede landwyd, waarvan Bush Radio, Radio Zibonele en Radio Atlantis die enigste Wes-Kaapse lede is.

’n Ander aktiewe organisasie, wat omsien na die belange van ouditiewe en visuele uitsaaiers, is die Nasionale Vereniging van Uitsaaiers (VNU). Hierdie organisasie streef daarna om die verenigde stem van die uitsaai-industrie te wees wanneer daar probleme ontstaan met die OUO en die musiek-en CD industrie.

Die VNU is in 1991 gestig met die doel om slegs gevestigde uitsaaiers te verteenwoordig. Met die koms van demokrasie het die VNU egter sy doelstellings gewysig om voorsiening te maak vir privaat- en gemeenskapsuitsaaiers.

Finansies

Die uitvoerende direkteur van die VNU, Daniella Goldman, sê: "Baie gemeenskapsuitsaaiers kry swaar omdat hulle lisensies gekry het voordat hulle finansiële steun gehad het." OUO raadslid Matisonn erken lisensies is aan sommige stasies toegeken op grond van hulle potensiaal om fondse in te samel en nie noodwendig op grond van dit waaroor hulle reeds beskik nie.

So, hoe finansier die stasies hulself? En hoe oortuig hulle beleggers om nie terug te deins vir die uitdaging nie? Die OUO se voorwaarde is dat geen gemeenskapstasie daarop gerig mag wees om ’n wins te maak nie. Daarom is daar minder advertensies as byvoorbeeld op 5 FM, want die idee is nie om ’n besigheid te bedryf nie, maar om ’n diens aan die gemeenskap te lewer. Elke radiostasie moet ook halfjaarliks ’n finansiële verslag aan die OUO voorlê.

Ds. Soon Zevenster, die bestuurder van die Christelike stasie, Radio Tygerberg, sê hulle geld kom via donateurs "uit die hemel uit." Sy eweknie by FMR, Rashid Lombard, sê: "Finansies is altyd ’n probleem as ’n mens nie jou luisteraarskap kan bewys nie. Ons hou wel boek van die 200 tot 300 telefoonoproepe wat ons per dag kry." Hy voorsien egter dat die probleem opgelos kan word indien FMR ingesluit word by die November AMPS-opname.

Sewentig persent van Bush Radio se befondsing kom van skenkerorganisasies uit Kanada, Swede en Duitsland, terwyl hulle die ander 30 persent self genereer.

As kampusstasies ontvang UCT Radio, Rhodes Music Radio en Matie FM elk ’n bedrag van hul onderskeie universiteite, aangevul deur advertensies, fondsinsamelings en promosies. UCT Radio ontvang R8 000 per jaar, maar kon reeds daarin slaag om vyftien advertensies per dag te verseker.

Reikwydte van die senders

Wes-Kaap stasies: Mhz Taal Area Wat?
BUSH RADIO 89.5 E, A, X Kaapse vlakte 60% musiek, 40% praat & nuus
CCFM (voorheen Radio Fish Hoek) 104 en 96.7 E, (A, X, Grieks) Atlantis, Simonstad, Vishoek Christelike musiek & programme, 50/50 m&p
FMR 101.3 E, A Noordelike en Suidelike Voorstede Klassieke musiek & jazz
MATIE FM 92.6 A, E Stellenbosch Kampus, 7 nuusbulletins per dag
RADIO 786 100.4 E, A Hele Skiereiland tot Worcester Moslemgemeenskap, geen Westerse musiek
RADIO ATLANTIS 107.9 A, E, (X) Atlantis, Mamre, Pella 50/50 praat/musiek, fokus op opheffing
RADIO C-FLAT 89.5 E, (A, X) Kaapse Vlakte 25-45-jariges, gerig op inligting, nuus, vermaak
RADIO HELDERBERG 95.9 A, E, X Helderberg kom Soos ou Springbokradio
RADIO TYGERBERG 104 A, (E, X, Duits, Grieks) Hele Skiereiland tot Worcester Christelike musiek, programme
RADIO ZIBONELE 98.2 X, (E) Khayelitsha Inlig, opvoed, vermaak. Musiek & praat
UCT RADIO 104.5 E Kaapstad Kampus
VOICE OF THE CAPE 100.4 E, A, X, Urdu Hele Skiereiland tot Worcester Moslem

Senders in die Wes-Kaap wissel van die kampusstasie Matie FM in Stellenbosch se tien watt (ongeveer 15 km radius) tot FMR (Fine Music Radio) se 500 watt (tussen 75 en 150 km radius) wat Kaapstad se noordelike en suidelike voorstede dek. Met twintig watt bereik Radio Helderberg Somerset-Wes, Strand, Gordonsbaai, Sir Lowry’s Pas en Grabouw. Die sein word ook soms opgevang in Stellenbosch, Wynberg, Villiersdorp en Caledon.

Maar Zevenster sê met hulle 250 watt sender kan hulle saam met Afrikaans Stereo aanspraak maak op die slagspreuk "radio sonder grense." ’n Vrou uit Brakpan, Transvaal het ’n keer gebel en alles woord vir woord herhaal wat die omroeper gesê het. Zevenster sê solank hul uitsendings nie inmeng met die van ander stasies nie, is hulle nog binne die bepalings van die OUO.

Gemeenskapsdiens

Gemeenskapsradio moet ’n diens lewer wat mense kan inlig, vermaak, opvoed en tegelykertyd entoesiasties maak oor sake wat die gemeenskap na aan die hart lê.

Radio Tygerberg beplan ’n noodlyn en dwelmkliniek om die geskatte drie- tot vierhonderdduisend Wes-Kaapse dwelmverslaafdes te help. CCFM is ewe opgewonde oor die Metro treinafkondigings wat hulle doen, want dit beteken nie alleen gemeenskapsdiens nie, maar ook ’n bykomende potensiële luistertal van 330 000 mense.

Toekoms

Binne die volgende paar maande sal die oorblywende 36 gemeenskapsradiostasies op die lug gaan. Dit sal die eerste fase van die OUO se plan om die uitsaaiwese te hervorm, voltooi. Die tweede fase, naamlik die toeken van lisensies aan private, kommersiële radiostasies, sal begin momentum kry as die eerste stasies na verwagting vroeg volgende jaar begin uitsaai.


previous page

[ Tuisblad ] [ Publikasies ] [ Inhoud / Index ] [ Publications ] [ Home Page ]

next page