previous page

Inhoud -SJI 1996- Index

next page


hoofartikel

Sensasie met sofistikasie

deur Tinus de Jager

Al ooit gewonder wat maak van ’n poniekoerant ’n wenner? Huisgenoot weet. SJI het gaan kyk na dié tydskrif se wenresep en die mense wat daar werk.

Daar is nie ’n joernalis in sig nie. Op die koffietafel in die ontvangslokaal lê die produk van dié werkers netjies versprei. Dit lyk nie of iemand dit lees nie. Ons betree die kantoor van die assistentredakteur van die grootste tydskrif in die land.

Onopvallend, om die minste te sê. Donderdagmiddag en daar is nie ’n Huisgenoot te bespeur nie. ’n Paar standerd ses en sewe Natuur- en Skeikunde handboeke lê in die rak agter sy stoel, die rekenaar is amper so oud soos die tikmasjien in die hoek. Selfs die telefoon is opsy geskuif. Tog is hy deel van die wenspan, deel van die "wenresep".

Wat ’n resep! Gemiddeld 534 985 uitgawes per week tussen Januarie en Junie 1996, slegs oortref deur Multichoice se TV Magazine. G.Olwagen - hy gebruik nie sy voornaam nie - die assistent-redakteur, sê daar word meer Huisgenote verkoop as enige ander tydskrif van sy soort in die wêreld. Hy skryf dié sukses toe aan ‘n verskeidenheid faktore.

Eerstens, voorgevoel. Niel Hammann, aan die stuur van die "nuwe" Huisgenoot, bring idees, aan die einde van die jare sewentig, uit poniekoerante vanaf Londen. Die blokkiesraaiselkonsep word opgetel in die moltreinstelsel, waar Duitsers die reis gehurk oor koerante en tydskrifte, pen in die hand, deurbring. Die idee word net so in Huisgenoot ingevoer.

In die begin was die klem nie so op marknavorsing soos dit vandag is nie. "Ons was besig om onder te gaan. Die tydskrif was nie besig om met die mark te groei nie en sonder die regte inspuiting sou Huisgenoot sy deure moes sluit," sê Olwagen.

’n Transformasie is gemaak van "vrekkende aasvoëls in die Suidoos-Transvaal" na sensasie. Fransie Geringer, Naas en aanhangsels, Francois en Joos, Cora Marie en weer Naas. Enige week, elke week.

Televisie, gesien as die vyand van tydskrifte met sy bekendstelling in1976, bring konflik na die sitkamers van die nasie. Huisgenoot begin hierdie medium as ’n bondgenoot gebruik ná Radio en TV-Dagboek die alleenreg verloor om programme aan te kondig. Hollywood verskaf die sensasie en drama wat die tydskrif nodig het om te verkoop en meer Huisgenote sien die lig.

’n Rubriek oor die sterre se lief en leed verskyn agter in die Huisgenoot, hul makabere lewens vul die voorblaaie. Eksklusiewe onderhoude word via agentskappe met die internasionale sterre gevoer, meestal Amerikaans tydens die apartheidsera. Tydskrifte soos Keur pas nie so vinnig aan nie en stelselmatig begin hulle lesers verloor.

Fanie en Melanie bly deel van die tydskrif, die formaat word meer modern, maar dit word steeds gemik op skooltake. Verslag word gelewer oor die nuutste motors op die mark, geskryf deur mense met ondervinding in die motorbedryf. Die hele familie lees die tydskrif, meer as twee miljoen mense per week in 1995. Adverteerders is soms sku, maar Huisgenoot is die enigste tydskrif in Suid-Afrika wat ’n wins maak uit sy omslagprys.

Die mense wil stories oor mense lees, sê Ollie Olwagen, en dit is wat geskryf word. Huisgenoot joernaliste ken die resep en soek die drama, al is dit diep begrawe in die storie. Die foto is belangrik. Met ’n goeie foto is die storie amper ’n bysaak. In sindikaat met oorsese agenskappe soos Sigma (Franse spesialis in die verskaffing van foto’s wêreldwyd), word die sterrestories ook deur die regte foto’s vergesel.

Valerie Virga, die foto-redakteur van National Enquirer, som die tegniek soos volg op, "Small cameras, big balls. That counts for a lot in this business." Foto’s trek die leser en sy koop die tydskrif. Kyk maar hoe goed doen Cindy Crawford en Pamela Anderson op die Internet; vir Huisgenoot kry Fergie se groottoon dieselfde reg.

Olwagen sê die voorblad verkoop die tydskrif. Die sensasie word uit die binneblaaie gehaal en aanloklik aan die koper gebied. Suid-Afrikaans as dit kan, so nie die mees dramatiese oorsese storie.

Vrouens koop die tydskrif, die voorblad is op hulle gerig. Volkleur en eksklusief trek dit 44% manlike en 56% vroulike lesers. 90% persent is Afrikaans.

Elke storie in Huisgenoot is waar, beweer Olwagen. Enkelbronstories word net geplaas as die bron baie betroubaar is. Betroubaarheid word getoets uit die ondervinding van die redaksie.

Kevin Jacobs, besturende redakteur van You (Huisgenoot se Engelse stalsuster), sê ook ondervinding is belangrik, maar noem ook ander faktore wat keuses beïnvloed. "Die meeste stories in ons (die redaksie van You en Huisgenoot se) vergaderings twee maal ’n week, bestaan uit koerantuitknipsels.

’n Goeie opvolg trek die leser. Jou reklame is klaar gedoen deur die ander media, die koper dink, ‘ek sal graag meer wil weet van die storie’ en die tydskrif verskaf die kopie."

Goeie stories uit ’n enkele bron word net geplaas indien die bron vertrou kan word. Onderhoude is ’n belangrike komponent, juis omdat mense oor mense wil lees. As die storie eksklusief is, sal die voorblad so sê.

Word hierdie eksklusiwiteit gekoop? Baie selde, volgens Olwagen. "Joos is betaal, Naas se meisie is betaal en ook Hansie Cronjé. As jy nie betaal vir ’n goeie storie nie, gaan iemand anders. Dan verloor jy dit." Huisgenoot betaal vir eksklusiwiteit, nie vir die storie self nie. Betaling gebeur min (volgens Olwagen) en daarom word die egtheid nie in twyfel getrek nie.

Binne in die tydskrif verskyn daar ’n advertensie wat vergoeding vir stories aanbied. "Die stories waarvoor ons (Huisgenoot) betaal, moet baie goeie stories wees."

"Hoe kan jy op die Huisgenoot en sy redaksie neerkyk as die publikasie soveel geld inbring?" Gaan dit dus deesdae oor kwantiteit en nie oor kwaliteit nie? Kevin Jacobs sê kwaliteit word subjektief bepaal. "Sommige ‘kwaliteit’ tydskrifte werk met minderwaardige joernaliste. As jy verslag doen oor politieke en ekonomiese gebeure, maak dit nie noodwendig die tydskrif van hoër gehalte as byvoorbeeld Huisgenoot of You nie."

Anfra Mostert, bemarkingshoof van die tydskrifafdeling by Nasionale Pers, sê dit maak nie saak wat die kwaliteit van die tydskrif is nie, solank hy net verkoop. "Daar is ‘n weeklikse publikasie wat in Amerika verskyn wat ’n leserstal van oor die 2 miljoen het (National Enquirer) en nie tevrede is daarmee nie. Ek dink die teenoorgestelde is waar. Verkoop soveel tydskrifte en jou resep is reg."

Mostert sê adverteerders is verbaas wanneer die lesersprofiel van Huisgenoot aan hulle gewys word. 48.9% van die Huisgenoot se lesers verdien meer as R4 000 per maand en 78,4% lewe in die boonste twee strata van die Suid-Afrikaanse samelewing. Marketing Information Services dui aan hierdie twee groepe sentreer in die stedelike gebiede, is gebruikers van die geskrewe media en eienaars van die meeste duursame goedere (nie-elektriese stowe uitgesluit).

Meer as 45% van die lesers van die tydskrif het matriek of ’n hoër kwalifikasie. Die vraag of die publikasie kwaliteit joernalistiek aanbied, is dus volgens Mostert oorbodig. Huisgenoot verkoop meer as enige ander tydskrif in Suid-Afrika, daarom bied dit wat mense wil hê.

In 1987 maak You, ’n kloon van Huisgenoot sy verskyning. Kevin Jacobs sien You nie as ’n bedreiging vir Huisgenoot nie. Slegs tien persent van Huisgenoot se lesers is Engels.

You gebruik dieselfde resep as Huisgenoot. "Deur die storie in ander media raak te sien en dit die aandag te gee wat dit werd is, trek ons die lesers. Ons ry op die rug van ander media. Dit het ons nog nooit probeer wegsteek nie," sê Jacobs.

’n Gaping is in die Engelse mark raakgesien om ’n soortgelyke tydskrif as Huisgenoot te publiseer en Nasionale Pers het die behoefte gevul. Dalk ’n voorbeeld van die nuussin waarvan Olwagen praat. Jacobs sê You kan die omset van die Huisgenoot verbysteek. "Ek weet nie hoeveel ons meer kan verkoop nie. Dit lyk of Huisgenoot se mark versadig is, You klim steeds en bereik 329 362 mense per week in Januarie tot Junie 1996."

Die grootste potensiële tydskrifmark in Suid-Afrika word nou ook aan die resep blootgestel. Drum, geskoei op die "wenresep", met sy inhoud gerig op die swart mark, word vanaf 6 September ook weekliks uitgegee.

Jacobs sê die hoogte van dié berg sal bepaal word as hulle hom klim. Die formaat wat so suksesvol vir die ander twee tydskrifte was, word ook hier gebruik. Die maandelikse drukopgawe raak aan die tweehonderd duisend kopieë vir Januarie tot Junie1996. Wie weet hoeveel gesofistikeerde sensasie kan dié "resep" nog verkoop?


previous page

[ Tuisblad ] [ Publikasies ] [ Inhoud / Index ] [ Publications ] [ Home Page ]

next page