previous page

Inhoud -SJI 1998- Index

next page


"Grensoorlog!" Vergete, of het ons nog nooit geweet nie?

deur Konstant van Huyssteen

It is the right and duty of the State ... to defend itself against aggression, no matter what damage it might cause to others. Thus ... it may be necessary to imprison inhabitants of a threatened country without charging them or trying them before the courts ... Provided this sort of act is done in good faith, i.e. in the interests of national safety only ... courts of law voluntarily renounce the power to hold the executive answerable to them. Whenever bad faith ... is suspected, the courts do not hesitate to intervene and to pronounce against the Government." (uit Standard Encyclopaedia of South Africa, 1971)

Die Persunie en die Weermag het 'n skakelkomitee gehad wat gereeld ontmoet het, en hulle het sekere reëlings getref met mekaar. In die '70's en vroeg '80's het elke koerant 'n militêre korrespondent gehad, en hy het 'n sekerheidsklaring gekry ... Die Weermag het nie getraak oor sy politiek nie. Die Weermag het aanvaar dat elke koe rantredakteur 'n nasionale burger is ...

- uit 'n Augustus 1998-onderhoud met Willem Steenkamp, oud-militêre korrespondent en skrywer van South Africa's Border War 1966-1989

Op 8 Augustus tien jaar gelede is die wapenstilstand tussen Suid-Afrika, Angola en Kuba verklaar. Op 13 Desember van daardie jaar is die Brazzaville-protokol in Angola onderteken. Hiervolgens moes SA-troepe uit Angola onttrek en Suidwes-Afrika sou sy eerste vrye verkiesings hê. Die South West African People's Organisation (SWAPO) sou wen, en SWAPO se Sam Nujoma sou president word. Suid-Afrika se laaste blankbeheerde bufferstaat aan sy noordgrens was verlore.

"Terroriste. Kaffers wat die land van die noorde af probeer binneval om ons [die Afrikaner] uit te moor of in die see te jaag" (uit J.C.Steyn se kortverhaal, "Op pad na die grens" van 1976)

Wilhelm Verwoerd, vroeër van die WVK, haal tydens 'n lesing oor oorlogsliteratuur onlangs by die Universiteit van Kaapstad 'n ma aan wat praat oor haar seun wat grens toe was en met sy terugkeer "anders" was:

"One morning a bum will be found dead ... the only mistake he made was fighting for his country ... When he marches his troops through the night, many other boys must be doing the same."

"Hou jouself uit die storie uit," sê hulle altyd aan joernaliste. Maar as die storie oorlog is, rimpel die dam lank ná die klip reeds op die bodem lê. In die 70's en 80's was ons as toekomstige joernaliste op hoër- of laerskool, en salig onbewus van diensplig en die Angolese oorlog. Ons het saans in die nuus die standbeeld van die gevalle soldaat gesien, teen 'n blou lug (as ek reg onthou) met die name van die oorledenes wat daarvoor verbyflits ... (as ek reg onthou). Hulle het dit 'n "Grens-Oscar" genoem, lees ek later in Etienne van Heerden se kortverhaal "Jannie Eina se oorlog".

Onthou ... 'n Mens vergeet so maklik van nare goed, veral as dit so ver weg was en die regering vergeet-agtigheid van jou verwag en beveel. "The struggle of man against power is the struggle of memory against forgetting," het Milan Kundera, die Tsjeggiese skrywer gesê. "Necessity knows no law," antwoord die SA-regering en kondig 'n noodtoestand af.

Tussen 1960 en 1993 was 430 000 wit mans by diensplig betrokke. Pieter Rossouw, 'n sielkundige van Bloemfontein, werk by 'n posttraumatiese stresversteuring-noodsentrum. Hulle behandel onder andere oud-soldate. Hy sê een uit drie polisiemanne is tans onder behandeling en dat daar 'n sterk gevoel van "ongedane sake" is by dié wat behandel word.

Die media het ook ongedane sake met die oorlog. Stel jou voor: Soldate wat diep binne Angola sit, hoor op die radio hoe die Minister van Verdediging ontken daar is enige troepe in Angola. Hulle vind dit vreemd dat hulle doodgeskiet kan word op 'n plek waar hulle nie is nie. Hulle kom terug na 'n land waar die apartheidsverlede gedemoniseer word, en waar die dienspligtige, nou openbare besit, as geweldpleger voorgehou word -'n hertraumatisering.

Oud Koevoet-polisieman John Deegan word tydens TRC Special Report aan die nasie voorgehou: Annelies Burgess se halfuur-dokumentêr getiteld PTSD (Post-Traumatic Stress Disorder), word op 13 Oktober 1996 deur SABC-TV uitgesaai:

"We just didn't care, it [the cause] did count in the beginning ... ideological fervour? ... we were all adrenalin junkies."

Hy vertel onplesierige dinge: van tipiese "Koevoet overkill"-situasies, hoe hy 'n gewonde SWAPO-leier in die kop skiet toe hy nie wou of kon "praat" nie. Deegan pleit vir 'n Veterane Vereniging om "sin te maak uit die gemors wat ons gemaak het." Dit is Sondagaand. Die naweek is verby, die vleis en drank is op en dit is tyd vir kerk en belydenis. "Ek wil nie weet nie, ek het genoeg gehoor," sê my ma en skakel die televisie af. "Wat dan van die ANC se gru-kampe?" en ander vrae word gevra deur teenstanders van die WVK.

'n Dronk Weermagman strompel agter sy vriend aan. Hy dra grys no name brand-tekkies met twee strepe op die kant en 'n blink sweetpak. In sy ronde skouers skuil die suggestie van krag. "Hoe de fok gaan daai ou ons help ... Hy was nie dáár nie ... sê jy my hoe de fok gaan hy ons help?"

"Hoe sal julle verstaan, julle was nie dáár nie," is die mantra van die teruggekeerde grenssoldaat.

Bruin Angolese grond val op die ma se skoon wit badkamervloer wanneer sy haar soldaat-seun se wasgoed doen. Verder wil sy nie weet nie.

"I came up here with feelings that I suppose many South Africans have, of, well, there are our lads up here on the borders of South West Africa and Angola, but why are they there and what are they doing there? But after a few days with the military forces, without any ... obvious propaganda, simply by talking to them and having them talk to us, you suddenly realise that there is a meaning in it, and they are defending a border, and if they were not defending this border, they would be defending a border much closer to home."

(Sound of troops singing in the background.)

"This is Bea Reed, on the border for Radio Today."

(uit Julie Frederikse se South Africa, a different kind of war).

Met die Verdedigingswet en die Wet op Amptelike Geheime, is die media vir feitlik die volle duur van die grensoorlog aan bande gelê. Agter die skerm van "fiksie", het skrywers begin rapporteer waaroor joernaliste nie meer mog nie. "Stories" kon tog nie gesensor word nie. Sleep vir jou 'n stoel nader (1987) deur André le Roux bied die leser 'n uitnodiging om te kom sit en luister na die ontstellende verhaal "Mupeki pis mos deesdae soos 'n gieter", wat vertel van polisie-martelmetodes a la Jeffrey Benzien en sy "nat sak". Wie de hel het jou vertel? (1988) deur Gawie Kellerman breek met sy knetterende kortverhale die stilte oor die grensoorlog. Sê dit in die donker (1989) deur Pieter van der Lugt en Berigte van weerstand (1990) deur Emma Huismans dra elkeen die element van vertelling van dit wat nie eintlik gesê moet word nie, dit waarvan daar slegs in 'n fluisterstem gehoor word. En nie net oor die grens nie, maar ook oor wat reg onder ons neuse binne die land aangegaan het. Charles Malan van Vrye Weekblad beskryf John Miles se Kroniek uit die doofpot, 'n polisieroman (1991):

"Die dossier met die Skrywer se aanklagte, ook teen jou en my, is pas geopen. Dit is geskiedenis uit die as. Opdat ons nooit mag vergeet nie."

Daar is ook Engelse boeke geskryf met Angola as tema. 'n Boek getiteld Forces Favourites -vernoem na die gunsteling radio-versoekprogram -is deur Andrew Donaldson van die End Conscription Campaign saamgestel en bevat beide Engelse en Afrikaanse grensverhale. In The beautiful screaming of pigs deur Damon Galgut speel die grens 'n sydelingse rol. Die literêre tradisie van skryf oor die grens is baie sterker in Afrikaans as in Engels. Daar val nou nog hier en daar 'n grensverhaal of grensroman uit die lug, byvoorbeeld Die reuk van appels (1993) deur Mark Behr, en Jaco Botha se kortverhaal "Bokkie se duiwels" uit In drie riviere (1997).

Met films soos Boetie gaan border toe en Boetie op manoeuvres, en die Amerikaanse Private Benjamin en M*A*S*H laataand op televisie, het dit gelyk of oorlog selfs nogals pret kan wees. In Huisgenoot het ons stories gelees wat ons gelaat het met 'n gevoel van "berus in die Here en alles sal wel wees" -stories geskryf deur Afrikaner volksmoe-ders soos Maretha Maartens of oud-Weermagman en later SAUK-TV nuusman, Eben Engelbrecht, wie se "In die oog van die naald" heel moontlik 'n huldeblyk aan "tell it like it is" Al J. Venter is. Kyk hoe beskryf 'n karakter in Etienne van Heerden se My Kubaan (1983) hom:

"Al Venter was pas hier om Into Angola vir SATV te skiet, hy't sy kameras uiteraard net hier en daar gerig."

As teenstem tot die ernstige grensverhale en romans, is daar grappige boeke oor die oorlog geskryf. Bertrand Retief (oud-Burgermaglid en Krygkor-skakelman) skryf Tweede prys is 'n houtjas -grensstories uit Wamboland (1983) en Half boom, half mens en ander grensstories (1986). Johan van Pletzen skryf vir die Weermagtydskrif Uniform sy reeks grappige staaltjies oor Kleinjan, wat so populêr is dat dit gebundel word as Liewe Ma, briewe van Kleinjan (1980), Ma weet mos (1982), Ma, sê vir sussie. Weer briewe van Kleinjan (1984) en Hoe gaan dit met Ma? (1988). Hierdie verhale romantiseer die grensvegter. Dan het ons ook die ware verhale, soos At van Wyk se "Honoris Crux". In fiksie was daar ten minste twee stemme: die normbevestigende (Van Pletzen, Retief) en die normdeurbrekende (Kellerman, Van Heerden). In die media is net die normbevestigende ge-rapporteer.

"Jy weet, dis lekker en maklik om nou te sit en te gesels daar-oor, maar skrywe jy so 'n boek terwyl die kruitdampe nog hang ... dan's dit bleddie moeilik ... en met die Verdedigingswet ... jy't geen beskerming van 'n grondwet gehad nie."

Willem Steenkamp, Augustus 1998.

'n Regering wat sy sout werd is, sal die media altyd in sy sak probeer kry om soos 'n opgeleide bandspe-lertjie te bevestig. Ons het nou 'n grondwet wat veronderstel is om almal se regte te beskerm. Wat kort, is 'n grondwet wat almal se geheues beskerm. Die media kan hierdie onafgehandelde besigheid te ruste lê. Hulle moet keer dat kollektiewe geheue tot staatsargiewe verdoem word omdat 'n regering dit as "afgehandel" bestempel. 'n Mark is daar altyd. Mense bly gefassineer deur oorlog. In Nederland vandag verkoop boeke (fiksie en nie-fiksie) oor die Tweede Wêreldoorlog soos soetkoek.

In die Business Day van 29 Mei 1998 spreek DP-LP Dene Smuts haar bekommernis uit oor Jay Naidoo se nuwe voorstelle vir die media, naamlik dat die SABC hom moet raadpleeg voor finansiële en bestuursbesluite gemaak word. Die pendulum het nog baie momentum en swaai gewillig na ekstreme. Dit is die media se taak om die koekoek-klok se slinkse pendulum fyn dop te hou soos dit die tyd verbytik. Ons kan nie soos in die verlede eers weer wakker skrik wanneer geheue ons op die kop pik nie.


previous page

[ Tuisblad ] [ Publikasies ] [ Inhoud / Index ] [ Publications ] [ Home Page ]

next page