previous page

Inhoud -SJI 1998- Index

next page


Internet joernaliste:
Cowboys of Crooks?

- Christine van der Merwe

[ English ]

"Die Nuwe Media is in baie opsigte soos die Wilde Weste: daar is geen polisiëring of wette nie - alles is aanvaarbaar. Verbruikers vertrou dit nie. Voorstanders van die Nuwe Media wonder hoekom. Die rede is eenvoudig: verbruikers hou van orde en betroubaarheid," aldus Walter Miller, tot Junie vanjaar weeklikse rubriekskrywer vir The Netly News - ’n tuisblad wat konsentreer op die besigheid, kultuur, tegnologie en politiek rondom die Nuwe Media.

Volgens Miller is hierdie vryheid die grootste uitdaging vir die Nuwe Media. Ander joernaliste sien juis dít as ’n bedreiging.

"Jy kan inligting op die Web publiseer nog voordat daar tyd was om dit te ontken, te onderdruk of te bevestig," sê Cass Brewer, senior-redakteur van Web Guide Monthly, ‘n gewilde en gesaghebbende Amerikaanse tydskrif. "So kan joernaliste sensuur en redigering ontduik, en lesers inligting kry wat nooit in druk sou verskyn nie."

Informasie is volop en onstuitbaar as gevolg van die Web, meen Brewer. Die probleem is die inligting se juistheid kan nie bevestig word nie. Die akkurate weergawe van ‘n onderwerp is bykans ‘n geval van die waarheid word deur die meerderheidsopinie weerspieël.

"Meer as tien jaar ná die ontstaan van die Internet is die Web steeds anargisties; hoofsaaklik oorheers deur ’n disproporsionele persentasie baanbrekers, sosiale uitgeworpenes, bannelinge, revolusionêre en fanatici," sê Brewer. Almal het vir bykans gratis ’n internasionale gehoor.

Dit lyk egter asof regeringsvoorskrifte nie onbepaald net ’n vae dreigement gaan bly nie. Brewer reken die enigste rede waarom web-publikasies kwalik gekniehalter word deur wette en voorskrifte is dat baie politici tegnologies ongeletterd of bloot tegnofobies is.

Ongeag die Web se beklemtoning van vryheid van spraak pas elektroniese publikasies wél selfsensuur toe, meen Geoff Harris, besturende redakteur van Internet Titles van die Verenigde Koninkryk. Soos by die gedrukte media, sorteer mense hul inligtingsbronne mettertyd uit. Geloofwaardigheid is steeds belangrik. Mense gaan na verskillende web-blaaie om verskillende redes: vir betroubare nuus na agentskappe soos die New York Times of CNN, en vir die jongste skindernuus: ’n cookie van die Drudge Report.

Matt Drudge, die voormalige geskenkwinkel-assistent en brein agter die Drudge Report, het moontlik ’n nuwe joernalistieke norm vir die 21ste eeu geskep: die waarheid is bloot ’n gevestigde skinderstorie - metodes maak nie saak nie, solank jy by die waarheid uitkom.

Met sy onthulling van die Monica Lewinsky-skandaal het Drudge een van die groot scoops van die eeu agter sy naam geskryf. Michael Isikoff, ‘n Newsweek-joernalis, het die oorspronklike inligting gehad. Sy redakteurs het egter gewik en weeg oor kwessies rondom publisering van bespiegelinge. Drudge het die inligting bekom en sonder skroom op sy tuisblad geplaas, vanwaar ander publikasies die storie gelig het onder die voorwendsel dat hulle oor die media berig. Binne die tradisionele media sou Drudge se aantygings slegs in ’n publikasie met min geloofwaardigheid of ’n klein sirkulasie verskyn het. Op die Internet is sy bewerings vir miljoene beskikbaar, en het hy ongeag duidelike gebreke in sy joernalistieke mondering oornag media-status verkry. Tans besoek ongeveer 300 000 mense elke dag sy tuisblad.

As ’n mens verder kyk na die roem wat Harry Knowles verwerf het, is dit moontlik ’n bewys dat "the geeks shall inherit the earth." As gewone film-verslaafde van Austin, Texas, kry Knowles deur middel van honderde spioene geheime inligting vanaf filmstelle. Vanuit sy slaapkamer, het dié 25-jarige se opinie en veral die invloed daarvan ‘n geweldige impak op Hollywood. Baie lokettreffers is dankbaar vir die goeie publisiteit op Knowles se tuisblad, wat deur ongeveer 25 000 mense per dag besoek word. Daarenteen word Speed 2 en Batman and Robin se teleurstellings grootliks toegeskryf aan Knowles se negatiewe reaksie daarop.

Bobson Wong van Digital Freedom Network skryf die zero to hero-verskynsel daaraan toe dat spoed en toeganklikheid die Internet se grootste bates is. Terselfdertyd is dit ook een van die grootste slaggate.

"Nuus-organisasies op die Net wil graag scoops hê. Die druk veroorsaak groter laksheid om feite en bronne te bevestig en ’n neiging om makliker gerugte te plaas - wat dan teen ’n verbysterende spoed versprei."

Die Digital Freedom Network-webblad omseil regering-sensuur en publiseer werk van skrywers wat daardeur beperk word. Hulle plaas onder meer die werk van slagoffers van menseregte-skendings en vestig ook dikwels internasionale aandag op uitgewekenes en politieke gevangenes. Die Chinese regering het glo al tevergeefs probeer om dié webblad te blokkeer.

Alhoewel die Internet ’n inligtingsrevolusie kan veroorsaak, gaan tradisionele mediavorme nie binne die afsienbare toekoms verdwyn nie, meen Wong.

Kenners skryf die tradisionele media se voortbestaan hoofsaaklik daaraan toe dat mense nie elektroniese publikasies op die toilet kan (of wil) lees nie. Treine, beddens, en kaggels gaan blykbaar ook ’n nederige bydrae lewer om die toekoms van radio, televisie, koerante en tydskrifte te verseker.

Die meerderheid van die wêreld-bevolking besit nie eens ’n telefoon nie, sê Wong. Die Nuwe Media is nie werklik ’n bedreiging vir die tradisionele media nie. Internet-toegang is kwalik deel van die woordeskat.

Lauren Beukes, waarnemende redakteur van @home magazine, ‘n plaaslike leefstyl en tegnologie-tydskrif, sê die Internet het die potensiaal om die groot gelykmaker te wees - mits jy jou pad in die kuberruim ken. Oscar Wilde het tereg opgemerk: "Modern journalism exists to keep us in touch with the ignorance of the community."

Noel Yavo van Woyaa! Internet Africa, ‘n omvattende tuisblad oor Afrika, glo Afrika sal sélf betrokke moet raak by die inligtinggemeenskap. Anders as in die verlede, toe Afrika deur slawerny en kolonialisme gedwing is om aan te pas, moet sy dié keer vrywillig betrokke raak, en so gou as moontlik. Totale uitsluiting is nie ’n onrealistiese vooruitsig nie.

Joernaliste sal ook moet aanpas. Walter Miller sien die Nuwe Media as ’n vergunning wat ons maklik kan misbruik om te laster en te verdraai, en wat daarom met wysheid hanteer moet word. Baie mense dink Internetjoernalistiek is ’n klug, omdat só baie dit misbruik.

"Die Nuwe Media moet die voordele van die medium gebruik om joernalisme te verbeter - nie om dit in die naam van vryheid van spraak te verswak nie."

Ons gaan ’n eeu binne waarin die Nuwe Media waarskynlik gaan domineer in ontwikkelde lande. Joernaliste moet hierby aanpas. Hulle moet nuwe tegnieke baasraak, en ten spyte van versoekings hul integriteit behou. Die skrif is aan die muur. In die woorde van Percy Bysshe Shelley: "The world’s great age begins anew ... The world is weary of the past."


previous page

[ Tuisblad ] [ Publikasies ] [ Inhoud / Index ] [ Publications ] [ Home Page ]

next page