DIE “AFSTERWE” van boekwurms onder ons jeug lei tot ’n nie-lesende kultuur. Boonop moet soveel kinders ’n liefde ontwikkel vir ’n derde taal, wat sake verder kompliseer.
Volgens dr. Michael le Cordeur, Stellenbosse kringbestuurder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), “kan onder wysers ’n kind leer lees, maar word liefde vir lees by die huis gekweek.”
Skrywer George Weideman skryf in ’n artikel vir Aardklop Kunstefees 2004 daar is twee soorte ouers: die konserwatiewe, dogmatiese en erg voorskriftelike ouer, en die apatiese ouer. Tog meen hy Afrikaanse ouers lees nie, daarom word hul kinders nie aan die wonderlike wêreld van boeke blootgestel nie.
Remediërende kenner en kinderboek-skrywer, Annatjie Hanekom sit egter die probleem wyer uiteen. Ja, ouers kan hul kinders opvoed deur ’n voorliefde vir boeke te kweek, maar dit is onderwysers se werk om kinders leesvaardig te maak, sê sy. Ná ’n besoek aan die Reading Recovery Centre in Nieu-Seeland in 1998 het sy ’n leesproses ontwikkel waarmee elke kind in Suid-Afrika leesvaardigheid kan bemagtig.
In 2002 het ’n studie deur die Wes-Kaapse Departement van Onderwys getoon slegs 36% van alle graad 3-leerders beskik oor ’n aanvaarbare geletterdheidsvlak. In Junie vanjaar is verdere skokkende resultate bekend gemaak: slegs 35% van graad 6-leerders in die Wes-Kaap beskik oor numeriese en lees- en skryfvaardighede.
Die prestasiegaping tussen top primêre skole en dié in agtergeblewe woongebiede is angswekkend. Syferkundigheids- en geletterdheidsuitslae van 0% weerspieël die ware gebrek aan ’n leesondersteuningskultuur wat as gevolg van verskeie faktore onvoldoende leesonderrig aan leerlinge lewer.
Met nadere ondersoek na die uitslae van sistemiese evaluering van graad 6-leerders in Weskus-Wynland skole (wat Stellenbosch en omliggende area insluit), is gevind leerders vanuit armer gemeenskappe presteer akademies swakker. Dit kan ook ’n verband tussen ongeletterdheid en die gebrek aan blootstelling aan boeke beteken.
Deur die leesproses op ’n holistiese wyse te benader, soos in Engeland in die vroeë 1970’s, kan onderwysers opgelei word om ’n gebalanseerde, parallelle proses te gebruik om kinders korrek te leer lees.
In 2002 is die onderwysstelsel se Kurrikulum 2005 hersien om die gebalanseerde proses voor te skryf. Dit bestaan uit twee afdelings; naamlik klankleer, wat saam met taalstrukture die grondslag-struktuur of grammatika vorm, en die gebruik van stories, wat ervaring en betekenis verskaf. Maar volgens Hanekom het onderwysers nie die nodige kennis om hierdie vaardighede te ontwikkel nie.
Die doelstelling met die gebalanseerde proses is om die kind se grammatikale kennis te ondersteun met betekenis. Met ander woorde, as die kind klanke, woorde en sinne tot en met graad 3 goed kan lees, beteken dit nie dat hy reeds betekenis aan die teks kan koppel nie. Taal is nie iets wat nageboots kan word sonder om dit ten volle te begryp nie.
Die gebrek aan begrip onder graad 6-leerders in die Wes-Kaap verwys juis na hierdie groot probleem. Dit lê nie net by ouers, of net by kinders wat nie kan spel nie. Die probleem lê vasgevang in die kinders se vermoë om lees hul eie te maak deur die korrekte onderrigmetodes te ontvang en selfvertroue te hê.
Volgens Le Cordeur, is onderrigmetodes só ver verwyderd van die kind se “werklike leefwêreld” dat geen belangstelling in hul leeswerk gekweek word nie. Hanekom en Le Cordeur moedig die gebruik van gedrukte media soos koerante aan om leerders se belangstelling in hul eie omgewing op te spoor.
“Ten einde die gebalanseerde leesproses van Kurrikulum 2005 suksesvol te behaal, moet onderwysers bemagtig word met die kennis om dit met insig oor te dra,” sê Hanekom.
Soveel doemprofete hou moderne tegnologie soos die internet en televisie as afknouers van lees voor en neem nie in aanmerking dat net ’n klein bevoorregte groepie kinders toegang daartoe het nie.
Volgens Le Cordeur word kinders vandag in ’n “ontploffing van tegnologie” groot en kan dit eerder as hulpmiddels en toevoegings tot die onderrigproses gebruik word.
Of die skerp daling in geletterdheid en ’n voorliefde vir lees die produk is van plattelandse biblioteke wat sluit, apa-tiese ouers, of swak sosio-politieke omstandighede kan lank gedebateer word.
Volgens Hanekom blyk die hart van die probleem slegs dít te wees: die meerderheid onderwysers kan Kurrikulum 2005 nie baasraak nie en is dus onbevoeg om kinders te leer lees. E
n uiteindelik word kinders die slagoffers van ons samelewing. Die rede waarom ons jeug nie meer lees nie?
Eenvoudig: ons jeug kan nie lees nie, al wil hulle ook.