Ek en jy is media-afhanklik. Die moderne mens word oorweldig deur beeld
en klank in elke beskikbare
medium. Hoe meer mense kry, hoe meer wil hulle hê. Die samelewing
se media-afhanklikheid neem toe soos hul behoefte na media toeneem.
Die media beïnvloed hoe jy die wêreld ervaar en selfs meer:
hoe jy dit wíl ervaar. Ds. Theo Geyser, hoofleraar van Stellenbosch
Gemeente, meen die media skep ’n wêreld waarby die kerk
móét aanpas – as dit wil oorleef. Die kerk verander
deurentyd om die veranderende behoeftes en vereistes van die samelewing,
soos deur die media bemiddel, te ontmoet. Die media skep dus die realiteit
waarby die kerk moet aanpas om verstaan te word.
Óf hulle dit moet doen, is nie meer ’n keuse nie. Media-afhanklikheid
maak dit ’n vereiste om die boodskap oor te dra op ’n manier
wat nie vreemd is vir die samelewing se kultuur nie.
Dít word egter al duisende jare gedoen, verseker Theo ’n
mens. Hy haal Paulus aan in 1 Korintiërs 9: “Vir die Jode
het ek soos ’n Jood geword om Jode te wen. Vir almal het ek alles
geword om in elk geval sommige te red.”
Theo is vasbeslote dat wat belangrik is, is om die bood-skap van Christus
oor te dra. Solank dít gedoen word, maak die manier waarop jy
dit doen, nie saak nie. ’n Britse joernalis, Denise Winterman,
sê in BBC News Magazine: “Sitting in a church doesn’t
make you a Christian any more than sitting in a car park makes you a
car.”
Die vraag is eerder hoe suksesvol kerke is om wél die boodskap
oor te dra, veral tydens die diens. Die redes
waarom mense kerk bywoon, is relatief – deesdae hang dit af van
wat vir jóú werk.
Ds. Pieter Roeloffse, hoof van kreatiewe sake by Stellenbosch
Gemeente, sê ons moet aanvaar “verskillende goed praat harder
met verskillende mense”.
In die Bybel vertel Jesus Sy boodskap deur stories, op ’n manier
wat relevant was vir die mense van Sy tyd. Vandag moet kerke ook praat
in ’n taal wat relevant is. Selfs al is dit via baskitare en ’n
tromstel.
Ja, meen Pieter, die samelewing word beïnvloed deur die media-afhanklike
wêreld waarin ons leef. “Ons raak gefrustreerd as ons Rambo
kyk, want ons het intussen gewoond geraak aan die bevrediging van spesiale
effekte in nuwemedia-gelaaide rolprente.” Net só is die
tradisionele kerkdiens ’n frustrasie vir ’n media-afhanklike
generasie. Dáárom, sê hy, is “multimedia ’n
brug wat Bybelse vreemdhede laat grondvat in ons lewens”.
Maar, sê Pieter, die kerk moet pro-aktief eerder as reaktief wees,
en daar moet gewaak word teen heeltyd vorm rondom die media en die behoeftes
wat deur húlle geskep word. Die gevaar, volgens Pieter, is wanneer
ons afhanklik raak van multimedia in die kerk – wanneer die kerk
mense se Sondag-vermaak word. Theo verskil van hom en sê daar
hoef nie ’n streep getrek te word ten opsigte van wat mense wil
hê die kerk vir hulle moet wees nie – “die kerk moet
aan mense se behoeftes voldoen”.
Beteken dit kerkdienste word “produkte”
waarvan verbruikers kan kies en keur? En dalk ander produkte op die
rak kies wat hulle kan weglok? Is dié nuwe multimedia-gelaaide
dienste dus volhoubaar en geloofwaardig genoeg om die verbruiker te
behou?
Theo voel mense moenie ’n “either/or-denkpatroon daaroor
hê nie”. Volgens hom beteken kommunikasie ook om te vermaak.
Al wat verskil, is die manier waarop dit gedoen word. Die gevaar is
as vermaak die boodskap oorskadu – as mense begin kerk toe gaan
vir die aantreklike man agter die tromme eerder as die boodskap. En
om vermaak gelyk te stel aan God. Daarom, meen Theo, word geloofwaardigheid
net gestroop as vermaak die doel is, maar nie as dit die middele tot
die doel is nie. Kritiek daarteen is egter te verwagte, want “ons
wil altyd reëls en dogmas neerlê wat vir ons sê: ‘dít
is reg’ en ‘dít is verkeerd’”.
Wanneer mense keuses maak, ook ten opsigte van waar
en hoe hulle loof en prys, is die bevrediging van begeerte ’n
menslike faktor.
Die feit dat die media en godsdiens mekaar gebruik, is ’n vereiste
van die kulturele realiteit van die tyd. Die media is ’n groter
sosialiseringsagent van die samelewing as ooit tevore – mediagebruik
is hemelshoog en generasies word groot in ’n era van visuele stimulering.
’n Liniêre boodskap blyk nou volksvreemd in die hedendaagse
aanbiddingstyl te wees. Professor Stewart Hoover, ’n joernalistiekdosent
aan die Universiteit van Colorado-Bouldor, het dié argument saamgevat
tydens ’n openbare lesing oor media en teologie in 1997: “A
religious tradition that has little or nothing to look at, listen to
and touch, cannot sustain us for very long.” SMF