Protestant vs Katoliek – en die media

Noord-Ierland se Protestante (pro-Brits, eenvoudig gestel) en die Rooms-Katolieke (anti-Brits) het vrede gemaak.
Ná eeue van ’n bitter en bloedige geloofstryd is die wapens amptelik neergelê op 8 Mei 2007.
Noord-Ierland het ’n koalisie-regering gekry met eerwaarde Ian Paisley as premier, en sy vorige vyand, Martin McGuinness, as adjunk. NAUDÉ VAN DER MERWE was self in Junie daar en het dié “wonderwerk” meegemaak.

Ierland is onder konstruksie. Letterlik én figuurlik. Daar is nie een provinsie, “county” genoem, waar daar nie padwerke of een of ander vorm van bouwerk is nie. Dit lyk of die land besig is om reg te maak vir iets groots.
En ja, Ierland het polities en godsdienstig gesproke ’n nuwe blaadjie omgeslaan.
Hoe vang ’n mens die gees van ’n land vas wat so lank deur konflik en geweld geregeer is? Kan jy die koerante, boeke, webwerwe, televisie -en radiostasies gebruik om te sien en te hoor wat aan die gebeur is?
Natuurlik gaan jy veel wys word, maar die mense, die geboue en die atmosfeer sê meer.
Ierland se geweld, soos ook ander lande se konflik op die oomblik, word direk gekoppel aan geloof. En hoe baie oorloë is nie al in die naam van geloof gevoer nie? In Ierland is dit egter dieselfde geloof – die Christelike geloof – wat die kwaad stook. Dit klink belaglik, maar dit is nie, want vir ’n Ier is dit nie belaglik nie. Hulle word groot in ’n kultuur van geweld. Die konflik is immers deel van hul identiteit.
As ’n mens die rede vir dié konflik so verstaanbaar as moontlik wou maak, sou jy dit heel waarskynlik só begin en eindig: In Ierland hou die Katolieke en die Protestante nié van mekaar nie.

Dis so eenvoudig. Maar dan begin die “maar’s”.
Brittanje, hoofsaaklik Protestant, het Ierland net na die Hervorming in ongeveer 1654 oorgeneem. Die Iere, hoofsaaklik Katoliek, was uit die aard van die saak ontevrede hiermee. Die grootste gedeelte van Ierland het sedertdien onafhanklikheid verkry, maar tot vandag toe nie Noord-Ierland nie. En dit is waar dit so rof gegaan het.
Die gebied funksioneer apart van die res van die eiland omdat dit deur Brittanje regeer word. Die Republikeinse Iere – met
ander woorde die Katolieke – wat hier woon, het geen ooghare vir die “indringers” van Brittanje nie, en andersom.
Die woorde “Katoliek” en “Protestant” word aan die twee “vyande” gegee, maar dit het lankal nie meer enigiets met geloof te doen nie. Dit het ná eeue in ’n ingewikkelde politieke situasie ontaard wat nou vir die eerste keer tot rus kom.
Tydens ’n toer deur Belfast, die hoofstad van Noord- Ierland, ry ’n mens deur ’n straat wat twee geboue van mekaar skei. Die een gebou huisves The Irish News met ’n onlangse sirkulasie van 49 046. Die ander een is die tuiste van die Belfast Telegraph (jongste sirkulasie van 94 540). Volgens die toergids weet ’n mens dadelik dat jy ’n Katoliek is as jy The Irish News lees, en Protestant as jy die Belfast Telegraph verkies.
Dit is een van die dinge wat die meeste opval van Belfast: die twee pole langs mekaar. Die “Peace Walls” van ses meter hoog, wat steeds deur die hele stad gesien word, is iets wat ’n mens nie verwag nie. Dié mure is opgerig om Protestante en Katolieke woonbuurte van mekaar te skei, “want as die Katolieke en die Protestante mekaar nie kan sien nie, kan hulle mekaar nie doodmaak nie,” sê die toergids.
Die mure is tot die uiterstes beproef tydens die 1970’s tot 1990’s, toe konflik ’n klimaks bereik het. Volgens ’n artikel wat tydens die totstandkoming van die nuwe regering op 10 Mei in The Economist verskyn het, is die meeste mense steeds ten gunste van die “Peace Walls”. ’n Mens ervaar wel nog spanning in Belfast se strate; die mure is dus nog nodig.
Want oral is daar nog tekens van die geweld wat die Noord-Iere verteer het. In Belfast se hoofstraat is daar gate waar geboue was. Die geboue is doodeenvoudig opgeblaas.
Die afwesigheid van die nuus oor dié grootse gebeurtenis in Ierland se geskiedenis in Ierse koerante in Junie was opmerklik. Die nuwe
regering in Noord-Ierland, waar Sinn Fein (die “Katolieke”) saam met die DUP (Democratic Unionist Party, oftewel die Protestante) ’n regering vorm, het op 8 Mei vanjaar in werking getree.
Eerw. Ian Paisley van die DUP en Gerry Adams, leier van Sinn Fein, nou ’n politieke party en voorheen gesien as die politieke vleuel van die Ierse Republikeinse Leër, het vrede gemaak en sit vir die eerste keer nie net saam aan tafel nie, maar moet saam regeer.
’n Mens is dus verbaas as jy nie in die koerante kry wat jy soek nie. In onder meer The Irish Times en Irish Independent, die twee koerante met die hoogste sirkulasiesyfers in Ierland, is min oor die situasie in Noord-Ierland geskryf.

Die Irish Independent het volgens ’n opname wat deur die webwerf finfacts.com in Augustus 2006 gedoen is, ’n sirkulasie van 162 582 koerante ’n dag, die grootste in Ierland. The Irish Times het ’n daaglikse sirkulasie van 117 797. En teen einde Junie was daar in dié koerante nie veel te lees oor Ierland se nuwe vredesproses nie. En ’n Britse koerant soos The Guardian se fokus was uit die aard van die saak meer op Gordon Brown se oorname as eerste minister, want dit was toe nuus.

Waar gemeenskapskoerante soos die Dundalk Democrat en die Fingal Independent in dorpies soos Dundalk uitgegee is, het hul hulself hoofsaaklik besig gehou met gemeenskapsnuus.

Jy’t dalk gedink jy gaan na die nuusfront, by wyse van spreke, om ’n artikel te skryf oor die wapenstilstand. En dan lyk dit of dit gewoon ’n geval is van gewone mense wat met hul gewone lewens wil voortgaan.
Die hoofnuus in die koerante was alledaagse stories, soos die toestand van die onderwys. En die bomdreigemente in Londen, soos seker in die meeste ander koerante van daardie tyd. Daar was hier en daar ver-wysings na die Ierse politieke situasie, maar min
daarvan in-diepte.
Die internet vertel egter ’n ander storie. Op The Irish Times se webwerf is daar ongeveer 70 stories wat handel oor Noord-Ierland se politieke situasie tydens Junie, Julie en Augustus, die maande nadat die amptelike
vredesproses in werking getree het.
Op 31 Julie vanjaar verskyn twee groot stories waarin die einde van die Britse weermag in Noord- Ierland aangekondig word. In die
ander storie noem die joernalis Fintan O’Toole dat 28 000 Britse soldate in 1972 in Noord-Ierland gestasioneer was. Dit is vier maal meer as die hoeveelheid soldate wat Brittanje tans in Irak het. En Noord-Ierland beslaan ’n baie kleiner gebied.

Op 17 Augustus skryf die joernalis David Adams in The Irish Times dat baie mense glo versoening sal slegs plaasvind indien Noord-Ierland deur ’n “waarheidsproses” gaan. ’n Buitestander sal dit moeilik verklaar, maar as Suid-Afrikaners behoort ’n mens iets van dié konflik te verstaan.
In die Ierse skrywer Jamie O’Neill se roman At Swim, Two Boys, wat hom afspeel teen die agtergrond van die Ierse soeke na onafhanklikheid van Brittanje in 1915, verduidelik een karakter aan ’n ander dat die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog van die doringboom as “Wait-a-bit thorn” (wag-’n-bietjie-bos) gepraat het. Hy sê dan: “Strange class of people.”
Maar dit is presies hoe ’n mens oor die Iere voel. Vreemd. En jy weet nie altyd of jy al die fynere nuanses van taal en politiek kan begryp nie. Gaelic football? Hurling? Ierland se nasionale sporte wat volksvreemd vir hetsy Afrikaner of Suid-Afrikaner is.
Maar dan besef jy ook dat konflik en oorlog universele eienskappe het – eienskappe waarmee die meeste mense op aarde hulself kan vereenselwig.
As ’n persoon wat al in verskeie dele van Ierland gewoon het, sê Linda Butler, ’n dosent aan die Dundalk Instituut van Tegnologie naby Dublin en ’n boorling van Cork in die Suide, ’n mens moet dit self ervaar. Sy sê die konflik het niks meer met geloof te doen nie. Sy vertel hoe haar suster, ’n Katoliek van Cork, stilgebly het toe sy in ’n Protestantse deel van Belfast was om nie haar aksent te laat blyk nie.

Volgens die toergids sou jy ongeveer ses jaar gelede nie met jou motor op dieselfde dag in ’n Protestantse en dan ’n Katolieke buurt kon ry nie. Jy sou dit nie lewend uit maak nie. Vandag is dit anders – selfs ’n toerbus ry daar rond. Eers verby al die Britse vlae, dan al die Ierse vlae. Die skeiding is duidelik, maar daar is vordering. Katolieke en Protestante kinders gaan vir die eerste keer in Belfast saam skool.
“Noord” en “Suid” voel asof hulle nooit van mekaar se bestaan geweet het nie. Die twee is wêrelde van mekaar, maar tog op dieselfde klein eiland wat nie veel groter as die Vrystaat is nie. SMF