Kaalkop-Waarheid

Johann Rossouw is ’n Afrikaan, mediarolspeler en filosoof. Sarietha Engelbrecht het agtergekom die gesig
van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) sit beslis nie met ’n bek vol tande nie.

Johann Rossouw is ’n mediamens. Hy skryf in koerante soos Beeld, Die Burger, Volksblad, Rapport, die gewese Insig, asook op LitNet, oor onderwerpe soos rolprentontledings, maatskaplike vraagstukke, populêre kultuur, globalisering, etiek, politiek, godsdiens, letterkunde en filosofie. Hy was ook ’n aanbieder van “Spookstasie”, ’n voormalige program oor die filosofie op RSG.
Op sy CV sal ‘n mens sien hy het ook al gewerk in boekwinkels, as taalpraktisyn, as navorsingsbibliotekaris, as deeltydse dosent en as organiseerder van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees se lesingsreekse.
Johann is egter beter bekend vir sy rol by die FAK waar hy as navorsings- en kommunikasiebeampte gewerk het. Hy was ook verantwoordelik vir die stig van die FAK–blad, Die Vrye Afrikaan (DVA), met die Afrikaanse bylae van Le Monde diplomatique.
En nou is hy voorsitter van die FAK en woon in Pretoria saam met sy vrou, Rika, haar elfjarige dogter en hul seun van tien maande.
Johann is ’n rustige, diplomatiese ou. Hy praat graag oor godsdiens in die algemeen, en die dekking daarvan in die media. En hy het beslís sterk opinies.
Hoe ’n groot deel van Die Vrye Afrikaan word aan godsdiens gewy? Volgens Johann word daar nie ’n kwota aan godsdiens afgestaan nie, maar wél aan aktuele sake. Wanneer ’n godsdienstige kwessie aktueel raak, sal DVA daaroor skryf. “Ons aanvaar nie die idee dat religieuse
oortuigings ’n private saak is en dat jy dit daarom nooit in DVA aanraak nie.”
Twee jaar gelede het DVA ’n ondersoekende artikel, “Die NG Kerk en sy tyd”, wat heelwat kritiek in godsdienstige kringe ontlok het, gepubliseer. Johann meen dit was omdat die voorbladartikel ’n omstrede artikel was.
Daarna het hy in die openbaar verskoning gevra en gesê “die prentjie wat van die kerk geskets is, was nie in alle opsigte ’n korrekte of volledige weergawe nie”.
Volgens Johann het kerkleiers gevoel van die probleme is aangeraak, maar ’n volledige prentjie is nie geskets nie.
Hy sê ook DVA se godsdienstige inhoud is nie
altyd Christelik nie, en as ’n groot debat aan die gang is in ander gelowe, sal hulle daaraan aandag gee. “Religie is ’n belangrike deel van gemeenskapslewe en ons probeer op ’n kreatiewe manier daaroor dink en debatte stimuleer. Dit word nie gedoen om polemiek te ontlok nie, maar eerder om saam met ons lesers oor religieuse kwessies te besin.”
Johann sê in terme van kwantiteit is daar goeie dekking oor religieuse kwessies in die Suid-Afrikaanse media. “My probleem is die dekking wat gegee word, is dikwels baie gebrekkig en nie goed deurdag nie.”
Johann voel ander gelowe as Christenskap moet meer aandag geniet, maar daar is tog soms artikels van
hoogstaande kwaliteit. “Die probleem in Suid-Afrika is enige ander geloof, buiten die Christelike geloof, is
natuurlik ’n minderheidsgeloof. Jy gaan baie minder daaroor te lese kry.” Hy meen egter dit is nie doelbewus nie, maar ’n newe-effek van die oorsig wat ’n mens kry.
Volgens hom sal dit goed wees as ’n mens in die hoofstroom-media meer kan lees oor aktiwiteite of debatte wat plaasvind in kleiner gelowe.
“Jy gaan by mense ’n groter begrip en belangstelling vir mekaar se tradisies wek. Daardie gesprek kan dikwels vir mense se eie geloofspaaie baie beteken.” Maar dit, sê hy, is dalk ’n bietjie idealisties.

Hy sê daar is in Suid-Afrika ’n hoë godsdienstige verdraagsaamheid tussen verskillende geloofsgemeenskappe. “Ek lees min goed waarin daar ’n ooglopende verdraaiïng of onkunde bestaan.”
Maar Johann het ook ’n bekvol te sê oor meningsvormers aan die ander kant van die geloofsmuur.
Met George Claassen, ombudsman van Die Burger en uitgesproke skeptikus, het hy ’n byltjie te slyp. George het pas ’n nuwe boek oor geloof, bygeloof “en ander wensdenkery” geskryf. Johann voel George se wetenskaplik-gegronde uitlatings is “ontoereikend en positivisties” en dat hy ’n “irrasionele inslag tot die godsdiens het”.
“Sy skryfwerk getuig van ’n baie swak kennis van die religie.”
Volgens Johann is wetenskap en godsdiens heeltemal versoenbaar. “Die terreine het te doen met verskillende waarhede. Wetenskap het te make met die verifieerbare en die religie met die metafisiese.” Hy meen godsdiens is ’n tradisie wat oor eeue tot stand gekom het. “Dit is ’n persoonlike ervaring en is nie iets wat minder geldig is nie.”
Johann glo in die oerknal-teorie vir die ontstaan van die aarde, maar glo ook daar is geen rede waarom ’n God nie daarvoor verantwoordelik kon wees nie. Hy voeg by dat die geskiedenis al verskeie vorige teorieë verkeerd bewys het en dat daar geen rede is hoe dít nie weer kan gebeur nie.

Johann meen godsdiens is onderliggend aan verskeie vraagstukke in die samelewing. Ook die gay-debat word aangevuur deur godsdienstige argumente, veral in die NG Kerk. Hy meen ’n mens moet eers kyk na hoe dit ontstaan het. Volgens hom het Afrikaans die afgelope 150 jaar deur drie groot tegniese omgewings beweeg. Dit is die era van die gesproke woord (die logosfeer), die era van die gedrukte woord (die grafosfeer) en die era van die oudiovisuele woord (die videosfeer), laasgenoemde vanaf 1975 met die koms van televisie.
Johann sê die kerk het wegbeweeg van ’n grafosfeer na ’n videosfeer en dít het probleme veroorsaak, want lidmate se kennis van die Bybel neem af.
“Dit is ironies, want mense lees minder, maar hulle kennis en besluite is meer absoluut.” Volgens hom is die NG Kerk in ’n krisis, want dit beleef institusionele en kulturele onsekerheid.
Johann voel die Bybel het ’n belangrike rol om te speel in die samelewing. “As ’n mens kyk na religieuse twispunte, waar die Bybel ingespan word as ’n maatstaf om standpunt in te neem oor die debat, dink ek sien ’n mens iets positief en negatief.” Hy meen die positiewe is dat mense dit wel as ’n maatstaf gebruik, maar die negatiewe is dat dit so ondeurdag is “dat jy begin wonder of dit regtig nog met die Bybel iets te doen het”.
“Ek dink die groot krisis van die Christendom in Suid-Afrika is die dun teologiese basis daarvan.” Hy meen dit het te doen met die opkoms van die videosfeer en dat dit groot skade doen aan die Christendom. Volgens hom word ’n tradisie van twintig eeue “baie skraps” in plaaslike
debatte weerspieël. “Mense maak uitsprake in die naam van Christenskap en dan kan jy maar net jou kop skud
omdat hulle hul eie tradisie so swak ken.”

Ook oor die swanesang van Insig, ’n Media24-tydskrif wat onlangs weens marksdruk moes sluit, het hy ’n siening. “’n Grappie doen al ’n geruime tyd die rondte dat Insig net vir afvallige De Kat-lesers was.”
Hy meen Insig het probeer om ’n intellektuele leefstyltydskrif te wees. Om dít te doen, moet daar ’n duidelike intellektuele lyn gehandhaaf word en volgens hom het Insig nie geweet wat dit wou wees nie.
Hy meen “vervlakking is die grootste gemene deler”, en daarom is dit moeilik vir intellektuele publikasies om winsgewend te wees. “Jy gaan nooit ryk word nie. Jy moet maar bydra tot die simboliese kapitaal van die gemeenskap.”
Johann sou baie graag wou sien dat die Afrikaanse Christelike wêreld geplaas word binne ’n groter konteks van veral Afrika. “Ek lees nou die dag daar kom elke dag 20 000 mense in Afrika tot bekering. Daar is
fassinerende goed in Afrika aan die gang en ek sou baie graag meer daarvan wou weet.”
Volgens hom is dekking van ander gelowe in die media “skaflik tot goed”, maar daar is ruimte vir verbetering. “

’n Mens moet besef die bronne wat vir intellektuele publikasies in Afrikaans beskikbaar is, is baie beperk.”
Johann meen ook die kwessies wat die afgelope agt tot tien jaar in die Afrikaanse media gedebateer is, dui daarop dat die Afrikaner se intellektuele lewe oor veel meer as godsdiens handel.
Dié eens-kaalkop-Afrikaner, mediarolspeler en filosoof het nou wel van voorkoms verander vandat hy aangestel is as voorsitter van die FAK, maar sy menings is sy eie kaalkop-waarheid.
Of dit oor geloof of Afrikaans is, Johann hét ’n mening. SMF