Die naam is Bond. Nathan Bond. En hy
ís op ’n missie: Om gelowiges te laat besef hoe belaglik
dit is om in ’n god te glo.
Herman Scholtz het met hom gepraat oor sy vete teen
godsdiens.

Die enigste manier om mense se aandag te kry, volgens
Nathan Bond*, is om beledigend en opdringerig te wees. En dít
is wat hy is.
Nathan veg onverpoos om die invloed van godsdiens op die samelewing
te bevraagteken en te beveg. Hy doen dit op die internet, in briewekolomme
en in sy tydskrif. Koerantlesers sal hom herken aan die briewe in die
pers, en internetgebruikers sou hom moontlik raakgeloop het op Kletskerk.
Hy monitor reeds vir etlike jare die verslaggewing oor godsdienstige
aangeleenthede. En hy skryf. Aan elke koerant, elke tydskrif en elke
internetforum wat wil luister.
Nathan skryf weekliks sowat 30 bladsye vol briewe aan die media. Volgens
hom word sowat 6 persent daarvan gepubliseer.
“Ek neem nie redakteurs kwalik dat hulle nie al my briewe publiseer
nie – hulle moet immers hul produk verkoop en nie lesers vervreem
nie. Maar dan moet hulle ook nie hul luisteraars verdom deur snert te
publiseer nie”.
Nathan het ’n broertjie dood aan die algemeen-aanvaarde Christelike
aanslag van die Afrikaanse pers en glo die koerante en die kerk is saam
in die bed.
Hy verwys as voorbeeld na die verwydering van Die Burger se ombudsman,
George Claassen, se joernaal op dié koerant se webtuiste. Claassen
se weblog, Prometheus Ongebonde, het gehandel oor logiese denke, sogenaamde
“onsinverklikkers” en waarom mense in ’n god glo.
“Dit was té omstrede vir Die Burger om ’n wetenskapsredakteur
en ombudsman te hê wat nie in feëtjies glo nie. Daarom het
hulle ’n man van onkreukbare integriteit en wat ontsaglik baie
vir wetenskap in die joernalistiek beteken, se mond gesnoer. Die Burger
het daardeur nie net hul logiese lesers vervreem nie, maar ook die gelowiges
verdom,” meen Nathan.
Nathan Bond skryf met sy hart in sy keel.
“Ek volg ’n beledigende aanslag. Dit help nie om te praat
as jy nie skok nie”. Nathan sê hy het nog nooit sensasie
gebruik om sy mening te lug nie. Hy wys bloot vir mense uit hoe belaglik
godsdiens is.
Volgens hom is gelowiges “bang, lui of dom”.
Hy wil nié die wêreld verander nie. Dit is, volgens Nathan
Bond, Mission Impossible. “Niks wat ek of enigiemand anders sê
sal godsdiens verander of vernietig nie. Ek wil net hê dat iemand,
een of ander tyd, vir ’n vlietende oomblik dink: ‘Daar is
iemand wat van my verskil en dink ek is absoluut belaglik’.”
Nathan sê hy wil nie bekendstaan as die Suid-Afrikaanse Richard
Dawkins nie. “My naam kan nie eers in dieselfde paragraaf genoem
word nie. Ek loop maar net agterna.” Hy gee ook nie om as hy mense
beledig nie. “Ek soek nie dissipels nie. Jy moet hulle êrens
langs die pad begin voer.”
Dit was nie altyd sy houding nie. Nathan Bond het grootgeword in ’n
konserwatiewe Sewendaagse Adventiste-kerk. En hy wou ’n kerkleier
word.
Nathan het sy graad in teologie deur die Andrews University in Amerika
behaal. Hy is nie spyt oor sy teologiese opleiding nie. “Dit het
my geleer om vrae te vra en antwoorde te soek”.
Ná sy studies het Nathan vir twee jaar millitêre diensplig
gedoen. Die indoktrinasie van die weermag het hom verder ontnugter.
“En dit álles was in die naam van God,” voeg hy by.
Die tydperk wat gevolg het, was vir hom een van ongeërgd-
heid. Hoewel hy hom nie meer as gelowig beskou het nie, het dit hom
ook nie gepla dat ander mense gelowig is nie.
“Die gebeure van 9/11 het ’n reuse-invloed op my gehad.
Ek onthou dat ek na die televisie gestaar het. Al wat ek heeltyd gedink
het, was: Dis gelowige mense hierdie!”
In 2003 het ’n persoonlike krisis sy ongeërgdheid in uitgesproke
protes verander. Die alias Nathan Bond is gebore en hy het aktief begin
deelneem aan die godsdiensdebat. Hy het ook in dié tyd begin
speel met die gedagte van ’n eie tydskrif waarin hy kon sê
wát hy wil, wánneer hy wil. Dit sou uiteindelik lei tot
’n e-tydskrif van sy eie.
Theological Antiretroviral Therapy (TART Remarks) het ten doel om die
invloed van godsdiens op die samelewing te ondersoek. Nathan is die
redakteur en
uitgewer daarvan. Die naam hou verband met Richard Dawkins se stelling
dat godsdiens ’n meem is, ’n soort virus van die brein wat
homself gedurig vermenigvuldig om te oorleef. Die tyd-skrif dien dus
as anti-retrovirale middel vir die “godsdiens-virus”.
Die Afrikaanse woord vir “tart” beklemtoon die styl van
die publikasie as beledigend en uitdagend.
TART Remarks het die eerste keer in Augustus verlede jaar verskyn. Sedertdien
ontvang intekenare elke Sondag ’n afskrif van die tydskrif in
Pdf-formaat.
Die tydskrif het tans 5 000 intekenare, waarvan sowat ’n derde
Suid-Afrikaners is. Die res van die intekenare is hoofsaaklik in GrootBrittanje
en Amerika.
Die inhoud van TART Remarks bestaan uit berigte oor godsdiens uit die
vorige week se media, boek-resensies, verslae oor konferensies en toesprake,
humoristiese staaltjies, prentjies en redaksionele kommentaar.
Een van TART Remarks se uitgawes (16 April 2007) het veral omstredenheid
veroorsaak. Die hoofstorie het gelui: “Professor Russel Botman
has been inaugurated as the rector of the University of Stellenbosch.
I object!”.
Nathan se kapsie teen Botman se inhuldiging spruit uit die feit dat
Botman ’n teoloog is. “Hierdie man staan aan die hoof van
een van die grootste en belangrikste
universiteite van die land. As iemand vir jou sê hulle gaan besluite
neem deur raad te vra van hul denkbeeldige vriend, êrens daarbó,
is dit rede tot kommer. Niemand het nog ooit dié vriend gesien
nie. Niemand weet of hy bestaan nie. Maar jy gaan dat hý jou
lei. Ons móét bekommerd wees,” sê Nathan.
Sowat ’n honderd intekenare het Nathan laat weet dat hy nou té
ver gegaan het, en het hul intekeninge gekanselleer.Nathan word egter
nie afgesit deur dié reaksies nie. Hy is, volgens sy eie definisie,
’n “onredelike en radikale ateïs”.
En hy sal aanhou probeer om die wêreld te red van godsdiens. Soos
’n wafferse Bond.
Al weet hy dit is “Mission Impossible”.SMF
*Wat is in dié naam?
Nathan Bond is nie sy regte naam nie.
Die man agter Nathan Bond is Drewan Baird, ’n sakeman van Oudtshoorn.Nathan
Bond ontleen hom aan twee karakters, Nathan die Wyse en natuurlik Bond,
James Bond.
“Nathan die Wyse” is ’n leergedig deur Gotthold Ephraim
Lessing van die agtiende eeu. Die karakter moes op die sultan se bevel
sê watter een van die groot gelowe van die tyd –
Judaïsme, Mohammedanisme en Christendom – die ware een is.
Nathan was in ’n moeilike situasie, aangesien ’n keuse tussen
enige van dié gelowe tot sy dood of verstoting sou lei. Nathan
het toe ’n staaltjie uitgedink van ’n man wat al drie sy
seuns ewe lief gehad het, maar sy waardevolle ring slegs aan een seun
kon nalaat. Hy het toe drie identiese namaaksels laat maak en elke seun
een laat erf. Nie een van dié ringe, of gelowe, was dus eg nie.
Die van “Bond” is, volgens hom, die banale deel van die
naam. Hy het dit gekies oor James Bond se droë martini-kuns in
Casino Royale. En ook oor die karakter in die Bond-flieks Miss Moneypenny
se opmerking: “James is such a cunning linguist”.