Na
’n wyd gepubliseerde skeiding tussen Die Kerkbode en die webwerf
Kletskerk, is dié geselsruimte steeds springlewendig en gesond.
Jean Oosthuizen het vir Joanita Cillié vertel
van die merkwaardige groei van dié webwerf – waar gelowiges
en ongelowiges hul vrese, hartseer en blydskap met mekaar deel.
“Ek het steeds Die Burger se plakkaat met die woorde ‘Kletskerk
vandag gesluit?’ in my kantoor.”
Dit is net ná 17:00 op ’n wintersdag. Die man voor my is
Jean Oosthuizen, moderator en stigter van Kletskerk. Ons soek warmte
voor die kaggel in ’n Stellenbosse eetplek. Ons gespreksonderwerp
oor ’n koppie koffie is Kletskerk en die webwerf se nuwe lewe.
Waar dit gelyk het asof Kletskerk se deure gesluit sal word, het dit
soos ’n feniks uit die as verrys, ’n nuwe fondasie –
’n webwerf van sy eie – is geskep.
Voorheen die geselsruimte op die webwerf van Die Kerkbode, waar Jean
’n joernalis is, is Kletskerk ’n plek waar gelowiges en
ongelowiges met mekaar kan debatteer oor enigiets onder die son. En
gesprekke vind altyd hul pad terug na een onderwerp: geloof.
Dinge het egter kort ná die ontstaan in 2005 begin warm raak,
want op dié webwerf word “robuuste debatte” gevoer.
Die Kerkbode – en dus ook die NG Kerk – het hulle van die
webbwerf gedistansieer ná hulle gevoel het die artikels en gesprekke
wat gevoer word, ruk handuit. Alle skakels van
Die Kerkbode se webwerf na Kletskerk is mettertyd verwyder.
Jean, wat voorheen ’n politieke korrespondent by Gautengse dagblaaie
was en later joernalis by die SAUK, sê hy probeer om die besprekings
so min as moontlik te reguleer. Hy meen die webwerf en sy gespreksgenote
moet eintlik sélf die reëls maak.
Die vryskutjoernalis
en voormalige godsdiens- verslaggewer van Die Burger, Johannes de Villiers,
het onlangs op sy blog geskryf: “Self neem ek nie deel nie, want
ek probeer minder vloek en ek wil self nie gevloek word nie”.
Hierop het Jean Kletskerkers vermaan: “Ek hoop die vloekendes
hier neem kennis dat hulle goeie insette mis as gevolg van hul aanhoudende
gevloek.”
Vra hom hieroor uit, en hy skud sy kop.
“Dit is ’n plek waar mense gáán vloek en godslasterlik
wees. Dis soos ’n dorp se markplein of die Kaapse Parade –
goed en sleg vermeng. Wanneer ’n leser nie van iets hou nie, moet
hy maar net aanblaai.”
Jean het wel onlangs twee inskrywings wat ’n “bietjie te
erg” was afgehaal – hy kan ook sommige gebruikers se toegang
tot die webwerf blok (indien hulle té veel kwytraak), maar dit
is die uitsondering op die reël.
“In Moreletapark was daar een ou en toe die gemeente het gekla
oor die taalgebruik. Dan was daar ook ’n ou in Pietermaritzburg
wat ongelukkig was.”
Dié gebeure het die NG Kerk se besluit om hulle nie meer met
Kletskerk te assosieer nie, voorafgegaan.
“Dis die kerk se loss,” sê hy. “Dit was tot
Kletskerk se voordeel. Die een ou wat ge-moan het se naam is Oom Cor.
Deur al die mediablootstelling wat Kletskerk hierdeur gekry het, het
hy meer vir die webblad gedoen as wat enige advertensie ooit sou kon.”
Alhoewel Kletskerk
volgens hom al van die begin af “geboom” het, het die aantal
besoekers verdubbel nadat die stories die
koerante gehaal het. Die groei het nie gestop nie, en in Mei vanjaar
is die hoogste getal besoekers in die geskiedenis van Kletskerk aangeteken.
Die meerderheid mense het deur die groot bohaai in koerante en tydskrifte
daarvan te hore gekom. Jean vertel ongeveer 80 persent van die geregistreerde
Kletskerkers, wat onlangs bymekaar gekom het vir ’n braai, het
ook so van die webwerf te hore gekom. Stories oor die skeiding is in
tydskrifte soos Insig, Lééf en Vrouekeur gepubliseer.
Daar was ook artikels in die Afrikaanse koerante, asook in By, Saterdag-bylae
van die Afrikaanse susterpublikasies.
Op Die Kerkbode se webwerf is ’n meningspeiling gedoen om te bepaal
wat die gebruikers van Kletskerk oor die verwydering van die skakel
dink. Meer as tweehonderd mense het gestem.
Nagenoeg 60 persent was jammer daaroor, terwyl 30 persent hul kruisie
vír die verwydering van die skakel getrek het. Hierdie onderwerp
was een van dié wat die meeste reaksie (in vergelyking met ander
meningspeilings wat op die webwerf gedoen is) uitgelok het.
Waar ’n mens moontlik iemand sou verwag wat dalk verbitterd is,
is Jean presies die teenoorgestelde. Hy sal selfs wil hê die skakels
moet teruggeplaas word na Die Kerkbode se webwerf, indien die kerk dit
sou wou hê. Hy voel die kerk begaan ’n groot fout deur nie
na die debatte wat gevoer word, te luister nie.
“Die kerk moet leer dat debat nie gesmoor kan word nie. Hoe op
dees aarde gaan gelowige mense weet waaroor ongelowiges dink as hulle
nie face to face wil debatteer nie en eerder eenkant in die hoekie gaan
sit?”
Hy vertel talle predikante besoek ook die webwerf en leer daaruit. “Predikante
wat deelneem, word verwelkom, want dit is belangrik vir mense om te
besef hulle het ook vrae en onsekerhede. Een predikant het onlangs selfs
gesê hy voel Kletskerk se debatte moet verpligte leesstof vir
alle teologiestudente en selfs teoloë wees.”
Nadat hy die LitNet-debat
oor godsdiens begin volg het, het Jean die leemte in Christelike kletskamers
geïdentifiseer en besluit om Kletskerk op Die Kerkbode se webwerf
te begin.
Jean sien die webwerf as ’n plek waar mense eerlik met mekaar
kan gesels. Daar is al oor die 100 000 artikels gepubliseer, en daar
is reeds meer as 1 000 gebruikers geregistreer. Die gemiddelde “Kletskerkers”
is in hul vroeë dertigs en is professionele mense van regoor Suid-Afrika
sowel as oorsee. Daar is tans ’n gelyke mengsel van gelowiges
en ongelowiges.
Jean vertel hy het voor die begin van Kletskerk ’n wanopvatting
oor ongelowiges gehad. “Ek het agtergekom alhoewel hulle anders
glo, sommige van hulle die greatste mense ooit is.”
Wat die webwerf selfs meer uniek maak, is dat interaksie nie slegs tot
die kuberruimte beperk word nie. Daar is reeds ’n paar Kletskerk-partytjies
by van die lede se huise gehou. Die eerste was in Somerset-Wes, waar
Jean ook woon. Ander het reg oor die land gevolg – van Oudtshoorn
tydens die KKNK, tot in Pretoria tydens die sitting van die NG Kerk
se Algemene Sinode.
Wat ongewoon van
dié partytjies is, is die feit dat mense wat mekaar in die kuberruimte
openlik kritiseer en veg oor wat hulle glo, nie
skaam is om mekaar te ontmoet en in die oë te kyk nie. Dít
nadat hulle allerlei opmerkings vanuit die veilige hawe van
’n skuilnaam kwytgeraak het.
“Die mure val weg en almal kuier saam,” sê Jean. “Een
van die ongelowiges het sy vrou deur Kletskerk ontmoet. Die mense deel
ongelooflike stories met mekaar. Onderling baklei hulle soos kat en
hond, maar op die ou einde skep dit die gevoel van ‘ons loop híér
kerk’.”
“Die tyd van ’n predikant wat voor ’n gemeente staan
en vir die lidmate preek, is verby. Deesdae wil mense engage en vrae
vra. Hulle wil debatteer oor kwessies.”
Jean voel die toekoms hou baie vir dié webwerf in. “Op
dié stadium loop Kletskerk sy eie pad, en staan op sy eie voete.”
Dit bestaan nou as ’n webwerf in sy eie reg en daarom hoef Jean
aan niemand verantwoording te doen oor die besprekings nie, soos in
die verlede met Die Kerkbode.
Hy bestuur die webwerf tans alleen in sy vrye tyd, en hoewel dit baie
van sy tyd in beslag neem, verkies hy dit só. Kletskerk hou hom
op hoogte van alle nuwe ontwikkelinge en daarom vul dit sy werk by Die
Kerkbode aan, in plaas daarvan om daarop inbreuk te maak.
Indien dit in die toekoms onmoontlik word om dit alleen te doen, sal
hy nie skroom om nog ’n moderator te kry wat hom kan help om die
gesprekke in toom te hou nie. Hy dink egter nie dit sal sommer gebeur
nie.
Jean vou sy hande saam en kyk my in die oë wanneer hy sê:
“Godsdiens is deel van ’n ou se lewe en dit sal oor die
eeue heen so wees. Ek wil hê Kletskerk moet ’n brugbouer
wees. Een wat help brûe bou tussen mense van verskillende agtergronde.”
SMF