KOL banner

Universiteit Stellenbosch – ’n teleskoop van hoop wat ’n blink toekoms voor ons studente laat ontvou

“Dit is geskryf in woede en liefde, waarsonder daar geen hoop is nie. Dit is bedoel as ’n verdediging van verdraagsaamheid – wat nie met oogluikende toelating verwar moet word nie – en radikaliteit.” – Paulo Freire oor sy boek The Pedagogy of Hope.

Prof Russel Botman het die begrip “pedagogie van hoop” aan die Universiteit Stellenbosch aanvaar om te dien as ’n rigtinggewende beginsel vir onderrig, navorsing en leer. Hy glo dat ons werk aan die Universiteit gegrond moet wees in die gedagte van “hoop”. As ons dus aanvaar dat “pedagogie” die kuns en wetenskap van onderrig weerspieël, of van hoe mense leer, moet “hoop” in ons onderrig veranker wees. Dit word die grondslag waarop die boodskap van moontlikheid bo beperkings, geleentheid bo sinisme, skepping bo vernietiging en inderdaad hoop bo pessimisme aan almal in ons gemeenskap verkondig kan word. Hy verduidelik:
Hoop is meer as optimisme; dit is ’n gebiedende noodsaaklikheid in die menslike toestand. Jy kan nie onderrig sonder hoop hê nie. Daar sal sonder twyfel onderrig plaasvind, maar leer – daardie spesiale proses waarin ons absorbeer en aanpas en bevraagteken – sal skade ly as hoop nie deel daarvan is nie. Kennis, in al sy verskillende vorme, is die kanaal waardeur toekomsgeleenthede aangegryp en toekomssukses bereik word – hoe beter die kanaal, hoe beter pas dit aan by individuele behoeftes en hoe beter is die reis en die eindbestemming. Die hoofdoel wat bereik word deur die pedagogie van hoop die middelpunt te maak van wat hierdie instelling aandryf, is om ’n verwysingspunt in die toekoms te kry. Dit is vir my ’n uiters belangrike stukrag agter hierdie instelling omdat ons moet onthou dat ons nie net met verwysingspunte in die verlede werk nie – ons aanvaar nie ’n student aan die Universiteit en gebruik die “nou” as ’n verwysingspunt nie. Ons aanvaar in werklikheid daardie student ’n hele paar jaar lank, en ons bring hierdie werklikheid in berekening in die konteks van leer en onderrig. Dit is ’n veel meer subtiele begrip om uit te leef, en ons noem dit “lewenslange leer”, wat beteken ons leer mense hulle lewe lank, leer hulle hoe om in al hulle lewensjare te leer deur ’n dors na kennis en ontwikkeling in hulle te skep, en nie net ten opsigte van hulle beroep nie. Hoe om hierin te slaag is ’n belangrike uitdaging vir ’n pedagogie van hoop. Dit beteken jy moet begin soek na potensiaal, toekomskontekste en ander geleenthede, en vasstel hoe studente voorberei kan word om deur deure te stap wat met verloop van tyd voor hulle sal oopswaai. Die begrip “hoop” bring ons die naaste hieraan – om te werk met die begrip “hoop” is om ’n teleskoop op te tel, te fokus op ’n beter toekoms en daardie toekoms nou reeds as die werklikheid voor te stel. Die pedagogie van hoop is dus toekomsgerig, en dit moet ingesluit word in die proses van onderrig en leer omdat dit die gedagte insluit dat onderrig ’n lewenslange proses is, nie bloot ter wille van ’n beroep wat ’n vaste gegewe is in die tyd en lewe van ’n student nie.

Prof Botman sien in die pedagogie van hoop die potensiaal om die toekoms te beïnvloed deur te verseker dat die nuwe geslag beter toegerus sal wees om die uitdagings van die 21ste eeu aan te pak:
Die heel grootste uitdaging vir die toekoms is om ’n wêreld te skep wat beter is as die een wat ons in die 20ste eeu beleef het. Die 21ste eeu moet ’n beter wêreld hê; dit moet ’n wêreld met beter geleenthede wees, ’n wêreld wat groener is, een waarin rykdom en verantwoordelikheid regverdiger verdeel word, een waarin ons nie met elke tree ’n stryd verloor nie. Dit moet ’n wêreld wees waarin ons leer om konflik en onenigheid op nuwe, kreatiewe maniere oplos eerder as deur hofsake en oorloë. Die 20ste eeu was een van die moeilikste tydperke van konflik – ons was nog nooit so naby aan vernietiging as tydens daardie moeilike tydperk nie. Die vrae wat ons nou moet beantwoord, is hoe om seker te maak dat die mensdom nie weer tot op daardie randjie gestoot word nie, en hoe die volgende geslag anders en beter sal kan wees as wat ons was. Al is dit belangrik om nie die lesse wat ons in die verlede geleer het te vergeet nie, moet ons ook begin wegkyk van die ou maniere om dinge te doen. Ons moet die nuwe metodes gebruik wat voortdurend ontwikkel word, om mekaar aan te moedig met ’n toekomsfokus, een waarin ons self leer en mekaar dan leer hoe om vanuit die toekoms te dink. Ons verwagte toekoms, een van hoop, moet ons lei. Dit is hoekom hierdie begrip so belangrik is vir hoër onderwys in hierdie land.

Prof Botman praat oor die twee belangrikste maniere waarop die pedagogie van hoop deel van sy lewe geword het:
Eerstens, die begrip “hoop” is al jare lank deel van my werk – ek het al baie ondersoekende navorsing gedoen oor wat hoop beteken en hoe belangrik dit is. As ek die voorbeeld van die teleskoop kan gebruik: Deur die teleskoop kan jy óf wanhoop óf hoop in jou werklikheid inbring, afhangende van die rigting waarin jy die teleskoop rig. Jy moet die teleskoop swaai na ’n nuwe plek, maar dit beteken jy moet begin dink met jou toekoms as jou verwysingspunt in verhouding met waar jy nou is; jy moet op hierdie manier aan onderrig en leer begin dink. As jy dit doen, sal dit jou ook help onthou dat onderrig en leer baie belangrike funksies van die Universiteit is wat voortdurend verandering sal ondergaan.
Tweedens, ek word geboei deur die werk van ’n Suid-Amerikaanse opvoedkundige, Paulo Freire, en ek lees sy werk al jare lank. Een van sy jongste boeke, The Pedagogy of Hope, is vir ons uiters belangrik om oor na te dink en te verstaan. Dit is vir baie mense ’n bedreigende gedagte omdat hy nie wegskram van moeilike sake en ware, konkrete werklikhede van die mense rondom hom nie, die armoede in Brasilië, en van die grond af boontoe werk deur die stemme van dié rondom hom in die gemeenskappe te gebruik. Ek dink dit is interessante leesstof en dit is goed dat ons daarvan weet, maar op die ou end is die ware uitdaging om meer te doen en te dink oor wat dit alles vir ons toekoms beteken.

Om die toepaslikheid en relevansie van die pedagogie van hoop aan die Universiteit Stellenbosch te verseker, verduidelik prof Botman dat die Universiteit binne sy eie konteks aan dié begrip inhoud moet gee en dat dit die Millennium-ontwikkelingsdoelwitte moet gebruik om ’n ontwikkelingsagenda op te stel:
Die moeilikste uitdaging wat ons nou moet aanpak, is om ons eie inhoud aan hierdie begrip te gee – wat sou dit beteken as ons so ’n instelling sou wees? Tweedens het ons besluit om die Millennium-ontwikkelingsdoelwitte te gebruik as die konteks vir ons ontwikkelingsagenda – ’n agenda wat toekomsgerig is.
As ons kyk na die vyf Millennium-ontwikkelingstemas wat ons gekies het, is dit duidelik dat hulle almal verwys na ’n hoopvoller toekoms. Dit begin met die groot vraag na ’n blywende oplossing vir armoede; die vraag oor die welwese van mense, sowel geestelik as liggaamlik; die vraag na menseregte en demokrasie, om ’n menseregtekultuur en ’n kragtige demokrasie te bou; die vraag na sekuriteit en vrede, in die land, in die wêreld, in wat ons doen en die manier waarop ons kennis hanteer; en die vraag na ekologiese volhoubaarheid, hoe om só op te tree dat ons nie die omgewing vernietig nie. Wesenlik het ons verskillende soorte ontwikkeling wat binne hierdie kontekste vervat is. Om ’n beter demokratiese mens of burger te word, en te begin begryp dat ’n groot deel van wat ons in ons beroepe doen te make het met die vrede en sekuriteit in die wêreld, lê daarom in die hart van onderrig. Die implikasie vir Stellenbosch is dus dat ons die wetenskap wat ons voortbring en die kennis wat ons deel, moet plaas as dryfkragte agter elk van hierdie algemene doelwitte om só seker te maak ons studente is voorberei vir enige soort beroep wanneer hulle deel van ons samelewing word. As ons dit goed doen, sal dit beteken almal wat die Universiteit Stellenbosch verlaat, sal ingestel wees op etiese optrede en in staat wees om op verskillende maniere en op ’n maatskaplik opbouende manier by ’n wye reeks kwessies betrokke te raak. Iemand wat aan die Universiteit Stellenbosch ’n graad behaal het, sal dus, wanneer hulle met ’n loopbaan begin, ’n bydrae lewer om ’n meer hoopvolle toekoms te bou omdat hulle blootgestel is aan die verskillende maniere om oor hierdie begrip te dink.

Prof Botman gesels oor die implikasies wat die pedagogie van hoop vir ons klaskamers inhou:
Dosente voel soms hulle moet streng fokus op die huidige tendense in hulle vakgebied. Wat belangrik is, is om te onthou dat ons moet kyk na die konteks waarvan daardie vak deel vorm. Die ware vraag is of ons kan begin vra waarvan dit dalk iewers in die toekoms deel sal vorm, in plaas daarvan om net te vra waar dit nou lê. Ons werk met studente wat ’n uiters belangrike deel van hierdie toekoms vorm, en om die teleskoop in ’n nuwe rigting te swaai sal die dryfkrag tot verandering in die klaskamer wees.

Prof Botman identifiseer drie hoofareas waar die Universiteit Stellenbosch reeds vordering gemaak het om sy onderrigpraktyke in ooreenstemming te bring met die gedagte van die pedagogie van hoop:
Die eerste belangrike vertrekpunt is die feit dat akademici oor verskillende dissiplines heen met mekaar begin praat het. Die meeste hervormings oor die wêreld heen vind plaas met ’n fokus op óf wat vir die studente, of in die konteks van die studente, gedoen word óf wat in die konteks van personeel en bestuur gedoen word. Die probleem hiermee is dat dit op die ou end een groep op die kampus se doelwitte dien terwyl al die ander toekyk, maar nie deelneem nie. Hoe inisieer ons dan iets wat ’n sterk gedagte vestig? Die krag lê in die gedagte self, en die vermoë daarvan om almal vanuit al hierdie verskillende kontekste saam te bind. As ’n mens dit regkry, het jy reeds begin om brûe te bou na ’n multidissiplinêre onderrig- en leer-omgewing wat ruimte skep vir begrip van dit wat ons in ons klaskamers leer wat relevant is tot wat studente in iemand anders se klaskamer leer. Wesenlik gaan dit daaroor om te erken dat ons nie in isolasie onderrig gee nie – wat ek mense leer, in samewerking met ander, bou voort om ’n mens van die toekoms te skep.
Die tweede belangrike punt is, wanneer jy ’n gedagte ontwikkel, hoef jy dit nie alleen te probeer vestig nie, want dit word in die akademiese sfeer opgeneem waar akademici dit uitdra, dit besit, dit ondersoek, dit vorm en dit só verder neem. Juis dit is die definisie van vooruitgang in ’n akademiese konteks – ander gebruik die hulpmiddels wat ontwikkel is, wat die wese van wetenskap is. Dit is betekenisvol, want dit het binne een jaar gebeur en is belangrike vooruitgang.
Die derde faset waar ek vooruitgang raakgesien het, is in die interaksie tussen dosente en studente oor hierdie gedagte. Dit op sigself sal lei na ’n punt waar mense oor tien of vyftien jaar – in die tyd van die volgende rektor – sal kan sê dat hulle nou die konteks beleef wat nodig is om die pedagogie van hoop te verstaan.

Om mee af te sluit …
Die pedagogie van hoop is ’n nuwe taal en dit is goed, want dit moedig ons aan om weer te dink. Dit is die mees unieke uitdaging by Stellenbosch. As ons dit regkry, sal ons as instelling in hierdie land bekend staan as ’n instelling wat weet hoekom dit bestaan, en sal ons nie bloot net nog ’n nasionale bate wees nie.

Comments received regarding this interview

I would like to add a fourth important area in which SU is starting to realise a Pedagogy of Hope in its teaching and learning practices, namely the area of service-learning. Service-learning is an innovative experiential teaching and learning methodology that seeks to balance service to the community with the learning of university students. Service-learning is a feature of 28 modules across nine of the ten faculties of the University and initial indications (deduced from comments of students involved in service-learning courses) is that it has contributed in a major way to their personal, academic and professional development, as well as their sense of being socially responsive citizens. 

Jerome Slamat
Senior Director: Community Interaction
05 May 2009

 
All rights reserved © 2007 Stellenbosch University
Private Bag X1, Matieland, 7602, Stellenbosch, South Africa
Tel.: +27 21 808 9111