INLIGTINGSTUK AAN SKOLE

"Skoolbesoek" vorm 'n baie belangrike deel van studente se opleiding. Praktykopleiding of "internskap" sal in die toekoms steeds belangriker word. Ideaalgewys behoort die "praktyk" van skoolbesoek en die "teorie" van die didaktiekkursus by mekaar aan te sluit en mekaar te ondersteun. Ideaalgewys behoort die opleiding van wiskunde-onderwysers dus deur meesteronderwysers en die vakdidaktiekdosent saam as 'n span hanteer te word.

Deelnemende skole en onderwysers word uitgenooi om saam met die vakdidaktiekdosent so 'n spanbenadering tussen teorie en praktyk te begin ontwikkel.

Die volgende uittreksel uit die oriënteringstuk vir wiskunde-didaktiek gee u 'n aanduiding van ons teoretiese perspektief:

Doelstellings:
Die eksplisiete doelstelling van die wiskunde-didaktiekkursus is nie om resepte vir die onderrig van spesifieke wiskunde-inhoude te verskaf of voor te skryf nie, maar om saam met studente te besin oor ons perspektiewe en oortuigings ("beliefs") in verband met:

  • die aard van wiskunde — weg van 'n liggaam van kennis as 'n klaargemaakte produk na wiskunde as 'n menslike, sosiale skeppende aktiwiteit
  • die aard van leer — weg van die passiewe absorpsie van kennis na die aktiewe individuele en sosiale konstruksie van kennis
  • die aard van onderrig — weg van onderrig deur transmissie en imposisie na onderrig deur fasilitering en onderhandeling
  • die doelstellings met wiskunde-onderwys — weg van blote nabootsing en reproduksie na wiskundige bemagtiging ("empowerment")..
  • Die doel is dat die klas as 'n gemeenskap van selfondersoekende, reflektiewe praktisyns sal funksioneer, wat hul onderrig problematiseer en deur "aksie-navorsing" in die klaskamer verbeter.

    Aanbieding:
    Die kursusaanbieding of die dosent kan egter nie studente se perspektiewe en oortuigings verander nie — net soos leerlinge nie deur passiewe absorpsie leer nie, so "leer" studente ook nie deur absorpsie nie, maar hulle moet ook hul kennis self konstrueer en re-organiseer.

    Die kursusaanbieding kan hoogstens verskillende perspektiewe as "objektiewe kennis" voorhou en studente die soort ervarings bied wat hulle geleenthede sal gee om oor die verskillende perspektiewe te reflekteer en so persoonlike "keuses" uit te oefen en dit hul eie "subjektiewe kennis" te maak, wat dan hul eie wiskunde-onderrig in die klaskamer sal rig.

    Een van die belangrikste soort ervaring is die terugvoer wat studente tydens lesanalise, individuele hulp aan leerlinge en skoolbesoek van leerlingreaksies kry — dit bied ryke geleenthede om ons teorieë te "toets" en verder oor ons perspektiewe op leer en onderrig te reflekteer. Dit is dus essensieel om in lesanalise en skoolbesoek nuwe idees te beproef!

    Onderwysers word versoek om dieselfde houding teenoor skoolbesoek in te neem, deur die nodige ruimte en atmosfeer te help skep wat studente die geleentheid sal gee om oor onderrig en leer na te dink. Onderwysers word dus versoek om studente te help met die beplanning van hul lesaanbiedings en om studente te ondersteun in hul nadenke oor die effek van die aanbieding op leerlinge se begryping van en houding teenoor wiskunde.