Minette du Toit-Pearce
Minette du Toit-Pearce (Mezzo sopraan) is in Bellville gebore en begin haar musiekloopbaan op 7 jarige ouderdom met klavieronderrig o.l.v Elzeth Germishuys. In 1986 begin sy met vioolonderrig, en later ook Altvioolonderrig o.l.v. Louis van der Watt. Vanaf 1987 -1990 is sy ‘n lid van die Tygerberg Kinderkoor o.l.v. Hennie Loock. Sy matrikuleer aan die Hoërskool D.F. Malan in Bellville waar sy in die Dogters, Gemengde en Kamerkore o.l.v. Danie Smit gesing het. Tydens haar skooljare is sy aktief betrokke by Kunswedstryde in die omgewing en verower verskye toekennings vir Sang sowel as Altviool. Sy was ‘n lid van die Weskaapse Jeugorkes en die Nasionale Jeugorkes.
Minette begin in 1993 met haar sangopleiding o.l.v Magdalena Oosthuizen en ontvang in 2001 haar BMus (Hons) in Sang aan die Universiteit Stellenbosch.
Tydens haar studies vertolk sy verskeie operarolle in studente produksies van o.a. Gianni Schicchi, Le Nozze di Figaro, Don Giovanni en Il Matrimonio Segreto. Sy tree op as solis in uitvoerings van Handel se Messias en Dixit Dominus, Gloria van Vivaldi, Magnificat van J.S. Bach, Simfonie nr.9 en Koraalfantasie van Beethoven en die Requiem van Mozart. Sy tree ook as solis saam met die Nasionale Kamerorkes en Libertaskoor op. Sy ontvang meesterklasse by o.a. Mimi Coertse, Brenda Rhein en Michelle Breedt. Sy ontvang altviool onderrig by Prof. Eric Rycroft en is lid van die Universiteit Stellenbosch Simfonie Orkes en Nasionale Kamerorkes. In 2001 word sy ‘n lid van die Spier Operageselskap en toer na London met produksies van Yiimimangaliso en Carmen. Met haar terugkeer het sy haar aangesluit as deeltydse dosent in sang by die US waar sy steeds werksaam is.
Sy is in 2005 aangewys as die wenner van die D.J. Roode Oorsese Beurs na voltooïng van haar Unisa Onderwys Lisensiaat. Sy het reeds as beoordeelaar opgetree by die Tygerberg, Paarl en Helderberg Eisteddfods. Minette het in 2006 haar solo debuut by die Liedmakers Gilde en die KKNK gemaak. Sy is ook aangewys as ‘n algehele wenner van die ATKV Muziq 2006 kompetisie. Sy het tydens die kompetisie ook die kategorieprys vir Sang en die Mozartprys ontvang. Sy was ook ‘n finalis in die 2006 Mabel Quick Oorsesebeurs Kompetisie.
Back to Previous Page.