7 September 1999

Geagte meneer Lombard

IS: KOMMENTAAR OP KLASGELDEREGLEMENT

Ek het bogenoemde reglement deurgewerk. In die lig van die feit dat vrystelling van klasgelde (vir werknemers, hulle gades en kinders) by salariskwessies altyd as 'n diensvoordeel voorgehou word, maak ek teen die volgende in die reglement beswaar:

Par. 1.2:

Die invoer van 'n ouderdomsbeperking van 22 jaar (soos voorgestel op die dokument waarop die veranderings aangebring is, maar 21 op die dokument sonder onderstrepings) voor die aanvang van studie is heeltemal onaanvaarbaar.

Die bepaling dat 'n kind na onderbreking van studie nie weer op klasgeldekwytskelding kan aanspraak maak nie, is eweseer heeltemal onaanvaarbaar. (Die kind kan bv akademies verplig word om eers as klerk 'n tyd lank elders in te skryf. Moet hy/sy nou "beboet" word by hervatting van studie omdat sy studierigting hierdie verpligting op hom/haar gelê het?)

Die beginsel wat by paragraaf 1.2 ter sprake kom, is die volgende:

DIE VOORDEEL KOM DIE WERKNEMER TOE ONAFHANKLIK VAN DIE OUDERDOM VAN DIE KIND, MITS DIE KIND NOG AS 'N AFHANKLIKE KWALIFISEER.

Par. 1.2 (b):

Dit bedoeling van die stelling dat 'n "student as gevolg van mediese redes nie...as kind kwalifiseer nie" is onduidelik. Daar kan dus nie hierop kommentaar gelewer word alvorens die betekenis nie duidelik is nie.

Par. 1.2 (c):

Die bedoeling van hierdie stelling dat "tov personeelverskuiwings van nuwe aanstellings, die toepassing van paragraaf 1.2 sodanige personeellid nadelig beïnvloed" is eweeens tov kwytskelding van klasgelde onduidelik. Hierop kan dus ook eers kommentaar gelewer word, wanneer die betekenis duidelik is.

Par. 1.3.(b):

Die bepaling dat slegs kinders van personeel wat met aftrede uit die diens van die Universiteit tree, geregtig is op kwytskelding van klasgelde, is onaanvaarbaar in terme van die reglement self.

Paragraaf 1.3 (b) weerspreek par. 1.1 (e) wat spesifiseer dat personeel wat 'n skeidingspakket aanvaar het se kinders wel op kwytskelding van klasgelde kan aanspraak maak.

Paragrawe 4.4 en 4.5:

Dit is nie duidelik hoekom personeellede wat op gesamentlike diensstate is in beide die Fakulteit Geneeskunde en die Fakulteit Tandheelkunde, nie oor dieselfde kam geskeer word nie.

As nuwe aanstellings in die Fakulteit Geneeskunde deur die ASK(S) nagegaan moet word en daarvolgens op 'n pro ratakwytskelding van klasgelde kan aanspraak maak, behoort dieselfde vir nuwe aanstellings in Tandheelkunde te geld.

Paragraaf 4.6:

Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat lede van die US Raad op kwytskelding van klasgelde (vir hulleself of hulle kinders) kan aanspraak maak.

Kwytskelding van klasgelde word as 'n diensvoordeel slegs aan VOLTYDSE PERMANENTE werknemers van die Universiteit toegestaan. Raadslede voldoen hoegenaamd nie aan hierdie voorwaarde nie.

As hierdie voordeel enigsins uitgebrei word na Raadslede, is dit vanselfsprekend dat DEELTYDSE permanente werknemers van die Universiteit ook op hierdie diensvoordeel geregtig is.

Ek vertrou dat u hierdie insette ernstig sal opneem en dat hulle neerslag sal vind in die nuwe reglement.

Dr S Thom

Voorsitter: Dosentevereniging