29 Augustus 2000

Geagte meneer Human

Direkteur: Afdeling Dienste, US

TOEGANGSBEHEERDE PARKEERAREAS

(Reëls i.v.m. toegang tot parkeerareas verwys)

Na ‘n verskeidenheid van klagtes op my tafel beland het, het dit onder my aandag gekom dat in bostaande reglement (anders as wat oorspronklik onderneem is) parkeerplek nie gewaarborg word deur die uitreiking van ‘n parkeerdisket, waarvoor personeellede betaal nie. Ek wil dus, namens al vier personeelverenings gesamentlik, ten sterkste beswaar maak teen hierdie aspek van die betrokke reglement.

Die personeelverenigings het oorspronklik sterk beswaar aangeteken teen toegangsbeheerde parkeerareas. Dit was eers toe daar uitgewys is dat parkeerplek gewaarborg kan word SLEGS as toegangsbeheer toegepas word, dat die stelsel vir sommige van die personeel meer aanvaarbaar geword het. In kort, die stelsel is aan ons "verkoop" deur parkering te waarborg. As parkering nie gewaarborg word nie, vind al vier personeelverenings die stelsel heeltemal onaanvaarbaar. Meer nog, die personeelverenigings vind dit heeltemal onaanvaarbaar dat die oorspronklike voorwaardes vir aanvaarding van die stelsel (gewaarborgde parkering) nou so ligtelik geïgnoreer word. Mens vra jouself af watter nut die stelsel hoegenaamd vir die personeel inhou, as dit nie parkering sou waarborg nie. Waarom sou enige een so dom wees om bereid te wees om vir parkering te betaal wat nie gewaarborg is nie?

Ek versoek u dus dringend om item drie van die reëls ivm toegang tot en bedryf van toegangsbeheerde parkeerareas heeltemal te skrap. Dit was nooit met die verskillende personeelverenigings onderhandel nie, inteendeel, die teenoorgestelde (dat parkeerplek slegs dmv toegangsbeheer gewaarborg KAN word) is waar. Ek vertrou dat die probleem u onmiddellike aandag sal geniet en dadelik opgelos kan word.

Met vriendelike groete

Sjarlene Thom (Voorsitter: Dosentevereniging)

Jan du Toit (Voorsitter: Administratiewe Vereniging)

Glen de Jongh (Voorsitter: Tegniese Vereniging)

William Adonis (Voorsitter: Werknemersvereniging)

Kopie: Dr. J. Smith (Viserektor: Bedryf)