Geagte kollegas

VERLOFBELEID: MOONTLIKHEID OM OOR TE SKAKEL NA NUWE VERLOFBELEID?

Na aanleiding van verskeie versoeke wat op my tafel beland het, wil ek net graag die volgende onder u aandag bring:

Toe dosente kon besluit om oor te skakel na die Nuwe verlofstelsel of om te bly by die ou stelsel, was dit duidelik aan dosente gestel dat hulle ’n eenmalige keuse moes uitoefen oor watter verlofstelsel hulle verkies. Omtrent 10-15% van alle dosente het besluit om by die ou verlofstelsel te bly. Aangesien ’n hele aantal dosente my nou genader het oor moontlike oorskakeling na die Nuwe verlofstelsel, het ek navrae gedoen of dit moontlik sou wees om hierdie "eenmalige" keuse wat uitgeoefen is vir die Nuwe verlofstelsel (veral in die lig van veranderings in die Universiteitsomgewing) dalk weer vir dosente moontlik te maak.

Die moontlikheid kan slegs ondersoek word as ek, namens die betrokke dosente, ’n kollektiewe versoek tot Menslike Hulpbronne rig om hierdie dosente toe te laat om na die Nuwe stelsel oor te skakel.

Sal enige dosent wat graag van die ou stelsel na die nuwe stelsel wil oorskakel, my dalk so gou moontlik laat weet? (Dit geld ook vir mense wat self vir Menslike Hulpbronne direk gekontak het en ook mense wat my al in die verlede hieroor genader het.) Ek sal bly wees om hierdie saak so gou moontlik te kan hanteer, dus versoek ek u om my so gou moontlik in te lig as u belangstel om hierdie keuse uit te oefen (in elk geval voor die einde van September.)

Met vriendelike groete

Sjarlene Thom

Voorsitter: Dosentevereniging