Doelstellings
Hierdie program het ten doel om aan studente gevorderde kennis oor ‘n
breë spektrum van erkende subterreine in die Sielkunde, soos Psigoterapie, Psigopatologie,
Psigometrie en Navorsingsmetodologie te bied, en om aan hulle ‘n begrip te gee
van die toepaslikheid daarvan in 'n multikulturele samelewing. Die uitgebreide
en diepgaande aard van die programinhoud het ook ten doel om begrip van en insig
in menslike gedrag te bevorder.
Toelatingsvereistes
‘n Student kan, op skriftelike aansoek, deur die Senaat of
deur die Uitvoerende Komitee handelende namens die Senaat, tot die Honneursprogram
in Sielkunde toegelaat word mits sy/hy in besit is van ‘n Bacalauriusgraad met
Sielkunde as hoofvak, wat met ‘n prestasiepunt van minstens 60% verwerf is.
‘n Hoër prestasiepunt in Sielkunde III kan as afsnypunt vir toelating tot die
program bepaal word na gelang van die getal en prestasiepeil van die aansoekers.
Toelating tot die program is aan keuring onderworpe, wat in
November van die voorafgaande jaar plaasvind.
Die sluitingsdatum vir aansoeke om toelating tot die program
is 31 Oktober van die voorafgaande jaar.
Struktuur
Die program kan óf op 'n eenjarige voltydse óf op 'n deeltydse basis
oor twee jaar gevolg word. Die program word ook na-uurs aangebied om studente
wat 'n werk beklee, te akkommodeer. Die program omvat 1 jaarmodule, 4 semestermodules,
en 8 kwartaalmodules. Die Navorsingsmetodologie, Psigoterapie, Psigopatologie
en Psigometrie, is verpligtend vir studente wat in aanmerking wil kom vir toelating
tot professionele opleiding in Sielkunde.
Modules wat aangebied word, kan van jaar tot jaar verskil. Ten einde die graad te verwerf, moet ’n student 'n minimum van 130 krediete verwerf.
771 Navorsingmetodologie (20)
711 Psigoterapie (20)
742 Psigopatologie (20)
741 Psigometrie (20)
712 Beroepsielkunde (10)
713 Ekologiese Sielkunde (10)
714 Gemeenskapsielkunde (10)
715 Gesinsielkunde (10)
716 Kindersielkunde (10)
743 Kognitiewe Sielkunde (10)
717 Menslike seksualiteit (10)
744 Sielkunde van Vroue (10)
MODULE-INHOUDE
Navorsingsmetodologie
Die module bestaan uit twee onderskeibare komponente.
Navorsingsmetodologie
Navorsingsmetodologie bestaan uit twee afdelings, naamlik
Kwantitatiewe Metodes en Kwalitatiewe Metodes. In die afdeling Kwantitatiewe
Metodes word aandag geskenk aan eksperimentele navorsing in die Sielkunde, met
sterk klem op die ontwikkeling van 'n wetenskaplike, sistematiese en kritiese
manier van dink oor navorsing. Die afdeling Kwalitatiewe Metodes is in 'n
beplanningsfase.
Data-analise
Data-analise behels die bestudering en praktiese toepassing van
statistiese metodes wat in die Sielkunde gebruik word om data te analiseer. Die
klem val op hoe bepaalde metodes geselekteer word, die interpretasie van resultate en die
wetenskaplike rapportering daarvan. Die statistiese pakket SPSS (Statistical Package for the Social Sciences)
word veral in die meer gevorderde metodes van analise in die praktiese deel van
die afdeling benut. Studente het toegang tot ses rekenaars wat met die nuutste
weergawe van SPSS for Windows gelaai
is.
Psigoterapie
Hierdie module het ten doel om aan
die student 'n diepgaande kennis van die breë psigoterapie-terrein te
gee. Terapeutiese benaderings wat bestudeer word, sluit onder andere die
volgende in: psigodinamiese terapie, eksistensiële terapie,
persoonsgesentreerde terapie, kognitiewe-gedragsterapie, Gestaltterapie en Transaksionele Analise.
Aan die einde van die module behoort
die student ten opsigte van elkeen van die terapeutiese benaderings 'n
omvattende teoretiese kennis te hê sodat hy/sy krities oor die verskillende terapieë
in die besonder en oor psigoterapie in die algemeen kan dink, vertroud te wees
met die praktiese prosedures eie aan elke benadering, 'n geval psigodinamies
vanuit die verskillende benaderings te kan formuleer, insig in die verloop van
die terapeutiese proses te hê, begrip hê van die beoefening van psigoterapie binne
'n multi-kulturele konteks, en op grond van uitkomsstudies die effektiwiteit
van bepaalde terapeutiese benaderings te kan beoordeel.
Psigopatologie
1. Kliniese
evaluasie en die DSM-IV
2. Delirium, Demensie en Amnestiese
en ander kognitiewe versteurings
3. Substansverwante versteurings
4. Skisofrenie en ander psigotiese
versteurings
5. Persoonlikheidsversteurings
6. Gemoedsversteurings
7. Selfmoord en Gesinsmoord
8. Angsversteurings
9. Slagoffers van Geweld
10. Somatoforme Versteurings
11. Dissosiatiewe Versteurings
12. Seksuele Versteurings en Versteurings
van Geslagsidentiteit
13. Eetversteurings
14. Slaapversteurings
15. Faktiewe en Impulskontrole
Versteurings
16. Aanpassingsversteurings en V-kodes
17. Kultuurgebonde Sindrome en
Kulturele Formulerings
Psigometrie
Hierdie module het ten doel om studente
bekend te stel aan basiese psigometriese konsepte en
sielkundige toetskonstruksie. ‘n Verdere doelstelling is om studente vertroud te maak met enkele
algemeen gebruikte sielkundige toetse. Aan die einde van die module behoort studente
‘n sielkundige meetinstrument te kan konstrueer. Studente behoort verder daartoe in staat te
wees om ‘n geskikte sielkundige toets vir ‘n bepaalde situasie te selekteer. In
hierdie verband is dit belangrik dat die multikulturele samestelling van die Suid-Afrikaanse
samelewing in ag geneem word. In die laaste plek behoort studente vertroud te
wees met die gebruikswaarde van bekende Suid-Afrikaanse vermoëns-,
persoonlikheid-, en belangstellingstoetse.
Toegepaste Sosiale Sielkunde
Hierdie module het te
make met die toepassing van sosiaal-sielkundige teorieë, beginsels, metodes en
navorsingsbevindings ten einde sosiale probleme te verstaan en by te dra tot
die oplossing daarvan. Die module fokus spesifiek op die Suid-Afrikaanse
konteks en spreek vraagstukke aan soos sosiale identiteit, vooroordeel,
diskriminasie, aggressie en geweld.
Benewens die verwerwing van
teoretiese begrip van die betrokke vraagstukke sal die studente ook
praktiese ervaring opdoen in die konseptualisering, beplanning,
uitvoering en rapportering van ‘n sosiaal-sielkundige navorsingsprojek wat
met die teoretiese fokusareas verband hou. Die praktiese komponent van die module dra dus
daartoe by dat die studente benewens ‘n in-diepte begrip van spesifieke
vraagstukke ook die geleentheid het tot die ontwikkeling van vaardighede om die teorie in
die konteks van die huidige realiteit toe te pas.
Beroepsielkunde
Na afloop van die module in Beroepsielkunde
behoort studente in staat te wees om basiese beroepsvoorligting te kan doen
asook sekere funksies binne menslike hulpbronverband te kan verrig. Baie klem
word gelê op die ontwikkeling en produktiewe aanwending van menslike
potensiaal. Verder word studente ’n breë agtergrond gegee ten opsigte van die
belangrikste teorieë oor die beroepsielkunde en die toepassing daarvan binne
die spesifieke problematiek van die Suid-Afrikaanse werkswêreld. Van studente
sal ook verwag word om op hierdie terrein praktiese werk te doen in die vorm
van gemeenskapsdiens.
Gemeenskapsielkunde
Die vaardigheid om behoeftebepalings vir gemeenskaps/
groepsintervensies te doen en op grond daarvan ’n intervensie te ontwerp en te implementeer word
toenemend belangrik vir persone wat sielkundige werk in Suid-Afrika wil doen. In
hierdie module kry studente die geleentheid om te leer hoe sielkundige
intervensies prakties in gemeenskapsverband gedoen word. Die module is so ontwerp
dat studente die verskillende fases van ‘n gemeenskapsintervensie teoreties
en prakties bemeester. Dit beteken dat elke student aan die einde van die
module in staat sal wees om ‘n sielkundige gemeenskaps-intervensie te beplan en
te implementeer. Die afhandeling van elke fase word bepunt en studente
verkry uiteindelik ‘n punt vir hierdie module wat op deurlopende evaluering berus.
In die module word op gemeenskapsverskynsels soos adolessente-seksualiteit of
substansmisbruik deur studente gefokus. Die module behels dat elke student:
(i)
die ekologiese perspektief as
teoretiese vertrekpunt vir gemeenskapsintervensies beredeneer en toepas;
(ii)
die konsep behoeftebepaling
teoreties bemeester en toepas;
(iii)
doelwitte formuleer om die
behoeftes/teikengedrag wat geïdentifiseer is, aan te spreek;
(iv)
‘n sielkundige verklaring/teorie
vind vir die teikengedrag; en
(v)
‘n intervensie ontwerp wat op
hierdie sielkundige verklaring/teorie berus.
Gesinsielkunde
Om verskillende gesinsvorme en die
kompleksiteit van gesinsfunksionering te verstaan, word die volgende temas
gedek:
·
Konseptualisering
van normale gesinsprosesse
·
Teoretiese
modelle vir gesinsbevoegdheid, funksionering en genetiese invloede
·
Veranderinge
en uitdagings in dubbelloopbaan- en geskeide gesinne
Hertroue, aanneming en stiefouerskap
·
Etnisiteit,
kulturele diversiteit, ras, klas en armoede
·
Veranderde
geslagsnorme en die gesinslewenssiklus
·
Die module
verskaf die nodige voorbereiding en onderbou vir sielkundige werk met
verskillende gesinsvorme. Waar moontlik word Suid-Afrikaanse navorsing betrek
en bespreek.
Kindersielkunde
Die module bestaan
uit 'n algemene oriëntasie ten opsigte van die studieveld, ‘n gevorderde studie
van die ontwikkelingsfases van normale kinders en adolessente asook die
ontwikkelingstake en stressors kenmerkend van elke stadium. Die sielkundige
evaluasie, klassifikasie en sielkundige behandeling van die meer bekende
probleme van kinders en adolessente, word bespreek. Besondere aandag word gegee
aan die bestudering van die moontlike oorsake van kinderprobleme. In die module
word die fokus geplaas op kinders in die Suid-Afrikaanse konteks. Studente kry
ook blootstelling aan praktiese observasie-geleenthede.
Kognitiewe Sielkunde
Die module het ten
doel om studente in staat te stel om 'n deeglike kennis te verkry van
belangrike teoretiese modelle wat die werking van die menslike geheue beskryf,
en bied hulle die geleentheid om betrokke te raak by navorsingsprojekte wat die
toepassing van hierdie kennis in die praktyk ondersoek.
Die volgende inhoude word behandel:
Inleiding
tot die kognitiewe sielkunde
Die
interne voorstellings van geheue-inligting
Onlangse
modelle van geheue
Metodologiese
vrae in geheue-navorsing
Praktiese
toepassing van geheue-navorsing
Van studente sal verwag word om betrokke te
raak by een van verskillende projekte wat deur die persone betrokke by die
module aangepak sal word. Studente sal aangemoedig word om na die suksesvolle
voltooiing van die honneurs studiejaar, hierdie projekte uit te brei na verdere
nagraadse studie.
Menslike Seksualiteit
Die doel van die module is om ‘n teoretiese en persoonlike begrip
van menslike seksualiteit aan studente te verskaf. Meer spesifieke doelwitte
is:
·
Kennis van die geskiedenis van
seksualiteit;
·
Kennis van die diversiteit van
seksualiteit;
·
Begrip van die sosiaal
gekonstrueerde aard van seksualiteit;
·
Begrip van die beperkings van
huidige pogings om menslike seksuele gedrag te verander; en
·
Denke oor innoverende wyses om
menslike seksuale gedrag te beïnvloed.
Die inhoud van die module sluit die volgende in: Teoretiese perspektiewe op seksualiteit; Lewenssiklus en
seksualieit; Fisiologie van seksualiteit; Sielkunde van seksualiteit; Geslag en
seksualiteit; Attraksie, intimiteit en liefde; Diversiteit van seksualiteit en
seksuele gedrag; Seksopvoeding; en Seksueel Oordraagbare Siektes.
Sielkunde van
vroue
Die doel van die module is om studente toe te rus met 'n teoretiese
begrip van spesifieke kwessies met betrekking tot die geslagtelike ontwikkeling
(“gendered development”) van vroue. Na voltooiing van die module sal die
student bewus wees en kennis hê van die volgende kwessies:
·
hulle eie konstruksies van
vroulikheid/vrouwees;
·
verskillende teoretiese
benaderings tot die ontwikkeling van vroue;
·
verskillende metodologiese
benaderings tot die ontwikkeling van vroue;
·
die lewenssiklus van vroue;
·
die invloed van geweld en
seksuele mishandeling op vroue se ontwikkeling;
·
verskillende benaderings tot
vroue met sielkundige probleme;
·
verskille in vroue se
ontwikkeling: armoede, ras, klas en etnisiteit.
Die inhoud van die module dek die volgende:
·
teoretiese benaderings:
epistemologiese kwessies in die sielkunde van vroue;
·
metodologie: die studie van die
ontwikkeling van vroue;
·
lewensiklus van vroue: babajare,
vroeë kinderjare, adolessensie, jong
volwassenheid, moederskap, menopouse/ lewensoorgang;
·
vroue en intieme verhoudings;
·
vroue en werk;
·
verskille in vroue se
ontwikkeling: armoede, ras, klas en etnisiteit;
·
die sielkundige ondersteuning
van vroue.
Praktiese Werk
Praktiese werk kan waar toepaslik deur die Departement vereis word.
Eksaminering
Modules word óf deurlopend óf tydens skriftelke eksamens
geëksamineer. Skriftelike eksamens word
in Junie en November afgelê. Die aantal vraestelle hang onder andere af van ‘n
student se keuse uit die moontlike modules.
Ekosielkunde
Hierdie module bestudeer die verhouding en die
interafhanklikheid van alle lewende wesens met spesifieke fokus op die
mens-in-die-natuur. Teen die agtergrond van die wêreld se sosiale en ekologiese
krisis, sal die student kennis opdoen en bewusgemaak word van die volgende
temas:
·
Implikasies vir aktivisme,
opvoeding en sosiale verandering
Die module sal ook ‘n
praktiese geleentheid insluit om teorie en praktiese toepassing te integreer en
blootstelling te kry in wildernisterapie.
Keuring
Slegs aansoekers wat Sielkunde 3 of 'n
ekwivalente module met 'n gemiddelde prestasiepunt van minstens 60% geslaag het,
sal vir toelating tot die program oorweeg word. Aansoekers het drie opsies: (1)
doen aansoek vir toelating tot die oggendgroep; (2) doen aansoek vir toelating
tot die aandgroep; (3) doen aansoek vir die oggend- óf die aandgroep. In
laasgenoemde geval word studente deur die Departement aan een van die twee
groepe toegewys en geen verskuiwing tussen die groepe sal daarna toegelaat word
nie. 'n Maksimum van 45 aansoekers sal tot die oggendgroep en 'n maksimum van
45 tot die aandgroep toegelaat word. Keuring
geskied op grond van akademiese oorwegings en 'n prestasie-afsnypunt word
jaarliks bepaal na gelang van die aantal aansoekers en hul prestasiepeil. Die
keuringsbeleid is op aanvraag by die Registrateur beskikbaar. 'n Gesertifiseerde kopië van u
puntestaat moet u aansoek vergesel. Aansoekers wat nog met Sielkunde III besig is, moet
'n gesertifiseerde puntestaat met hul halfjaarpunte en alle punte wat
beskikbaar is vir die tweede semester, by hul aansoekvorms insluit.
Dit is noodsaaklik dat alle aansoekers die Aansoekvorm van
die Departement Sielkunde sowel as die Aansoekvorm van die Universiteit moet
voltooi (beide op die webblad beskikbaar). Hiersonder kan aansoeke nie oorweeg
word nie. Pos u aansoek aan: Me GD Davids, Kamer 3006, Kursusafdeling,
Universiteit van Stellenbosch, Privaatsak X1, 7602
MATIELAND.
Die sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Oktober
van die jaar wat u studie voorafgaan. Voornemende studente sal gedurende
Desember in kennis gestel word of hulle aansoeke suksesvol was. Die program
begin op die eerste dag van die akademiese jaar.
Die beslissing van die keuringskomitee is
finaal en geen korrespondensie sal gevoer word nadat keuring plaasgevind het
nie.
Verdere navrae: Kontak +27-21-8083448;
Terug