MA (Voorligtingsielkunde)

Programkoordineerder: , tel: +27-21-8083552
Kontakpersoon:
, tel: +27-21-8083466


BELANGRIKE INLIGTING

  • Die Departement Sielkunde bied tans twee afsonderlike professionele opleidingsprogramme aan, t.w. magisterprogram in Kliniese Sielkunde en die magisterprogram in Voorligtingsielkunde.

  • Daar word beoog om die twee programme vanag 2005 in 'n enkele program, t.w. 'n MA (Kliniese Sielkunde en Gemeenskapsvoorligting), te konsolideer. Uitsluiting hieroor sal 'n Maart 2004 verkry word. Inligting oor die gewysigde program, sowel as aansoekvorms, sal onmiddellik daarna op hierdie webblad geplaas word.
  • Persone wat belangstel om hulle professionele opleiding vanaf 2005 aan die Universiteit Stellenbosch te doen, word derhalwe vriendelik versoek om nie nou vir die bestaande magisterprogramme aansoek te doen nie, maar te wag totdat inligting oor die gewysigde program op die webblad geplaas word. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 30 Junie 2004.

Vir meer inligting skakel die   

ALGEMENE INLIGTING
Dit is vir ons aangenaam om u kortliks bekend te stel aan die Magisterprogram in Voorligtingsielkunde. Hierdie program is gebaseer op die teoretiese ontwikkelingsmodel in die Sielkunde, met veral klem op beide die teorie van en navorsing in die voorligtingsielkunde sowel as op praktiese ervaring en supervisie regdeur die opleiding. Die doelstelling van die program, in kombinasie met die internskap wat daarop volg, is om vaardige professionele terapeute in Voorligtingsielkunde op te lei wat kinders, adolessente en volwassenes, individueel of in gesins- en groepsverband suksesvol kan hanteer. Die program is gestruktureer en georiënteer rondom diens aan die gemeenskap, veral aan die benadeelde sektore van die gemeenskap waar groei en ontwikkeling van potensialiteit 'n prioriteit is.

  • Toelating tot die MA in Voorligtingsielkunde is aan keuring onderworpe.
  • Die sluitingsdatum vir aansoeke om toelating tot die program is 'n maand voor die keuring van die betrokke jaar. Aansoekbesonderhede word in die media geadverteer en kan van die Internet bekom word. Keuring geskied jaarliks gedurende Augustus.
  • Die program voldoen aan die vereistes van die Beroepsraad vir Sielkunde om as Voorligtingsielkundige te kan registreer.
  • Teoretiese opleiding strek oor een akademiese jaar. Na afloop van die program word 'n eindeksamen bestaande uit minstens 4 vraestelle van 3uur elk, asook 'n mondelinge eksamen, afgelê.
  • Van studente word vereis om, benewens bogenoemde, ook 'n gevorderde werkstuk voor te lê wat die resultate van selfstandige navorsing rapporteer. Die onderwerp van die werkstuk word in oorleg met die programkomitee gekies.
  • Die taalmedium is Afrikaans of Engels, in ag genome die samestelling van die betrokke klasgroep.
  • Vir registrasiedoeleindes as Voorligtingsielkundige by die Beroepsraad vir Sielkunde word 'n voltydse internskap van 12 maande by 'n geakkrediteerde instansie, onder toesig van die Departement Sielkunde, na afloop van die bostaande program vereis. Internskappe is onder andere by die Universiteit in die Sentrum vir Studentevoorligting en Ontwikkeling beskikbaar.
  • Enige navrae kan gerig word aan:

Die Programkoördineerder: Voorligtingsielkunde
Departement Sielkunde

Universiteit van Stellenbosch
Privaatsak X1
Matieland 7602
e-pos:

Tel: (021) 8083466; Faks: (021) 8083584

PROGRAMSAMESTELLING
Wat Voorligtingsielkunde behels
Voorligtingsielkunde is 'n spesialiteitsrigting in die sielkunde wat primêr gerig is op die ontwikkelende persoon in individuele, gesins-, groep- en gemeenskapsverband met die doel om voorkomend en terapeuties op te tree. Voorligtingsielkunde het verder ten doel om deur middel van die ontwikkeling van menslike potensiaal lewenskwaliteit te verbeter. Hierdie ontwikkeling word gestimuleer en gefasiliteer deur ingrepe en programme op individuele, gesins-, groep- en gemeenskapsvlak waardeur mense gehelp word om lewensprobleme konstruktief te hanteer en/of op te los, doeltreffende besluite te neem, selfkennis te ontwikkel asook om huidige en addisionele hulpbronne en persoonlike vaardighede te implementeer. Bestaande teorieë en empiries bewese metodes en tegnieke word vir die doel aangewend.

Akademiese Program
Op grond van die voorafgaande uitgangspunte oor die studieveld van Voorligtingsielkunde, word onder meer die volgende teoretiese modules gedek:

Kinderontwikkeling en psigoterapie

  • normale kinderontwikkeling
  • afwykende gedrag
  • evaluasieprosedures
  • hulpverleningsprosedures

Gesinsontwikkeling

  • huweliksterapie
  • gesinsterapie
  • ouervoorligting
  • aspekte van volwassenheid

Persoonlikheidsontwikkeling

  • Psigoterapeutiese intervensies:
  • Persoongesentreerde terapie
  • Kognitiewe gedragsterapie
  • Realiteitsterapie
  • Hipnoterapie
  • Krisisingryping
  • Portuurgroepvoorligting
  • Groepterapie
  • Psigo-ontwikkeling
  • Holistiese gesondheidsielkunde

Gemeenskapsontwikkeling

  • Temas uit die toegepaste sosiale sielkunde, soos onder andere aggressie, geweld, houdings, vooroordele en diskriminasie
  • kruis-kulturele sielkunde
  • sielkundige konsultasie

Die module is oorwegend prakties van aard en gefokus op sosiaal relevante kwessies. Dit is ook sterk gerig op die gemeenskap, veral op die benadeelde sektore van die gemeenskap

Psigometrie en die assessering van kinders en volwassenes oor 'n breë spektrum

  • Intelligensiemeting
  • Persoonlikheidsevaluering
  • Beroepsevaluering

Die filosofie van die Sielkunde en navorsingsmetodologie

  • Inleiding tot die wetenskapsfilosofie in die sielkunde
  • Historiese perspektiewe in die geesteswetenskappe
  • Wetenskapsbeelde in die geesteswetenskappe
  • Die praktyk van sielkundige navorsing, onder andere literatuur- en rekenaarsoektogte,
  • Evaluering van navorsingsbevindinge, navorsingsontwerp, verslaggewing en die voorbereiding vir die voorlegging van 'n M-werkstuk.

Professionele ontwikkeling

  • Professionele orientasie en bestaande wetgewing
  • Professionele etiek
  • Verslagskrywing
  • Persoonlike ontwikkeling van die student

Loopbaanontwikkeling

  • Teorieë oor beroepsontwikkeling en beroepskeuse
  • Algemene praktyk van Beroepsvoorligting en besluitneming
  • Middelloopbaankrisis asook laatloopbaanfase
  • Ontwikkeling van menslike potensiaal ten opsigte van onder andere konsentrasie, geheue, kreatiwiteit, motivering, studie, lees, leierskap, assertiwiteit en streshantering.

Algemeen
Dit kan van studente verlang word om toepaslike aanbiedings, simposia en kongresse (bv. PsySSA) by te woon. Indien nodig kan bykomende werkswinkels gereël word.

PRAKTIESE OPLEIDING
Tydens hierdie jaar doen die student praktiese werk onder toesig van die Departement. Hierdie praktiese werk word in die Departement Sielkunde, die Sentrum vir Studentevoorligting en Ontwikkeling, Departement Korrektiewe Dienste, in skole en in bepaalde gemeenskapsentra gedoen. Praktika word gereël om te voldoen aan die vereistes gestel deur die Beroepsraad vir Sielkunde.

Vir verdere inligting en navrae skakel (tel. 021-8083466) )

Terug