MA- VOORLIGTINGSIELKUNDE

Keuringsbeleid

1.       ‘n Kandidaat kan, op skriftelike aansoek, deur die Senaat of deur die Uitvoerende Komitee handelende namens die Senaat, tot die Magisterprogram in Voorligtingsielkunde toegelaat word mits sy/hy in besit is van ‘n Honneursgraad in Sielkunde wat met ‘n finale gemiddelde van minstens 65% verwerf is. ‘n Hoër gemiddelde kan as afsnypunt vir ’n uitnodiging na die keuringsproses bepaal word na gelang van die aantal en prestasiepeil van die aansoekers. Sien 8.1.

2.     Tussen 8 en 12 studieplekke is gewoonlik beskikbaar.  Slegs 8 studente is vir 2003 toegelaat.

3.     Die professie vereis dat ‘n persoon wat as Sielkundige opgelei word oor goed geïntegreerde persoonlikheidseienskappe en sosiale vaardighede moet beskik.

4.     Gegee die beroepsgerigte aard van die opleiding, en die geografiese ligging van die US, moet die kandidate in staat wees om gemaklik in Afrikaans en/of Engels te kommunikeer. 

5.     In die werwing en keuring van kandidate probeer die program diversiteit, in ooreenstemming met die beleid van die Universiteit van Stellenbosch, bevorder.

·        ‘n Sekere aantal plekke word gereserveer vir onderverteenwoordigende groepe. Regstelling geskied op die basis dat die persentasie kandidate uit onderverteenwoordigende groepe wat gekeur word, minstens in dieselfde verhouding is as wat aansoeke uit hierdie groepe tot die totale aantal aansoeke is.

·        Vir die ander plekke is die mededinging oop, gegee die gestelde aanvullende kriteria wat deur die Departement Sielkunde gestel word.

6.     Twee aansoekvorms moet deur die aansoeker voltooi word. Die een is die amptelike aansoekvorm van die Universiteit van Stellenbosch, en die ander aansoekvorm is deur die Departement Sielkunde ontwerp. Referente-vorms moet deur die aansoeker aan twee referente van sy/haar keuse gegee word. Hierdie vorms word direk deur die referent aan die Programkoördineerder Voorligtingsielkunde, Departement Sielkunde terug gestuur.

7.     Die keuringspaneel bestaan uit: Die programkoördineerder, ten minste vier akademiese personeel betrokke by die program, ‘n verteenwoordiger van die Sentrum vir Studentevoorligting en Ontwikkeling, ‘n praktiserende Voorligtingsielkundige, ‘n Magisterstudent in Voorligtingsielkunde, en ‘n dosent van die Departement Opvoedkundige Sielkunde wat die keuringsproses observeer.

8.     Keuring bestaan uit twee onderskeibare prosesse:

8.1.  Preseleksie: Vanweë die feit dat die getal aansoeke die aantal beskikbare studieplekke ongeveer twintig keer oorskry, vind ‘n preseleksie gedurende die tweede helfte van Julie plaas. Die doel met die preseleksie is om die aansoekers wat potensieël aan die keuringskriteria voldoen, te identifiseer en na die keuringsproses te nooi. Ongeveer 65 kandidate word op dié wyse geïdentifiseer. Die preseleksie word gebaseer op die inligting wat in die aansoekvorm, sowel as die referenteverslae, vervat is. Die volgende kriteria geld by die preseleksie:

·        Akademiese prestasie: ‘n akademiese afsnypunt, gewoonlik die gemiddelde van die finale gemiddelde prestasie van al die aansoekers, word bepaal. Hierdie kriterium word geïmplimenteer met inagneming van regstellende aksie;

·        Die afwesigheid van onbehandelde en onverwerkte psigopatologie;

·        Wenslike interpersoonlike funksionering; en

·        Emosionele stabiliteit.

Kandidate wat by die preseleksie onsuksesvol is, word per brief ingelig. Suksesvolle kandidate word per brief na die keuringproses genooi.

8.2. Keuring: Die keuring vind gedurende die tweede helfte van Augustus van die voorafgaande jaar plaas. By hierdie geleentheid, voordat met die keuring begin word, word die volgende aan die kandidate verduidelik:

·        Die programstruktuur en -inhoud;

·        Die keuringskriteria; en

·        Die keuringsprogram, wat uit die volgende bestaan:

1.       Eerste paneelonderhoud: Die doel van die eerste paneelonderhoud is om die kandidate persoonlik te kan ontmoet en ‘n billike kans te gee en om die oorspronklike groep kandidate te verminder tot ongeveer 30 kandidate.

2.     Navorsingsartikel: Die doel van die navorsingsartikel is om ‘n aanduiding te kry van die kandidaat se vermoë om navorsing op ‘n wetenskaplike wyse te analiseer, te interpreteer en sinvolle kommentaar te lewer.

3.     Persoonlikheidsvraelys: Die Rotter Onvoltooide Sinne-vraelys word toegepas en geïntegreer vir addisionele inligting omtrent die kandidate.

4.     Groep-rollespel: Die kandidate word aan groep-rollespel blootgestel om hul terapeutiese vermoëns en –tekortkominge vas te stel. Twee tot drie professionele sielkundiges beoordeel dié keuringsaktiwiteit aan die hand van bepaalde kriteria.

5.     Individuele onderhoud: Diagnostiese onderhoude word deur sielkundiges wat deel van die keuringspaneel is, met elk van die kandidate gevoer. Daar word veral op die volgende gelet: Interpersoonlike funksionering, persoonlikheid (AS II-patologie, buigsaamheid, selfvertroue, assertiwiteit, krities-analitiese denke), streshantering, taalvaardigheid en denkvaardighede.

6.     Finale paneelonderhoud: Die doel van die finale paneelonderhoud is om die onsekerhede op te klaar wat gedurende die beoordeling van die navorsingsartikel, groep-rollespel, Rottervraelys en individuele onderhoude voorgekom het.

7.     Besluitnemingsproses: Aan elk van die aktiwiteite, naamlik die eerste paneelonderhoud, die navorsingsartikel, groep-rollespel, die individuele onderhoud en die finale paneelonderhoud word ‘n bepaalde gewig toegeken. Die kandidate word, volgens punte verdien, in ‘n rangorde geplaas en individueel in diepte deur die keuringspaneel bespreek voordat die finale seleksie plaasvind.  Regstellende aksie, soos proporsioneel bepaal volgens die getal kandidate as geheel, word in aanmerking geneem. ‘n Finale groep word aangewys met ‘n waglys van ten minste drie kandidate. Die uitslag word binne 24 uur na afloop van die keuring bekend gemaak.

8.     Terugvoer: Alle keuringsgegewens van elke kandidaat word geliaseer, asook 'n  skriftelike rekord van die mate waarin die kandidaat aan die keuringsvereistes voldoen het al dan nie. Na afloop van die keuringsproses word aan die onsuksesvolle kandidate die geleentheid gebied om onderhoudsgewys individuele terugvoer te kry. ‘n Professionele sielkundige, wat deel is van die keuringspaneel, behartig die terugvoer.

9.     Aansoeke word ontvang tot 30 Junie van die voorafgaande jaar.  Preseleksie vind gedurende die tweede helfte van Julie plaas en die keuring gedurende die tweede helfte van Augustus.

10.  Navrae: 

     Departement Sielkunde

             Universiteit van Stellenbosch

              Privaatsak X1

              Matieland

              7602

             Tel.:               +27 (0) 21 808 3466

             Faks.:             +27 (0) 21 808 3584

             Internet.:       www.sun.ac.za/psychology

Terug