 |
|
| |

WIE ONS IS
Identiteit en Funksie
-
Die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch is 'n ekumeniese fakulteit wat voorsiening wil maak vir die huisvesting en beoefening van die Christelike teologie van verskillende konfessionele oortuigings en kerklike tradisies.
-
Ten einde sy ekumeniese karakter waar te maak, maak die Fakulteit [US] dit moontlik dat daar huise vir verskillende konfessionele oortuigings en kerklike tradisies binne die ruimte van die Fakulteit tot stand kan kom.
-
Binne 'n fakulteit het "huise" die verantwoordelikheid om hul teologiese benadering in terme van konfessionele oortuigings en kerklike tradisies sodanig uiteen te sit dat dit as deel van die Fakulteit se ekumeniese aanbod bekend gestel kan word.
-
Die Fakulteit aanvaar die verantwoordelikheid om benewens die ruimte wat vir verskillende "teologiese huise" geskep word, ook toe te sien dat daar in samewerking met die "skole" die mees hegte eenheid tussen die "skole" geskep en gehandhaaf word in terme van personeelbenutting, programaanbiedinge, spiritualiteit in die Fakulteit, benutting van Fakulteitsgeriewe, studente-organisasies ens.
-
Binne die fakulteit [US] bied die Kweekskool van die NG Kerk en die Teologiese Skool van die VGK reeds opleiding in Christelik-gereformeerde teologie aan.
bo
Met die voorafgaande word bedoel:
-
Die fakulteit is 'n struktuur en orgaan van die Universiteit. Die fakulteit is ekumenies en wil teologie aanbied wat wesenlik christelik is. Ons is dus oop met inagneming van ons Christelike identiteit.
-
Die fakulteit wil sy ekumeniese karakter struktureel waar maak deur verskillende huise vir teologie.
-
Op die oomblik is hier die Kweekskool van die NG Kerk en die Teologiese skool van die VGK wat gesamentlik Christelik-gereformeerde teologie aanbied [Huis vir Gereformeerde teologie].
-
Binne die een seminarium vir Gereformeerde Teologie bestaan daar tans 2 entiteite: die Kweekskool van die NG Kerk en die Teologiese Skool van die VGK.
-
Die akademiese skakelpunte is die betrokke kerklike verteenwoordigers op die dosenterade asook die kerklike skakelraad en die dekaan.
bo
Die fakulteit se verdere doelwitte is om:
-
Akademiese voortreflikheid te bevorder.
-
Klem word gelê op die beoefening van Christelike teologie op 'n gesistematiseerde, krities-verantwoorde en wetenskaplike wyse.
-
Die interpretering en vertolking van die Bybel vir ons dag.
-
Die opleiding en skoling van Christelike leiers, predikante, pastorale hulpverleners, dienswerkers en navorsers.
-
Maak 'n bydrae tot teologiese navorsing binne nasionale en internasionale verband.
-
Maak 'n konstruktiewe bydrae tot interdissiplinêre akademiese werk
- Die kerk se identiteit en geloofstradisie binne verskillende verbande te vertolk . Dit behels:
-
die kerk se rol en roeping in die samelewing en die maak van 'n bydrae tot die internasionale debat oor lewensvraagstukke.
-
Die betrokkenheid van kerke by die ekumene deur middel van konfessionele verbondenheid en ekumeniese skakeling.
-
Die bydrae van die kerk tot die interreligieuse debat deur middel van 'n krities-konstruktiewe dialoog.
-
Die bevordering van die kwaliteit van die gemeentelike bediening met die oog op die doeltreffende kommunikasie van die evangelie [getuienis] en daadwerklike uitreiking [diens].
'n Etos te bevorder wat korreleer met die aard van 'n Christelike spiritualiteit . 'n Dergelike etos sluit in:
By die samelewing en lewensvraagstukke betrokke te raak. Deur:
-
Die aanspreek van etiese vraagstukke rakende die mens binne samelewingsverbande en lewenstrukture.
-
Die verband tussen teologie en menslike/ekologiese nood ernstig op te neem.
-
Die bevordering van geregtigheid, versoening en gemeenskap [koinonia en ubunthu] te bevorder.
bo
Sentrale waardes
-
Wetenskaplikheid
Om die Skrif op 'n gesistematiseerde, krities-reflektiewe wyse te verstaan, te vertolk en te interpreteer sodat geldige kennis binne interaksie en dialoog met ander toepaslike dissiplines sinvol in verband gebring kan word met kontekstuele en lewensvraagstukke, asook met die oog op die sinvolle integrasie van teorie en praktyk.
-
Ekumenisiteit
Om in verbondenheid met Afrika betrokke te wees by die ekumeniese beweging en interkerklike skakeling en internasionale debat oor lewensvraagstukke binne die dinamika van beide eiesoortigheid [konfessionaliteit/identiteit] en gemeenskaplikheid [ekumene/eenheid] ter bevordering van menswaardigheid, vredevolle naasbestaan en die bewaring van die Skepping.
-
Integriteit
Om geloofsinhoude sodanig te laat korreleer met geloofsgedrag dat 'n Christelike etos sigbaar word in ons strewe om geïdentifiseerde waardes so geloofwaardig moontlik te weerspieël in ons strukture, gesindheid en onderlinge gedrag, onder meer deur potensiële oorsake van konflik/spanning met aanpasbaarheid, soepelheid, sensitiwiteit, billikheid en gelykberegtiging te hanteer.
-
Kreatiwiteit
Om die vermoëns van studente te ontwikkel sodat hulle nuut en skeppend kan dink en met entoesiastiese en verbeeldingryke optredes/aksies die belang van die Fakulteit kan dien en uitbou. Om ook as dosente deurentyd te vernuwe.
-
Gasvryheid
Om 'n atmosfeer van liefdevolle openheid, respek en vriendelike welwillendheid onder die personeel en studente te skep sodat daar ruimte sal wees vir die uniekheid van ander mense. Om verskillende mense op só 'n wyse te hanteer en te akkommodeer, dat hulle welkom en geborge sal voel.
-
Geregtigheid
Om binne die Afrika-konteks menswaardigheid en 'n menswaardige lewensbestaan in die lig van basiese menseregte aktief te bevorder sodat mense billikheid en gelykwaardigheid sal ervaar en sodoende gehelp word om op 'n verantwoordelike wyse op lewenseise te reageer sonder om te voel daar word teen hulle gediskrimineer.
-
Deursigtigheid
Om die waarheid te dien deur 'n openlike debat oor omstrede en sensitiewe aangeleenthede te voer, sodat niemand bedrieg sal word, verontreg sal voel of deur verkeerde of eensydige informasie [ook die weerhou van tersaaklike inligting] mislei word nie.
bo |
|
 |
|
|
| |