previous page

Inhoud -SJI 1995- Index

next page


alumni

Gross het vakmanne gekweek

Prof HJ Grosskopf (7K) Foto: Rudi HofmeisterIndien die sukses van ’n goeie joernalis en akademikus gemeet word aan die invloed en respek wat hy afdwing, sal HJ Grosskopf, hoof van die Departement van Joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch vanaf 1984 tot 1993, se naam in die annale van die bedryf behoue bly, skryf Pierre de Villiers en Kobus Louwrens.

In 1983 het die US iemand gesoek om in die diep voetspore van prof. Piet Cillié te volg as hoof van dié departement. Die belangrike keuse het op Grosskopf, toe nog verteenwoordiger van Nasionale Koerante in Washington D.C., geval. In daardie jaar noem die Sunday Express hom "a man of unbending integrity and a journalist of great precision."

Sy intieme persvriende en oud-kollegas noem hom Gross. Dit sê miskien iets van die man se statuur in die joernalistiek, maar sy van is ironies - nederigheid laat by Johannes Grosskopf die skaal veel verder sak as die soort hovaardigheid wat deesdae die kenmerk van soveel joernaliste geword het.

Hoewel afkomstig van ’n familie skrywers en joernaliste, was die jong Johannes Grosskopf aanvanklik van plan om sy ander belangstellings eerste te stel en het ’n graad in Chemiese Ingenieurswese by die Universiteit van Kaapstad aangepak. Sy joernalistieke loopbaan het in 1945 begin toe hy vir sestien maande by die Suiderstem gaan werk het ná hy gedurende die tweede jaar van sy kursus besef het sy wiskunde is "nie goed genoeg nie."

Die Suiderstem was ’n mondstuk vir die Verenigde Party wat kort ná die oorname van die Nasionale Party toegemaak het. Teen dié tyd het die joernalistiek-gogga hom al gebyt en in 1947 begin hy by die opposisieparty se mondstuk, Die Burger, werk vir ’n beginsalaris van 25 pond, op voorwaarde dat hy sy graad deeltyds voltooi. Gedurende die volgende dekades het hy vinnige opgang gemaak in die joernalistiek.

In 1955 open hy die Londense kantore van Nasionale Koerante en werk self daar. (Die sukses van dié onderneming was so dat ’n tak in Washington, wat Grosskopf ook geloods het, in 1981 gevolg het.)

In 1965 word hy die eerste assistent-redakteur van Die Beeld, Naspers se destydse Sondagblad. Toe die koerant in 1970 saamsmelt met die Afrikaanse Pers se Dagbreek om Rapport te vorm, het hy aangebly as assistent-redakteur.

Teen 1974 was hy bo aan die leer as die tweede redakteur van Beeld. Later het hy as Suider-Afrikaanse redakteur van Nasionale Pers verslag gedoen oor verwikkelinge in die res van Afrika en die polities onstabiele Suid-Afrika van die laat sewentiger- en vroeë tagtigerjare.

As hoof van Stellenbosch se Departement van Joernalistiek het Grosskopf van meet af aan nie in sy voorganger se skadu gestaan nie en sy éie diep spore by die departement getrap. In sy tyd het talle top joernaliste hul basiese vaardighede in die gebou in Crozierstraat geleer.

Ná ’n produktiewe loopbaan van joernalistiek kweek, kon hy twee jaar gelede uiteindelik ontspan.

Vra ’n mens hom wat die grootste voordeel van aftrede is, hoef hy nie te lank te dink oor die antwoord nie: "Ek het nou uiteindelik tyd om te lees wat ek wil, en nie net wat ek moet nie."

Dié leesstof sê miskien meer van Grosskopf se lewensuitkyk en benadering tot joernalistiek as enige iets anders. Hy loop deur die sonnige sitkamer, warm gemeubileer met pragtige houtmeubels, na die vol boekrak in die voorportaal van sy huis in ’n rustige buurt van Stellenbosch aan die voet van Papegaaiberg. Hy lees meestal nie-fiksie en sonder The March of Folly - from Troy to Vietnam deur Amerikaanse historikus Barbara W. Tuchman uit as ’n boek wat hy onlangs gelees het en hoog aanskryf.

"Sy kyk met ’n joernalistieke oog. Sy gaan op die mens af," sê hy en vertel die verhaal uit die boek van keiser Wilhelm wat vir sy vrou twaalf hoede gekies het - en haar verplig het om hulle te dra. "Dit sê mos oneindig baie van sy styl van regering." Dat hy juis hierdie episode so goed onthou, sê ook iets van die mens Johannes Grosskopf, en sy sin vir humor.

Grosskopf was ’n verligte denker in tye toe persvryheid in Suid-Afrika net ’n mite was. Hy voel die Suid-Afrikaanse pers is vandag die vryste wat dit nog tydens sy loopbaan was. Redakteurs en joernaliste kan onder die nuwe regering oor bykans alles skryf. Hy roep die frustrerende tye tydens P.W. Botha se bewind in herinnering, toe ongelooflike stories om politieke redes nooit die publiek gehaal het nie.

"Jy moet weet wat in jou land aan die gang is en wat van belang is. Dit is skokkend om te dink dat verkiesings gehou is terwyl kiesers nie geweet het wat aangaan nie. Deur noodtoestande en ‘fancy’ wette is kiesers in onkunde gehou - ons is nie toegelaat om te skryf wat ons gesien het nie."

Maar tye het nou verander en die toekoms van persvryheid lyk nou rooskleurig, of hoe?

Dit hang af van die ekonomie, glo hy. Die toekoms van persvryheid is afhanklik van ’n sterk ekonomie. Hy vrees dat die regering die ekonomie sal laat agteruitgaan en dat adverteerders en aandeelhouers in koerante - waarvan hyself een is - uiteindelik sal opdroog.

Deesdae is die toekomsprobleme van die pers egter iets wat Grosskopf verkies om net van buite die kamp te beskou. Hy is vasbeslote om sy nuutgevonde vryheid te gebruik om saam met sy vrou Santie, ’n gesoute joernalis in eie reg, die wêreld plat te reis.

"Ek luister altyd na my vrou," skerts hy as ’n mens vra hoe twee hardkoppige joernaliste in die mallemeule-wêreld van die media dit vermag om na 40 jaar nog gelukkig getroud te wees. Hy voeg by dit was vir hom gedurende sy loopbaan essensieel om iemand te hê wat die werkswyse van ’n joernalis verstaan. "Sy het altyd verstaan as ek laat moet werk, of skielik uit die vere moet spring om ’n storie te dek."

Teen 1984 het hy sy notaboek en pen gebêre, en het die vuurvreterjoernalis ’n akademikus geword. Die doelstellings waarmee hy die honneurskursus in Joernalistiek aan die US oorgeneem het, was om studente in een jaar so bewus moontlik te maak van die uitdagings, moontlikhede en geleenthede wat die beroep bied.

Grosskopf sê hy wou die studente soveel moontlik praktiese ervaring gee en hulle só leer om stof in te samel, te orden, die korrels van die kaf te skei en wat oorbly dan interessant aan te bied. "Ek het my studente probeer leer om vakmanne te wees."

’n Ideale joernalis het, volgens hom, die vermoë "to comfort the afflicted and to afflict the comforted. Joernaliste moet, sonder vrees of voorkeur, dinge sê wat die gewete wakker maak; hulle moet sê wat mense wil weet en wat hulle nodig het om te weet. To inform, amuse and instruct."


previous page

[ Tuisblad ] [ Publikasies ] [ Inhoud / Index ] [ Publications ] [ Home Page ]

next page