hoofartikel
Die Soet en Suur van Sensuur
Min lande in die Westerse wereld het so
vinnig soos Suid-Afrika die afgelope jaar ontwikkel van 'n stelsel van onderdrukkende
sensuur tot feitlik die totale afskaffing van alle beheermaatreels. Mari Theron
neem die nuwe sensuurverligtheid - of is dit nou sensuuronverantwoordelikheid? - in
oënskou.
Sensuur se wiel het in 21 jaar in SA gedraai,
berig Rapport vroeër vanjaar. Regter Lammie Snyman se "waansinnige
sensuurtydperk", soos Kerneels Breytenbach dit noem, is vir die opkomende generasie
boek- en filmverbruikers iets onbekends.
Dr. Mangosuthu Buthelezi, Minister van
Binnelandse Sake, het in Augustus verlede jaar n taakgroep aangestel om die Wet op
Publikasies van Mei 1974 vir wysiging na te gaan. Die Film- en Publikasiekonsepwetsontwerp
is in Maart vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer: n skamele 19 bladsye wat
aansienlik minder toemaak as die gewigtige dokument van twee dekades gelede.
Verskille met, en veral verbeterings op, die
dokument van 1974, word steeds in die media bespreek. Die algemene gevoel is dat dit
n groot stap vorentoe in die kultivering van die Suid-Afrikaanse samelewing is.
Die debat rondom sensuur, wat gevolg het op die
wetsontwerp, is n emosionele een, veral waar dit oor die beskikbaarheid al dan nie
van pornografie gaan. Regslui, religieuse groepe, en feministe is maar enkele van die
kampe wat daaraan deelneem. In belang van die demokratiese gesprek moet daar na almal
geluister word.
In n poging tot sinvolle gesprek het ook
die Instituut vir Vryheid van Uitdrukking (FXI) in Augustus n konferensie gereël
waar kenners op die gebied hul menings kon lug oor vryheid van uitdrukking, pornografie en
wraaktaal.
Waaroor die bohaai?
Hoe ver kan vryheid van spraak en uitdrukking
gevoer word voor dit indring op die reg tot privaatheid? Wat is pornografie (dié woord
waaroor al die bohaai is en wat nie eers bestaan in die wetsontwerp nie) en wie is by
magte om daaroor te besluit? Hierdie vrae is van die meer voor die handliggende kwessies
wat in n bespreking van sensuur na vore kom. Definisie en woordomskrywing is egter
nie al waarmee die samestellers van n wetsontwerp so kontroversieel soos dié een
worstel nie.
Wette in n demokratiese samelewing, hoe
keurig bewoord en saamgestel, beperk in beginsel fundamentele regte. Selfs in n
demokratiese samelewing, kan wette aangewend word om die fundamentele beginsel van vryheid
van spraak te onderdruk. Wetgewing is moeilik interpreteerbaar en die beperkinge daarin
uiteengesit, moeilik om af te dwing.
Kobus van Rooyen, voorsitter van die taakgroep
verantwoordelik vir die Film en Publikasiekonsepwetsontwerp, het tydens die FXI-kongres
die publiek verder ingelig oor die benadering, werkswyse, beperkinge en besluite van die
taakgroep.
Vir n identifisering van die probleem, het
hulle die 1974-wet deeglik bekyk. Dit is verklaar as in stryd met die Handves van
Menseregte, wat as Hoofstuk 3 in die Oorgangsgrondwet opgeneem is. Die ou wet is vaag in
terminologie en kan lei tot onregverdige administratiewe aksie, wat te vrylik voorsiening
maak vir politieke inmenging deur owerhede. Dit dring op onredelike wyse in op die vryheid
van volwassenes en reguleer hul private domein te streng. Verder gee dit voorkeur aan die
Christelike geloof en onderbeklemtoon die vryheid van artistieke uitdrukking en
wetenskaplike navorsing.
Daarop het n deeglike bestudering van
verwante wette en uitsprake van meer volwasse demokrasieë as Suid-Afrika gevolg. Verskeie
riglyne is opgestel wat in ons situasie van toepassing sou kon wees.
Veranderinge waarop besluit is, sluit in: die
verheldering van bewoording; die uiteensetting van die feitelike omstandighede waaronder
n publikasie geweier kan word; die beskerming en verdraagsaamheid van die regte van
alle religieuse groepe; n klemverskuiwing in kriterium, van wat sosiaal
aanvaarbaar is na wat skadelik is. Laasgenoemde besluit is veral geneem met
die beskerming van kinders as hoofdoel van die nuwe wetsontwerp. Wat is die implikasie van
die skadelik-kriterium werklik?
Byvoeglike naamwoorde uit die ou wet, soos onbehoorlik,
obseen en afstootlik, is implisiet subjektief en verteenwoordigend van
die gevoel van een groep of individu teenoor sekere materiaal. Hierdie woorde maak nou
plek vir skadelik. Die voorkoming van skade (die Engelse woord harm is
moontlik meer beskrywend) vorm dus die basis van enige besluit om beperkinge daar te stel
oor die beskikbaarheid of verspreiding van n publikasie. Veral die voorkoming van
skade aan wat die staat as besonder beskermingswaardig beskou, soos kinders of die
handhawing van vrede.
Eksplisiete seks
Oor die onderskeid moraliteit of skadelikheid
het Regter John Sopinka van die Kanadese Hooggeregshof op die FXI-kongres ook sy mening
gelug. Hy sê die beskerming van morele waardes alleen regverdig nie die skending van vrye
spraak nie.
Regter Sopinka omskryf
skadelike materiaal as dit wat aanleiding gee tot, of gebruikers vatbaar maak vir
anti-sosiale gedrag. Hy noem as voorbeeld die kwessie van die mishandeling van vroue deur
mans of vice versa.
In die geval van eksplisiete seks in n
film of publikasie, sal enigiets wat as skadelik vir staatsbelange (soos kinders of vrede)
beskou word, ontoelaatbaar wees. Regter Sopinka maak wel n onderskeid tussen tipes
eksplisiete seks en die mate van skade wat dit inhou.
Die taakgroep maak ook hierdie onderskeid in hul
klassifikasie van publikasies en films. Dit geskied volgens die graad van skadelikheid en
die aard van spesifieke groepe, veral ouderdomsgroepe, wat vatbaar is vir skade.
Uitbeeldings van die volgende is as XX
geklassifiseer (dus, totaal ongeskik vir verspreiding): sekstonele waar kinders onder die
ouderdom van 16, of persone wat so jonk voorkom, betrokke is; gelyktydige eksplisiete
gewelddadige en seksuele gedrag; eksplisiete bestialiteit; en eksplisiete toediening of
gevolge van ekstreme geweld. Bona fide kuns en wetenskaplike publikasies word hiervan
uitgesluit.
Die skadelikheidskriterium bring die volgende
algemene opvatting weer na die oppervlak: pornografie kan direk aanleiding gee tot
verkragting. Die omskrywing van skade deur Regter Sopinka impliseer die moontlikheid dat
die verbruik van pornografie kan lei tot verkragting of ander seks verwante
geweldsmisdade. Geen afdoende bewyse is egter nog gevind vir n kousale verband
tussen pornografie en verkragting nie.
Vir Amanda Gouws van die Departement Politieke
Wetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch, is die blote moontlikheid van só n
korrelasie genoeg bewys vir die skadelikheid van pornografie. Die taakgroep moes verskeie
aanklagte soos dié aanhoor uit die sowat 1 600 openbare voorstelle van individue en
groepe oor die wetsontwerp. Van Rooyen en die taakgroep het dit beskou as "sweeping
statements" wat afgekeur moes word vanweë die onwetenskaplike aard daarvan.
Waar dit die degradasie van die vrou aangaan,
word die kwessie meer kompleks. Wie besluit of iets degraderend is? Amerikaanse feministe,
ook dié wat nie in beginsel teen sekstydskrifte is nie, het steeds hul mes in (soms
Bobbitt-styl) vir dié tydskrifte wat spotprente of grappies bevat wat openlik geweld teen
vroue insinueer. Dié groepe vra dikwels wat die reaksie sou wees op soortgelyke
spotprente wat geweld teen, byvoorbeeld, swartmense of Jode uitbeeld. Hulle voer aan daar
is geen regverdiging vir vrouehaat (misogyny) nie.
Volgens Joanne Fedler, regsdosent aan die
Universiteit van die Witwatersrand, is gelykheid die norm, soos met rasse-aangeleenthede.
Sy bepleit beperkinge op die mate waarin die persoonlike vryheid van een persoon toegelaat
word om inbreuk te maak op die regte van n ander - in dié geval die vrou. Maar sy
voeg by selfs meer vooroordele bestaan oor geslag en seks as by die gelykheid van rasse.
Vrouehaat
Die kriterium van skadelikheid sal uiteraard nie
vrouehaat laat deurglip nie. Materiaal behoort deur dié kriterium gesif te kan word,
sonder beskuldigings van subjektiwiteit. Die besit of verspreiding van sulke materiaal
word egter nie, soos in die geval van kinderpornografie, as kriminele oortreding omskryf
en uitgesonder nie. Dit is hoofsaaklik vanweë die probleme rondom definisie en
afbakening.
In n artikel wat in 1994 in Leadership verskyn
het, word die volgende aanbeveling gemaak: "Equip women with more education and
better jobs, so that with financial independence, they have the power and choice to spurn
the misogynists, become equal citizens and yes, shamelessly enjoy themselves in bed
too."
Vanweë die unieke samestelling van die
Suid-Afrikaanse samelewing, is deeglike navorsing en nadenke nodig by die optrek van
riglyne vir die handhawing van demokrasie en vrede. Die wetsontwerp moet dus ook
voorsiening maak vir publikasies en films wat rassehaat sou propageer. Terwyl die studie
van Amerikaanse en Kanadese modelle insiggewend kan wees, moet die realiteite van die
Suid-Afrikaanse situasie nie uit die oog verloor word nie.
Daar is twee hoofbenaderings tot hierdie
dilemma. Materiaal wat rassekonflik mag aanblaas, kan gesensor word ter wille van
landsvrede. Andersins kan dit toegelaat word om die demokratiese gesprek te bevorder.
Die taakgroep het besluit om verwysings na ras
te vermy om sodoende te verhoed dat die wet verpolitiseer. Wraaktaal (hate speech),
wat rassisme kan insluit, word tot dusver, soos politieke uitdrukking, sy gang laat gaan.
Wat religieuse haat betref is daar wel n
paragraaf ingesluit om die Raad in staat te stel om n rolprent te verbied wat in sy
geheel haat teenoor n religieuse groep kan aanmoedig. Hoewel dit nie algemene
praktyk in Westerse lande is nie, is dit volgens Van Rooyen nie internasionaal onbekend
nie. Die taakgroep sien dit as die beste opsie vir Suid-Afrika. Volgens die nuwe
benadering sal n rolprent soos The Last Temptation of Christ en Salman
Rushdie se omstrede roman, The Satanic Verses, egter nie meer verbied kan word nie.
Kindermolestering
Die taakgroep se belofte dat die beskerming van
die kind hul hoofdoel met die wetsontwerp was, word nie deur almal aanvaar nie. Dr. Ia van
Zyl het vanjaar in Die Burger n artikel geskryf oor wat sy as mites oor
sensuur en pornografie beskou. Sy is van mening "die kind word met die badwater
uitgegooi" met die afskaffing van sensuur. Volgens haar help die wet nie ouers om hul
kinders effektief teen ongewenste invloede te beskerm nie. Sy noem ook die getuienis van
twee staatsadvokate van die spesialishof vir verkragting en kindermolestering in Kaapstad.
Die uitsprake van advv. Ronelle Bergh en Tessa Heunis oor die rol van pornografie in
kindermishandeling, uit hul daaglikse ondervinding met kinderslagoffers, het vanjaar wye
dekking in Kaapse dagblaaie gekry.
Ook die prokureur-generaal van die Wes-Kaap,
adv. Frank Kahn, is bekommerd oor die effek van n verslapte sensuurbeleid op die
welsyn van Suid-Afrikaanse kinders. Hy kritiseer die wetsontwerp as "onsensitief
teenoor gemeenskapstandaarde", omdat dit nie ruimte vir gemeenskappe laat om self, as
hulle dit nodig sou ag, oor strenger sensuur te kan besluit nie. Sy opmerking volg op
n onlangse klopjag op twee Kaapstadse "sekswinkels" waar op
"ongewenste tydskrifte en videos" beslag gelê is. (Dié klopjag het nog
plaasgevind onder die 1974 wet.)
Die eienaar van een van die winkels het nà die
klopjag gesê: "Dit is so n winsgewende bedryf dat n klopjag nie seermaak
nie. Jy verloor nie veel nie, jy gaan net die volgende dag weer aan." Sou die
wetsontwerp aanvaar word, sal die mate van kinderbeskerming afhang van die
polisieerbaarheid daarvan. Kahn betwyfel of dit effektief gedoen sal kan word.
Die taakgroep het die probleem van
polisieerbaarheid aangespreek, en, volgens Van Rooyen, die volgende voorstelle gemaak: die
Raad moet n koördinerende offisier aanstel vir die handhawing van die wet; die
offisier moet n verbruikers- en bestuursvriendelike werkswyse handhaaf en nie Groot
Broer speel nie; die gemeenskap moet opgevoed en ingelig word om sy morele
verantwoordelikheid self te dra; die bestuurders van filmteaters, videowinkels en ander
betrokke besighede moet in n groot mate self-regulerend optree.
Dit bly egter n kriminele oortreding om
kinderpornografie hoegenaamd te besit, of enige materiaal te versprei waarop die wet
n verspreidingsbeperking geplaas het. Andersins word geen vooraf-sensuur meer
toegepas nie. Publikasies word net ondersoek en geklassifiseer op openbare aandrang of
indien dit aan die Raad voorgelê word. Soos wat internasionaal gebruiklik is, is films
wat openbaar vertoon word of in videowinkels beskikbaar is, wel onderhewig aan
pre-klassifikasie.
Die stof het nog lank nie gaan lê rondom
Suid-Afrika se nuwe sensuurbeleid nie. Soos by die meeste sosiale kwessies, is daar
botsende regte ter sprake. Aangesien die konstitusionele besluitnemingsproses die
balansering van kompeterende belange en waardes is, het die regte nie werklik inhoud
totdat n liggaam van grondwetlike uitsprake deur die Suid-Afrikaanse konstitusionele
hof opgebou is nie. Die sensuurwiel het egter ongetwyfeld gedraai.