previous page

Inhoud -SJI 1995- Index

next page


profiel

Ton Vosloo - titaan van die media

Hy is 'n middeljarige wit man wat Time oppervlakkig vind. Hy het in die hoogty van apartheid geskryf die regering gaan met die ANC onderhandel soos hy met Swapo in Genève gedoen het. Onder sy leierskap is Beeld in New York Times beskryf as "the most vigorous and influential Afrikaans newspaper in South Africa". Johan de Meyer, Filip Vandenbroeke en Liela Groenewald het gaan uitvind hoe Ton Vosloo, uitvoerende voorsitter van Nasionale Pers en M-Net, die uitdagings van die volgende eeu se media gaan benader.

As gesoute joernalis weet hy hoe om ’n goeie onderhoud te voer. Vanuit sy kantoor in Kaapstad praat hy beheersd oor die verlede. ’n Mens verwag byna ’n pen agter sy oor en drukkersink aan sy vingers terwyl jy na hom luister.

Party mense noem hom ’n profeet, ’n innoveerder op politieke en sosiale gebied, ander sien hom as ’n burokraat wat die Suid-Afrikaanse mediawêreld monopoliseer. Vosloo meen dit het geen genie gevat om te sien Suid-Afrika kon nie voortgaan met sy demografiese samestelling en minderheidsregering wat die meerderheid wou domineer nie. Maar as hy vandag profeet moet speel, sê Vosloo, gaan die springkane ons inhaal as die regering nie vir mense ’n graaf in die hand gaan stop en sê "kom ons bou saam" nie.

Ton Vosloo
Curriculum Vitae

Voorsitter: Nasionale Media, Nasionale Boekhandel, Nethold, M-Net
Direkteur: Sanlam, Rapport Uitgewers, MTN, Maister Directories
1956 - 1983 Joernalis
1970 Nieman Fellowship: Harvard Universiteit
1977 - 1983 Redakteur van Beeld
1984 Besturende direkteur: Nasionale Pers
1992 Uitvoerende voorsitter: Naspers
1994 Eredoktorsgraad van PU vir CHO

Dalk mag hy maar spog met Naspers - soos hy wel doen - siende dat die son finansieel vir die maatskappy opgaan. Tog wonder mens waar Naspers heen stuur. Die maatskappy is berug vir sy vriendskap met die Nasionale Party. Die uitvoerende voorsitter is bekend vir sy uitgesprokenheid oor mediavryheid.

"Joernaliste kan vinniger beweeg as ’n regering - hulle het nie ’n 'constituency' nie," sê Vosloo oor sy tyd saam met Beeld. Dié koerant het met sy eerste uitgawe in 1974 ’n mark betree wat swaar gebuk gegaan het onder ekonomiese druk, veroorsaak deur die ongewildheid van apartheid.

Daar is aanvanklik gehoop Beeld sou sommer gou meer as 100 000 eksemplare per dag verkoop. Dit het nie gebeur nie. Beeld se sirkulasie het in 1975 tot so min as 21 568 per dag gedaal. Die koerant moes sy pad oopveg om te kom waar hy wou wees en die sirkulasiestryd met Die Transvaler het nie gehelp om Beeld aan die lewe te hou nie. Tog kon Vosloo dit bekostig om te skryf wat hy geskryf het.

"Beeld het vreesloos en skerp standpunt ingeneem teen diskriminasie. Ek het geskryf dat ’n nasionale regering met die ANC gaan onderhandel. Ek was toe in verset. Toe kry Beeld die 'reflected glory' van hierdie standpunt." Sy tyd by Beeld beskryf hy as "heerlike jare in die joernalistiek."

Die Burger het ’n duidelike politieke agenda gehad, Die Volksblad selfs nog meer. Hulle het gestaan vir ’n idee. Vosloo erken dit self, maar hy glo Nasionale Pers is gestig om die koerant te dien.

Die Burger is nie meer ’n "witmanskoerant" nie, sê hy. "Die Burger het geweldige voorbereidingswerk gedoen vir die opneem van die bruinmense. Die Burger vind vandag meer as ’n derde van sy kopers in sogenaamde bruin gemeenskappe. Daar is soms die ongeregverdigde aantyging Die Burger is verkramp en Beeld is verlig. Dit is nie waar nie. Beeld het die voordeel gehad dat hy vir homself ’n pad kon oopskop. Die Burger is self op sy dag onder die tien invloedrykste koerante ter wêreld gereken."

Die Burger is dalk kleurblind, maar dit is nog Afrikaans. Die koerant is ook voor in die geveg vir Afrikaans, want Afrikaner beteken nie meer blank nie. En dít, sê Vosloo, is waarom Naspers kan sê hy is nasionaal. Sy definisies is verruim. Volk beteken Suid-Afrikaner en Afrikaner beteken Afrikaanssprekende.

Die verbod op media kruiseienaarskap is onsinnig omdat dit maatskappye met kapitaalkrag weerhou om in gemeenskappe te belê. Vosloo wil koerante finansier, totdat die gemeenskap die koerant finansieel kan dra. Met die notering van City Press, wat bestem is om die grootste koerant in Afrika te word, sal die swart gemeenskap finansieel bemagtig word. Met Naspers se notering is meer as ’n duisend witmense op papier kitsmiljoenêrs gemaak.

Dít is wat Vosloo wil bereik. Witmense moes tagtig jaar wag om die sukses van Naspers se notering te vier. Hy meen die swart bemagtiging gaan veel vinniger kom.

Maar daar is ander faktore ook. "Inligting is deesdae ’n internasionale fenomeen. Daar is ’n breë band inligting wat reg rondom die wêreld loop. En om vir my te kom sê, met satelliete in die lug, met Internet, ek mag nie deelneem aan ’n medium nie, is oudmodies. Dit gaan net nie op nie."

Naspers se lewensverhaal gaan oor meer as die ophef van gemeenskappe. Dit gaan ook oor die groei van ’n maatskappy. Naspers se notering verlede jaar was finansieel ’n groter sukses as dié van Rembrandt, sê Vosloo. Die voorlaaste intekenprys was vier rand. Die openingsprys was twintig rand.

Die stigting van ’n vakbond vir joernaliste is onlangs by Die Burger en Beeld ondersoek. Dit het nie by een van die twee die kwalifiserende vyftig persent steun kon werf nie. "Op die oomblik verwelkom ek dit nie. ’n Joernalis is 24 uur aan diens. En ’n joernalis werk vir ’n ideaal. Ons het nog altyd beter diensvoorwaardes gebied as waarvoor ’n vakbond wou beding. Maar ek is realisties, ek dink dit gaan kom. Dit sou ’n dag wees waaroor mens moet treur. Dit gaan iets verwyder uit die verhouding binne ’n redaksie."

Solank die direksie en joernaliste en redakteurs mekaar kan vertrou, gee Vosloo sy werknemers soveel vryheid as wat hulle wil hê. Hy vertel van ’n baie berugte persbaas, hy wil nie sy naam noem nie, wat gesê het "julle lei die joernaliste op, ek koop hulle by julle" en hy het vandag nie meer een Afrikaanse koerant oor nie. "Een van die destydse Sunday Express in Brittanje se top redakteurs was ’n man met die naam van Christiansen. Hy het ’n leuse gehad: 'Show me a contented editor, and I will show you a bad newspaper.' Ons kan nooit selfvoldaan raak nie.

"Ons is nou ’n voller samelewing. Wat nou? Ek dink ons volgende stap is om ons vas te maak aan bepaalde waardesisteme wat ’n land ’n wenland kan maak." Vosloo was nog altyd ’n optimis, maar sy vertroue in die strategie van die nuwe regering is aan die afneem. Polisiemanne wat paaie blokkeer oor salariskwessies en die bemors van universiteitskampusse noem hy "uitspattighede".

"Die regering moet nie nou sit en karring oor vakbondregte en waarheidskommissies om die verlede uit te pluis nie. Dit het seker ook sy plek. Maar ons moet nou vyf of ses punte kry wat die president aan die maspaal kan spyker en sê 'dit is wat ek vir Suid-Afrika wil doen'."

"Ons is ’n maatskappy wat in die eerste plek gestig is om sekere doelstellings te bereik deur die joernalistiek. Ons probeer ’n kultuur vestig waar ons prioriteit gee aan goeie opgeleide joernaliste, wat ons publikasies en standaarde kan handhaaf. Hier is ’n klomp klein koninkrykies in die Nasionale Pers. Dis Huisgenoot, Sarie, Human & Rousseau en Tafelberg. Binne elkeen is ’n hele gros van skeppende mense wat hulle kan uitleef, en kan bydra tot ’n toegevoegde waarde by Naspers se aura van kwaliteit."

Vosloo glo nie Naspers monopoliseer die mediabedryf nie. "Ons is in ’n geweldig mededingende bedryf. Die Burger het nie ’n Afrikaanse mededinger in die Kaap nie, maar hy het elke dag twee ander mededingers. Dis een van die min wêreldstede van hierdie grootte waar jy drie dagblaaie kry. As Die Burger hom nie handhaaf nie, gaan hy onder. Die publiek is baie wispelturig. Onthou ons publiseer nie net in Afrikaans nie. Veertig persent van ons boeke is in Engels. Daar meet jy jouself teen die hele wêreld, nie net teen Suid-Afrika nie. Ek dink kompetisie is daar."

Afrika dink Suid-Afrika is die magneet. Maar Ton Vosloo sien swarigheid as die regering nie die bevolkingsprobleem gaan aanspreek soos voor die verkiesing beloof is nie. "Suid-Afrika se ekologie kan net x-getal mense dra. Ons is sewe agstes ’n woestyn. Watter soort toekoms gaan ons hê as hier tagtig miljoen mense bly?"

’n Vrou, ’n wa wat deur ’n drif getrek word en ’n opkomende son. Die stigting van Naspers in 1915 met dié logo was inderdaad die begin van ’n nuwe era in die geskiedenis van Afrikaners. Tagtig jaar later lyk Naspers heel anders. Met ’n voorsitter wat al die internasionale pers se "flavour of the month" was en publikasies van alle soorte en tale, wil Naspers sy bagasie afskud. Ton Vosloo wil die hele land op sy eie nasionale wa laai.

M-NET en die stryd om sendtyd

U is ’n voorstander van die SAUK se privatisering. Vrees u nie die afskaling van plaaslike programme nie?

Vosloo: "Ek stem saam dat die gevaar groot is. In die VSA waar jy volledige privatisering kry, val daar kleiner aksente op daardie programme. Ek sê daar moet ’n publieke uitsaaier wees in Suid-Afrika, maar dan moet hy ’n bepaalde opdrag hê.

’n Publieke uitsaaier hoef nie mee te ding met private inisiatiewe wanneer dit kom by massa vermaaklikheid nie. My kritiek teen die SAUK is dat hy al die lisensie- en advertensiegelde wil vat. Daarom het ons M-Net begin as ’n teenwig omdat hulle die gedrukte media beroof het van sy inkomste. Ons wou net die balans herstel."

Die invoer van nege uit tien M-Net-programme laat vrae ontstaan oor Amerikaanse kultuurimperialisme en die posisie van kleiner kultuurgemeenskappe in die medialandskap.

Vosloo: "Dis wêreldwyd ’n probleem. Die Amerikaanse entertainment imperialisme oorspoel die wêreld, omdat hulle programme soveel goedkoper is. Dis duur vir kleiner kultuurgemeenskappe om self programme te vervaardig. Ek dink as die produk reg is - en ons het al goeie reekse in Suid-Afrika gehad - is daar inkomste.

Kwotas is nie ’n oplossing vir goeie kulturele beplanning nie. Mense gaan minderwaardige programme maak net om die kwota te vul. Jy moet bemarkbare programme kry. Ons het toe Egoli gemaak. Die twee jaar van Egoli is gelykstaande aan sewentig vollengte plaaslike rolprente. Ons hou elke dag tweehonderd skeppende mense aan die gang. Dis die pad wat jy moet loop as jy plaaslike inhoud wil bevorder."

Kan ons in Suid-Afrika praat van persvryheid solank die SAUK die enigste is wat nuus aanbied?

Vosloo: "Ek dink ons het redelike persvryheid. Op ’n wêreldskaal sal Suid-Afrika waarskynlik agt uit tien kry. Die regering het vir M-Net ’n nuuslisensie gegee, maar dit was beperkend. Ons kon nie voor half tien saans nuus uitsaai nie. Toe het ons die aanbod bedank. Dis nie te sê dat ons dit in die toekoms nie weer sal oorweeg nie. Die era van die satelliet is op hande, M-Net gaan in September 22 kanale kan aanbied. Daar is ’n groot kans vir ’n entrepeneur wat na vore wil kom om nuus aan te bied op een van M-Net se kanale. Maar M-Net maak nie op die oomblik gereed vir nuus nie."

Die kontrak tussen Richmond en M-Net word beskou as een van die grootste internasionale deurbrake vir ’n Suid-Afrikaanse onderneming. Watter voordele bied so ’n vennootskap vir Suid-Afrika?

Vosloo: "Tien jaar terug is M-Net gestig in ’n klein kantoortjie in Johannesburg. Vandag is dit aanwesig van Noordkaap in Noorweë tot Kaappunt in Suid-Afrika. Ons is in 43 lande. In die kreatiewe wêreld van betaaltelevisie is ons aan die voorpunt. Jy kry geweldige voordele vir Suid-Afrika want jou stem is soveel sterker wanneer dit kom by die aankoop van programme. Dit het onmiddellike voordele vir Suid-Afrikaanse kykers."


previous page

[ Tuisblad ] [ Publikasies ] [ Inhoud / Index ] [ Publications ] [ Home Page ]

next page