previous page

Inhoud -SJI 1996- Index

next page


media onderwys

’n Nuwe handboek elke dag: Die pers in die klaskamer

deur Jan-Jan Joubert, Echbert Boezak en Beverly Farmer

Koeranttyd in die Wiskundeklas (6 K) Foto: Bruce LeggGeletterdheid is die sleutel tot die bemagtiging van die hele bevolking. Dit kan die ongelykhede van die verlede uitwis. Meer as 15-miljoen Suid-Afrikaners is egter ongeletterd. Dit is een van die land se grootste struikelblokke in die weg van ekonomiese ontwikkeling. Maar op Bonnievale in die Langeberg en op plekke landswyd word die probleem aangespreek met behulp van die media.

Onderwysers sit met die hande in die hare oor die gebrekkige geskikte onderwysmateriaal vir veranderde behoeftes. Só sê die hoof van die Laerskool Wolraad Woltemade in Bothasig, Kaapstad, Eddie Conradie, in ’n brief aan Die Burger. Sy versugting word gedeel deur menige onderwyser in veral agtergeblewe gebiede, waar geld en handboeke skaars is. Verskeie publikasies het tot die onderwysstryd toegetree en help om die situasie te beredder.

Probleme is daar genoeg vir die publikasies wat betrokke wil raak. Volgens Carol Campbell, enigste onderwysverslaggewer van die Cape Times is die koerant nie ’n rolspeler in die aanspreek van onderwys-agterstande nie, want die teikengroep is hoofsaaklik die AB-inkomstegroep in die Kaapse Metropool. Deur gereelde beriggewing oor ontwikkelinge en probleme in onderwys word die aandag op knelpunte gevestig. ’n Kampusblad word ook beplan. Me. Campbell sê fondse en spasie vir ’n gereelde onderwysrubriek in die Cape Times ontbreek.

Heelwat kleiner publikasies sien wel hul weg oop om die probleem aan te spreek. Vrydag, ’n Afrikaanse koerant in KwaZulu-Natal, publiseer weekliks ’n skoolblad gemik op T1-, T2- en T3-leerlinge in Afrikaans. Volgens die redakteur, Hilda Grobler, poog die koerant om sy lesers op te lei. Handboeke is gedateer, want dit reflekteer die denke van die ou bedeling. Daarom is twee vakadviseurs van die provinsiale onderwysdepartement, Frans van Niekerk en Pieter Joubert, genader. Hulle behartig die bladsy selfstandig, afsonderlik van die redaksie. Lees- en skryfvaardighede word volgens die kommunikatiewe metode ontwikkel, en terugvoer vanaf skole vanuit alle gemeenskappe is baie positief. Sedert April skryf Magda van der Merwe van die Durbanse Onderwyskollege ’n junior primêre rubriek.

Een van die grootste mediaonderwysprojekte in die land word deur Die Burger gedra. Koerant in Klaskamer (KiK) poog om die koerant weer die biblioteek te maak deur onderwysers op te lei om die koerant as onderrigmedium te gebruik. Hierdie projek, wat deur Sanlam geborg word, is geskoei op die beginsels van die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram. Magdel Stander, koördineerder van die program en oud-onderwyser, sê dit behels die opleiding van leerkragte deur seminare wat sy saam met ander onderwysers aanbied. Die projek het al sowat vyfduisend onderwysers bereik.

Die werkswyse is nie net om opleiding te verskaf nie, maar ook gidse met onderrigmetodes en didaktiese wenke. Met die ter perse gaan van SJI was vyf gidse reeds beskikbaar - vir junior primêr, wiskunde, geskiedenis en Afrikaans op senior primêre vlak en Afrikaans en Engels vir hoërskole. Die aanvraag is so groot dat me Stander skole wat haar nader op ’n waglys moet plaas. Sy sê dit is veral skole in agtergeblewe gemeenskappe wat positief is oor die idee. Die projek poog om lojale koerantlesers te kweek en is dus ’n belegging in die toekoms.

’n Geskiedenisrubriek deur die Onderwyskollege Boland is ook deel van Die Burger se belegging in die opheffing van onderwys. Omdat die aanbieding van die land se geskiedenis verander het, is eerste daaraan aandag geskenk. Dié rubriek verskyn weekliks en spreek probleemareas in die nuwe sillabus aan. Ander vakke sal aan die beurt kom wanneer sillabusse afgehandel is.

Ervaring wys dat modulêre uitleg met vrug vir onderrig gebruik kan word. Dié dagblad se jeug-insetsel, Jong Burger, word so uitgelê en enige verandering lei tot onmiddellike negatiewe reaksie van skoliere, sê Willem Breytenbach, opvoedkunde verslaggewer by Die Burger. In die Wes-Kaap val die fokus al meer op agtergeblewe en plattelandse gebiede. As onderwysverslaggewer dek hy ongeveer honderd geletterheidsprogramme in Wes-Kaapland. Dié koerant is ook betrokke by die kompetisie wat jaarliks die beste skoolkoerant landswyd aanwys.

Die Burger spreek die onderwys-agterstande ook op ander maniere aan. Metro-Burger, wat hoofsaaklik in Mitchell’s Plain en omgewing versprei word, verleen eksamenhulp aan matriekleerlinge. Die terugvoer bewys die pakket vind wye inslag.

Maar dit is veral die landwye Power Matric deur die Sunday Times wat positiewe reaksie uitlok. Sanlam en Multichoice borg die projek. Dié afstandleerprojek deur satelliet bring nuwe hoop vir agtergeblewe leerlinge op die platteland. Sowat drieduisend inskrywings is deur 120 leersentrums dwarsoor die land ontvang. Sedert die projek in Februarie van stapel gestuur is, bedien Africa Growth Guides (AGN) die leersentra. Groepklasse word aangebied by spesiale leersentra, maar privaatstudie is ook moontlik. Studiegidse vir elke vak, genaamd Growth Guides, word voorsien.

Fasiliteerders help studente met probleme en ’n gesimuleerde klasatmosfeer word geskep. Tot dusver is programme vir Afrikaans, Engels, Bedryfsekonomie, Wiskunde en Natuur- en Skeikunde ontwikkel. Lewensvaardighede wat nuttig is in die werkplek, word ook aangeleer. Die hoofvoordeel van die projek is dat dit bekostigbare en toeganklike opleidingsgeleenthede bied deur die medium van elektroniese klaskamers.

Duisende Suid-Afrikaners wat deur sosio-ekonomiese en politieke omstandighede buite hulle beheer die voorreg ontneem is om matriek te verwerf, kan dié agterstand nou uitwis. Met die opening van die projek het adv. Inus Marais, bestuurder van Sanlam in Gauteng, gesê: "Die onderwyskrisis in 1976 het duisende mense gemarginaliseer, omdat hulle nie oor ’n matrieksertifikaat beskik het nie." Die program poog om die bevolking te bemagtig.

Die elektroniese klaskamers kan amper oral opgerig word - van kerke tot motorhuise. Die enigste toerusting wat benodig word, is ’n satellietskottel, televisiestel en ’n AGN-dekodeerder. Wat hierdie projek verder uniek maak, is die gebruik van sonkrag in gebiede sonder elektrisiteit.

Die Sondagkoerant Rapport se tydskrifge-deelte bevat ’n onderwysrubriek wat deur opvoedkundiges in Pretoria saamgestel word. Die rubriek fokus op idees vir die klaskamer en word wyd deur onderwysers en leerlinge gebruik. Grafika word aangewend om dit meer effektief en aanskoulik te maak.

Die tydskrifmark lewer ook sy bydrae. Republikeinse Pers in Durban het deur die Onderwysstigting by ’n groot onderwysprogram betrokke geraak. Die tydskrif Bona het ’n sirkulasie van 250 000 en bereik ongeveer 2,5miljoen lesers. Met elke uitgawe word ’n opvoedkundige bylae van 24 bladsye, geborg deur Mondi Paper, versprei. Omdat die publikasie in Zulu, Sesotho, Xhosa en Engels verskyn, word ’n wye mark bereik, sê Una Seery van die Republiekeinse Pers. Navorsing toon dat 50 % van lesers op die platteland woon. Veral die jeug gebruik die bylaag wat grootliks op die onderrig van Engels en lewensvaardighede fokus. Volwasse onderrig geniet ook aandag: geletterheid, straatreg en lewensvaardighede, soos hoe om geld te trek of ’n telefoon te beantwoord, word gedek.

Huisgenoot, Suid-Afrika se topverkoper van alle publikasies met ’n sirkulasiesyfer van 534 985 per week, se opvoedkundige bydrae is die Fanie en Melanie-rubriek. Die rubriek bestaan sedert 1978. Die redaksie het die behoefte van leerlinge om prente vir hul skooltake te hê, geïdentifiseer sê G Olwage, adjunk-redakteur. Sedertdien word vyf bladsye per week daaraan afgestaan. Die bladsye word deur Gillian Bunce in Londen saamgestel. Sy stuur die prente en skyfies elektronies deur na Suid-Afrika met basiese voorstelle vir bladuitleg. Voortdurende terugvoer en idees word van leerlinge ontvang. Huisgenoot poog om aktuele onderwerpe te dek en hou leerplanne in gedagte. Die rubriek word in Engels in You gedupliseer. Die ander susterstydskrif, Drum, se Young Drum word op dieselfde lees geskoei.

Nie almal stem saam oor die meriete van hierdie pogings nie. Prof Joe Muller, hoof van die onderwysskool aan die Universiteit van Kaapstad, sê koerantonderrig is nuttig, maar dit word nie altyd omgesit in effektiewe onderwys nie. Om werklik die doel te bereik, moet die koerant meer as teksboek figureer. Die pers moet besef onderrig en vermaak is twee verskillende dinge en moenie probeer om onderwys met vermaak te dra nie, sê prof Muller. Onderwys is ’n aaneenlopende proses en moet op ’n didakties verantwoordbare grondslag aangebied word. Hy wonder oor die langtermyn nut van ’n projek soos KiK, omdat dit te veel op die vermaaklike aspek van onderrig fokus.

Diegene wat in die tuig staan is nie altyd so skepties soos die akademici nie. Dr. Agnes Crafford is betrokke by nuutgeletterheidsprogramme van die Bonnita kaasfabriek op Bonnievale. Volgens haar bestaan daar geen opvolgprogramme vir volwasse nuutgeletterdes nie. Sy het ook ’n probleem met al die bestaande leesboeke vir hierdie geletterheidsfase wat op kinders van jonger as tien jaar gemik is. Nie net is dit oninteressant vir volwassenes nie, maar dis ook ’n verleentheid om dit voor kinders te oefen. Sy probeer die probleem oplos deur ’n leerplan saam te stel deur die eksklusiewe gebruik van koerante - veral Die Burger. Begripstoetse word uit die berigte opgestel. Grafieke in Sake-Burger is goeie onderrigmateriaal vir wiskundeklasse.

Die Snuffelgids bly nie agterweë nie. Dit word vir rye en reekse aangewend. Dr. Crafford sê sy wil ook die leerders se ervaringsveld verbreed. Daarom leer hulle vaardighede wat hulle daagliks kan gebruik soos om ’n weerkaart te lees. Vir die volwassenes van hierdie gemeenskap word ’n nuwe venster van kennis deur onderrig met behulp van die media oopgemaak.

Dwarsdeur die land is daar dus geletterdheidsprojekte van aansienlike omvang aan die gang. Dit is ’n merkwaardige verandering, want tot onlangs het daar nie sulke programme bestaan nie. Alle publikasies behoort verplig te voel om op só ’n wyse iets terug te ploeg in die gemeenskap. Tog bestaan daar leemtes in die projekte wat van stapel gestuur is.

Baie publikasies beskou nie onderrig as hul primêre verantwoordelikheid nie. Ruimte is beperk en geld skaars. Tog bewys Bona dis moontlik om ’n groot hoeveelheid spasie aan onderrig af te staan op ’n gereelde en beplande grondslag. Vrydag se Skoolblad toon kleiner publikasies kan ook ’n betekenisvolle bydrae lewer.

Nog ’n groot probleem is dat daar nie ’n oorkoepelende struktuur is wat die projekte koördineer nie. Heelwat van die betrokkenes is onbewus van mekaar se aktiwiteite. Dit kan daartoe lei dat van die goeie werk wat gedoen word, uiteindelik gedupliseer en lukraak aangepak word.

Om effektief te wees, moet programme op onderwysers eerder as kinders gemik wees, want onderwysers bereik meer kinders makliker. Onderwysers is ook opgelei om die vakinhoud didakties korrek binne die uniek-individuele klassituasie aan te bied. Hier het Die Burger se KiK-projek beslis die regte idee. Dis ’n langtermynproses en moet as sulks aangepak word. Dit bied ook geleentheid vir onderwysers wie se kennis en aanbiedingswyse verouderd is, om op hoogte van die nuutste tendense te kom. Programme wat op kinders gemik is, soos Huisgenoot se Fanie en Melanie, behoort nie afgeskiet word nie, want dit bevorder selfstandige leer by skoliere.

Suiwer motiewe by publikasies is van die allergrootste belang. Dit moet gaan om die opheffing van die gemeenskap, nie om reklamewaarde nie. Prof. Muller se waarskuwing het waarde in die opvoedings-verantwoordbaarheid van stof, ongeag hoe vermaaklik dit aangebied word. In ’n land waar die oorgrote meerderheid van die bevolking nie toegang tot televisiestelle het nie, moet die toepaslikheid van hierdie medium, soos deur Power Matric aangewend, bevraag-teken word.

Maar hierdie besware ten spyt, verdien al die publikasies lof vir hul eerlike pogings om die ongeletterdheidsprobleem hok te slaan. Aan toewyding en entoesiasme ontbreek dit nie by die mense wat daarby betrokke is nie. Dikwels werk hulle onder moeilike omstandighede en ontvang min erkenning. Tog behoort publikasies wat nog nie by sulke projekte betrokke is nie, skouer aan die wiel te sit.

Die enigste manier waarop Suid-Afrika se hoë ongeletterdheidsyfer aangespreek kan word, is deur die wydste moontlike betrokkenheid. Die pers moet nie van sy verantwoordelikheid in hierdie verband wegskram nie.


previous page

[ Tuisblad ] [ Publikasies ] [ Inhoud / Index ] [ Publications ] [ Home Page ]

next page