2008 voorgraadse programme en modules

Voorgraadse sosiologie modules word in 'n graadprogram-konteks geneem: elke program is voorskriftelik oor watter modules vir 'n spesifieke program geneem kan word. Vir meer inligting oor hoe programme gestruktureer word en watter module-opsies vir elke program beskikbaar is, sien die webwerf vir voornemende studente. Informele beskrywings van die voorgraadse modules van die departement sosiologie word vervolgens gegee. Vir meer tegniese inligting oor aspekte soos vakkodes en kredietwaardes vir spesifieke modules, sien die jaarboek van die Fakulteit Lettere.


114 - Inleiding tot sosiologie
In hierdie module word 'n inleiding tot sosiologie as vakgebied verskaf. Studente word aan die sosiologiese perspektief blootgestel wat poog om met nuwe oë te kyk en anders te dink oor aspekte van die samelewing wat as voor-die-hand liggend voorkom. Wat inhoude betref, word ondersoek ingestel na die spesifieke kenmerke van menslike sosiale patrone met 'n klem op kultuur, samelewing en sosiale interaksie. Ander kerntemas wat in die module gedek word sluit in sosialisering, sosiale stratifikasie, gender en demografie. Ons studente kom van uiteenlopende studie-rigtings wat wissel van die sosiale wetenskappe, sportwetenskap tot die gesondheidswetenskappe. In die lig hiervan doen ons dosente moeite om interdissiplinêre insigte na die lesinglokaal te bring. Behalwe die teoretiese fokus van die module, geniet vaardigheidsontwikkeling ook prioriteit in hierdie module, naamlik die ontwikkeling van akademiese skryfvaardighede en die vaslegging van studie-metodes.

142 - Sosiale instellings
Het jy geweet dat mans in Suid-Afrika wetlik toegelaat word om meer as een vrou te trou? En dat die oorgrote meerderheid gesinne in Suid-Afrika nie uit twee ouers en hul kinders bestaan nie? Dink jy dat Suid-Afrika se openbare onderwysstelsel so aan't agteruitgaan is dat jy eendag jou kinders na 'n private skool sal moet stuur om hulle hoegenaamd 'n kans in die lewe te bied? Lyk dit ook vir jou of die kerkbanke al hoe leër word, en het jy jouself al afgevra waarom dit die geval is? Kwessies soos dié word bespreek in die eerstejaarsmodule, Sosiologie 142, wat drie sosiale instellings, nl. die gesin, onderwys en godsdiens, van alle kante bestudeer. Hulle word bespreek in terme van die voordele wat hulle vir die samelewing inhou (bv. godsdiens verseker dat mense die "reëls", oftewel norms en waardes, van hul samelewing nakom), maar ook in terme van die nadelige uitwerkings wat hulle op bepaalde groepe in 'n samelwing kan hê (bv. feministe se argument dat die huwelik nadelig vir vroue is, omdat dit hul ondergeskikte status in die samelewing in stand hou).

Sosiale instellings is nie staties nie, maar verander voortdurend. Dus is dit ook die doel van Sosiologie 142 om aan studente insig te bied oor tendense in hierdie instellings, soos die toename in gesinne met slegs 'n vrou as enkelouer, die toenemende gebruik van informasietegnologie in skole, of die verhoogde belangstelling in "alternatiewe godsdienste", om slegs 'n paar te noem. Die fokus in die module as 'n geheel val op die uitdagings wat hierdie veranderinge aan samelewings soos Suid-Afrika - en by implikasie sosioloë - stel.

152 - Sosiale verandering
Die basiese sosiologiese aanname is dat mense gevorm word deur die samelewing en sosiale omstandighede. In die meeste gevalle is ons nie bewus van hierdie eksterne invloede van die samelewing op ons eie lewens nie. Oor die algemeen fokus die meeste sosiologie kursusse op sosiale verandering in die algemeen. In hierdie module word die begrip en proses van sosiale verandering op sigself in diepte bestudeer en toegepas binne geselekteerde temas. Die fokus van die module is dan op die impak van sosiale verandering op die breër samelewingsvlak ('n makro-fokus), met klem op die impak van globale veranderings op die Suid-Afrikaanse samelewing. Nadat die groter prentjie onder bespreking was, word daar verder gefokus op die impak en betekenis van sulke veranderinge op die vlak van daaglikse sosiale interaksie ('n mikro-fokus). Hierdie proses maak dit moontlik om die basiese sosiologiese aanname waarna hierbo verwys word, duidelik en sistematies te illustreer.

Die module stel studente eerstens bekend aan 'n teoretiese raamwerk vir die meting en bestudering van sosiale verandering. Die rol van innovasies, konflik, kapitalisme en die aksies van leiers as 'agente van sosiale verandering' word ondersoek. In hierdie konteks is die eerste tema wat bespreek word die impak van die Internet as die belangrikste enkele agent van sosiale verandering op globale vlak in vandag se Inligtingstydperk, wat ook 'n meganisme van verandering op sigself geword het. Op 'n mikro-vlak word kwessies soos sosiale isolasie, die totstandkoming van virtuele gemeenskappe, en 'images of body, mind and self' as 'n gevolg van Internet gemediëerde kommunikasie bespreek. Studente kry die geleentheid om aan 'n virtuele gemeenskap deel te neem as toepassingsgedeelte van hierdie afdeling van die module. Die tweede besprekingstema handel rondom die verstaan van hoe MIV/VIGS die sosiale landskap op die globale-, nasionale- en sosiale interaksie vlakke verander het. Op mikro-vlak word spesifieke klem geplaas op gender- (insluitende 'n fokus op manlikheidstudies) en jeugkwessies wat onstaan het as 'n gevolg van die globale MIV/VIGS debat. Hierdie module is akademies uitdagend en vereis 'n hoë vlak van selfwerksaamheid. Heelwat geleenthede word in hierdie module gebied vir deelname en selfeksplorasie.

162 - Sosiaal-antropologiese perspektiewe op samelewing en kultuur
Hierdie inleidende kursus stel die antropologie as vakgebied bekend. Die vrae wat aandag geniet, is onder andere: wat behels die vakgebied? hoe doen die antropoloog navorsing in die veld? en: wat is die doel van antropologiese werk? Sentrale begrippe in die vakgebied, soos kultuur, etnosentrisme, rassisme, ens. kom ook aan die orde. Verder bied hierdie kursus inleidende en vergelykende perspektiewe op verwantskap, politiek, ekonomie, rituele en geloof. Die teoretiese materiaal in hierdie kursus word, waar moontlik, met voorbeelde uit verskillende kontekste (plattelands en stedelik, buitelands en binnelands) toegelig.


212 - Armoede en ontwikkeling
Jaarboek beskrywing: Die oorsprong en betekenis van 'ontwikkeling'; Die oorsake van armoede en onderontwikkeling; makro-strategieë vir ontwikkeling; ontwikkelingsinisiatiewe in Suid-Afrika vandag.

222 - Misdaad, afwyking en sosiale beheer
Jaarboek beskrywing: Misdaad en afwyking as sosiale konstruksies. Sosiologiese interpretasies, bv. misdaad in Suid-Afrika, interpersoonlike geweld, verslawing. Sosiale beheer van misdaad en afwyking. Reaksies van oortreders. Slagoffers van afwyking en/of misdaad.

242 - Sosiologie van kommunikasie
Jaarboek beskrywing: Teoretiese perspektiewe op kommunikasie. Die massamedia in 'n veranderde globale kultuur. Interpersoonlike kommunikasie. Hantering van geselekteerde kommunikasieprobleme soos kulturele diversiteit, taal en mag, televisie en geweld, beheer oor die media, kommunikasie en ontwikkeling.

252 - Bedryfsosiologie
Jaarboek beskrywing: Die kursus stel studente bekend aan sentrale konsepte, temas en debatte binne die veld van bedryfsosiologie toegepas op Suid-Afrika. Die ontwikkeling van bedryfsosiologie en omskrywing van werk. Sosiologiese perspektiewe op werk en industrie. Bestuurskontrole, arbeidsprosesse en organisasie van produksie. Nywerheidskonflik, vakbonde en meganismes vir beslegting van konflik. Werkerdeelname en demokratisering van die werkplek. Werkorganisasies: perspektiewe en temas. Geselekteerde vraagstukke bv. 'gender' en die werkplek.

262 - Sosiaal-antropologiese perspektiewe op Suid-Afrika
Die fokus in hierdie module is op die antropologie van die 'ander' met verwysing na klassieke Suider-Afrikaanse monografieë en strukturalistiese benaderings. 'n Ander fokuspunt is die dekonstruksie van die 'ander' met 'n fokus op die polities-ekonomiese benaderings in Suider-Afrika. 'n Derde fokus sluit die hantering van diversiteit in met spesifieke klem op die postmoderne wending in Suider-Afrikaanse studies.



Studente op derdejaarvlak maak 'n keuse tussen Sosiologie en Sosiale Antropologie as hoofvak. Sien die jaarboekinskrywings in hierdie verband.

SOSIOLOGIE DERDEJAAR MODULES

314 - Sosiologiese teorie
Jaarboek beskrywing: Sosiale kontekste van denke; historiese ontwikkeling van sosiologiese denke; geselekteerde teoretiese perspektiewe soos funksionalisme, kritiese sosiologie, Marxisme, simboliese interaksionisme, feminisme, post-modernisme.

324 - Politieke sosiologie
Jaarboek beskrywing: Basiese begrippe in die politieke sosiologie soos burgerlike samelewing en die staat, soewereiniteit en burgerskap, nasie en etniese groep, kulturele diversiteit; die globale konteks van politieke gebeure; transisie van die Suid-Afrikaanse samelewing; die nuwe Suid-Afrikaanse Grondwet.

344 - Sosiologie van ekonomiese innovasie
Hierdie kursus fokus op 'n uiters belangrike uitdaging van die Suid-Afrikaanse ekonomie, nl. die behoefte aan meer en voortdurende innovasie. Laasgenoemde is 'n kernvereiste van alle besighede- hetsy in die landbou of die vervaardigingssektor- wat in vandag se internationale markte wil meeding. Studente word bekendgestel aan verskeie sosiologiese teorieë van innovasie, soos bv. Regulerings- en Sosiale Netwerk teorie. Binne hierdie teoretiese kontekste word sleutel konsepte soos Globale Kommoditeitskettings, Industriële Opgradering, post-Fordisme en Industriële Trosse behandel. Hierdie teoretiese en konseptuele gereedskap word toegepas op 'n geselekteerde bedryf van die Suid-Afrikaanse ekonomie om vir studente 'n tasbare idee te gee van die uitdagings wat daardie spesifieke bedryf in die gesig staar en wat gedoen moet word om dit te bemeester.

354 - Gemeenskapsontwikkeling (diensleermodule)
Teoretiese perspektiewe op gemeenskapsontwikkeling; die struktuur en werking van gemeenskappe; gemeenskapsdeelname en -bemagtiging; rolspelers in die proses van gemeenskapsontwikkeling (gemeenskappe, die staat en nie-regeringsorganisasies); opleiding in gemeenskapsontwikkeling; bestuur en evaluasie van ontwikkelingsprojekte. Studente doen 30 uur diensleer (praktika) oor 'n tydperk van 6 weke.

364 - Sosiale navorsing
Hierdie module verskaf 'n inleiding tot hoe om sosiale navorsing te doen. Die kennis wat studente deur middel van hierdie module sal verwerf, behoort hulle in staat te stel om openbare inligting beter te kan beoordeel, sowel as om self hoë kwaliteit inligting te versamel en te ontleed. Hierdie vaardighede sal ook van waarde in die praktyk wees.

SOSIALE ANTROPOLOGIE DERDEJAAR MODULES

314 - Teorie en debatte in sosiale antropologie
Historiese oorsig van die belangrikste teoretiese benaderings in Sosiale Antropologie sedert die 19e eeu. Sleuteldebatte in die vakgebied.

324 - Kultuur, mag en identiteit
Nasiebou en etnisiteit. Assimilasie, pluralisme, multikulturalisme in vergelykende perspektief. Globale ongelykhede en menseregte. Verskil en diversiteit in die burgerlike samelewing.

344 - Teorie en debatte in sosiale antropologie
Analise van geselekteerde etnografiese werk (Suid-Afrikaans en elders) aanduidend van die verskeidenheid benaderings tot die skryf van etnografie. Veldwerk en deelnemende waarneming as gevestigde tradisies. 'n Kleinskalige veldwerk- en skryfprojek.

354 - Die antropologie van ontwikkeling
Die kritiese dekonstruksie van ontwikkeling as diskoersen intervensie, met aandag aan onbedoelde gevolge en magsverhoudings.


334 - Metodologie van sosiaal wetenskaplike navorsing
As metawetenskap behels hierdie module 'n refleksie oor die aard en verloop van navorsing in die sosiale wetenskappe oor die algemeen, ten einde as grondslag vir vakspesifieke toepassings dien. Die doel van die module is dus om studente in te lei en 'n oorsig te gee van epistemologiese en metodologiese debatte rondom die sosiale wetenskappe. Die fokus is op sleutelbegrippe in sosiaalwetenskaplike navorsing soos waarheid, objektiwtiet, geldigheid, deduksie, induksie, teorie, hipotese, ens. Die oogmerk is ook om aan studente 'n samehangende konseptuele raamwerk te gee waarbinne hul sin kan maak van die sleutel metodologiese onderskeidinge ten einde 'n beter begrip van sosiaalwetenskaplike navorsing te verkry.

364 - Inleiding tot wetenskap en tegnologiestudies
Hierdie metawetenskap is daarop gemik om studente te voorsien van 'n inleiding tot die interdissiplinêre terrein van wetenskap- en tegnologiestudies. Studente word bekendgestel aan die werk van invloedryke denkers in die veld, soos Merton, Kuhn, Bloor, Latour en Knorr-Cetina. In die bestek van die wetenskaplike kennissosiologie word spesifiek aandag bestee aan die sosiale konstruksie van wetenskaplike werklikhede, die sosiale bestudering van wetenskaplike kontroverse, en die openbare verstaan van die wetenskap. 'n Fokus op Suid-Afrikaanse navorsingsbevindinge en gevallestudies word deurgaans in die module gehandhaaf.