previous page

Inhoud -SJI 1996- Index

next page


lugverkeer

Is die nuwe SABC werklik so nasionaal?

deur Lizl van Drimmelen

In sommige lande is daar 'n verskeidenheid uitsaaiers en het dié kompetisie 'n positiewe uitwerking. Suid-Afrika het net een nasionale openbare uitsaaier, die nuwe SABC. Vervul die South African Broadcasting Corporation sy rol suksesvol?

Volgens die Groenskrif van die SABC word sekere kenmerke aan ’n nasionale openbare uitsaaier toegeskryf. Só ’n uitsaaier fasiliteer en ondersteun openbare prosesse in ’n poging om dit meer toeganklik as ánder uitsaaiers te maak. Hierdie kenmerke sluit in: universele beskikbaarheid deur oop uitsendings, met die versekering van toegang tot dié diens aan die hele publiek; voorsiening vir alle belange en smake, minderhede ingesluit; openbare eienaarskap en die verbinding tot ’n nasionale identiteit, met die fokus op plaaslike waardes en belange in programme; die verpligting tot plaaslike produkte, deur ’n gewaarborgde persentasie plaaslik vervaardigde programme op die skedule; die beskerming van die nuus- en programinhoud teen inmenging van gevestigde belange, insluitende die regering; die fokus op programinhoud eerder as op luisteraarsgetalle en, laastens, ’n betroubare sisteem van befondsing.

Die Europese Uitsaai Unie onderskryf ook dié benadering. Volgens die EUU kan slegs só ’n uitsaaier programmatuur vir almal verseker. Dit behels programme wat nie net die algemene publiek nie, maar ook minderhede, inlig, vermaak en verryk.

Sportdekking

"Die SABC het onttrek aan die onderhandelinge met News Corporation of London vir die aankoop van die TV uitsaairegte vir die internasionale rugbytoere in Suid-Afrika," lui ’n persverklaring van die SABC vroeër vanjaar. Die verkoop van Suid-Afrikaanse Rugbyregte aan ’n buitelandse koper, het dekking van plaaslike toetsrugby buite die bereik van gewone Suid-Afrikaanse televisiekykers geplaas.

Die SABC het in dié persverklaring sy spyt uitgespreek omdat hy sy mandaat as nasionale uitsaaier in dié opsig nie kan uitvoer nie. Dié mandaat is vervat in die Groenskrif onder die afdeling ‘Onbeperkte openbare toeganklikheid tot belangrike gebeure.’ Dit sluit in die regstreekse uitsending van belangrike nuus- en sportgebeure. Ook die regte op die 69 wedstryde in die Super Twaalf-reeks en die Currie Beker wedstryde vir die volgende vyf jaar is deur die betaalkanaal, M-Net, gekoop. Slegs die kykers wat ingeteken is op MultiChoice se satellietkanale, kan deel in dié rugby. Dit skep ’n probleem in die visie van bevolkingsontwikkeling deur sport.

Volgens mnr. Gerrie de Villiers, uitvoerende hoof van M-Net, bevoordeel dié betaalkanaal se uitsaaivoorwaardes die SABC, omdat die SABC voorkeur móét kry vir die uitsaairegte van sport. In Die Burger sê hy verder dat M-Net bereid is om te onderhandel oor die eksklusiewe uitsaairegte van sport op die Supersport kanaal, maar hulle is nie regtens verplig nie. In Engeland is wetgewing onlangs aanvaar wat verseker dat groot nasionale sportgebeure vir almal beskikbaar moet wees. Dit was nadat dieselfde situasie tussen die BBC en BSkyB ontstaan het. Dit wil voorkom asof al oplossing vir diegene wat nie toegang tot betaalkanale het nie, geregtelike beskerming is.

Beskikbaarheid van kanale

Nog ’n punt wat teen die toeganklikheid van die SABC tel, is die onbeskikbaarheid van sommige televisiekanale. Groot gedeeltes van KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Noord-Kaap kan glad nie SABC 2 en/of SABC 3 opvang nie. SABC 1 en SABC 2 is in ’n paar gebiede beskikbaar deur die dag en om ses uur elke aand word die SABC 3 uitsendings op die kanaal van SABC 2 uitgesaai. Dit is volgens Deedee Lowe van die SABC se Kliëntebetrekkinge, die gevolg van ’n tekort aan beskikbare frekwensies in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Sy sê die meeste mense daar is Engels en verkies kanaal 3 bo 2 in spitstyd.

’n Groot aantal Afrikaanssprekendes, bykans ’n miljoen in die Noord-Kaap, ontvang geen uitsendings in hul moedertaal nie. Heelwat kykers in plattelandse gebiede, ver van die groot dorpe, het glad nie toegang tot enige kanaal nie. Dit is weer strydig met die Groenskrif, wat bepaal dat die nasionale openbare uitsaaier "tegnies toeganklik vir die hele bevolking moet wees."

Taal

In 1994 het die SAUK weekliks 686 minute in onderskeidelik Xhosa en Zoeloe uitgesaai. Dié tale kry teoreties oor die nuwe kanale 619 minute elk per week. Afrikaanse uitsaaityd is van 2 808 minute tot 724 verminder, teenoor bykans die verdubbeling van die Engelse uitsaaityd van 6 754 minute tot 11 051 minute, kanaal 3 uitgesluit.

"Mwasa (Mediawerkersassosiasie van Suid-Afrika) bevraagteken ’n tweedetaalvoorkeur, as dit moontlik is om vir mense hul eie taal te gee," berig die Sowetan vroeg vanjaar. Dit is reeds bekend dat die SABC statistiek gebruik het wat aandui dat Engels deur die meerderheid Suid-Afrikaners as tweede taal verstaan word. Die geloofwaardigheid hiervan word deur verskeie mense in twyfel getrek.

Prof Johan Combrink, voorsitter van die Afrikaanse Taalkommissie, sê: "...hier is werklik woes omgegaan met statistiek... "Volgens hom is daar streng demografies en persentiel tyd aan al die verskillende tale, behalwe Engels, toegeken. Maar, as daar byvoorbeeld nie ’n program in ’n spesifieke taal se tydgleuf beskikbaar is nie, word Engels die vullertaal. Op die oomblik word al die Suid-Afrikaanse tale, behalwe Engels, in hul toegekende tyd afgeskeep. Die Taakgroep vir die Bemagtiging van Afrikaansgebruikers op Televisie (Tabema), is teen hegemonie van enige taal. Hulle het ’n voorstel vir sendersplitsing ingedien by die hoof van SABC-televisie, Jill Chisholm. Dit maak die gelyktydige uitsending van drie of vier tale na verskillende gebiede van die land moontlik. "Die waardes, norme, taal, tradisies en kultuur van die land en sy mense moet deurlopend gereflekteer word en die besondere behoeftes van die samelewing speel daarom ’n baie belangrike rol in die skedules." Die Groenskrif sê ook ’n nasionale openbare uitsaaier moet: "...sensitief wees in die hantering en bediening van spesifieke minderheids- of belangegroepe se kulturele behoeftes soos taal en godsdiens..." In ’n persverklaring kort ná die lansering van die nuwe kanale, definieer die SABC sy taalbeleid. Dit sê die taalbeleid vir die drie kanale is gebaseer op ‘gelykheid in die praktiese werklikheid van die uitsaai omgewing, proporsionaliteit, kulturele behoeftes en waardes, toeganklikheid en keuseverskaffing, en laastens, bekostigbaarheid.’

Ten slotte

Edmund Burke sê: "It is a general popular error to imagine the loudest complainers for the public to be the most anxious for its welfare." Die SABC roem op die groot getal van die bevolking wat bereik word. Daarom is dit van kardinale belang dat die SABC in voeling moet bly met dié kliënte. Prof. Pieter Fourie, hoof van Unisa se Departement Kommunikasie, skryf tereg in ’n onlangse uitgawe van Insig: "...dat die koers waarteen ons ‘openbare uitsaaier’, die SAUK, nou besig is om kykers te verloor, hy in terme van syfers binnekort dalk glad nie meer sal kan aanspraak maak op sy status as ‘openbare uitsaaier’ nie."


previous page

[ Tuisblad ] [ Publikasies ] [ Inhoud / Index ] [ Publications ] [ Home Page ]

next page