previous page

Inhoud -SJI 1996- Index

next page


lugverkeer

Radio vir Afrika

deur Jan Hofmeyr
radio's vir afrika (4K)

Nuwe tegnologieë in radio uitsaaiwese het deure oopgemaak vir internasionale uitsaaiers na 'n onderontginde Afrika mark. Dit bied aan Afrikane die geleentheid om hulself los te wikkel uit die beperkinge wat isolasie op hulle plaas.

In die onlangse verlede is radio as uitsaaimedium aangewend om samelewings in Afrika te manipuleer, eerder as om by te dra tot die kontinent se ontwikkeling. As die belangrikste bron van inligting vir die meeste Afrikane, is radiostasies ongelukkig deur opportunistiese individue vir outoritêre doeleindes uitgebuit. Uitbreidings deur internasionale radiostasies in Afrika, beloof egter om ’n hoofstuk af te sluit, waarin die meeste van die kontinent se probleme toegeskryf kon word aan die feit dat sy inwoners nie toegang gehad het tot lewensbelangrike kennis en inligting nie.

As gevolg van die demokratiseringsgolf wat in die vroeë negentigs oor Afrika gespoel het, het al hoe meer staatsuitsaaiers hul radiostasies en frekwensies gedereguleer. Hierdie tendens het die geleentheid gebied vir internasionale uitsaaiers om hulle dienste uit te brei na die groot, onderontginde Afrika-mark. Die twee grootste internasionale uitsaaiers, Voice of America (VOA), en die British Broadcasting Corporation (BBC) , wat onderskeidelik in ses en sewe tale na Afrika uitsaai, het hul aktiwiteite in die laaste vyf jaar merkbaar uitgebrei. Die SABC se internasionale sender, Channel Africa, het intussen ook tot die stryd toegetree. Alhoewel finansiële probleme die stasie se voortbestaan tot onlangs in die weegskaal geplaas het, is hierdie probleem uitgestryk toe die Departement van Buitelandse Sake ingestem het om voort te gaan om Channel Africa te finansier. Sedert 1994 het die sender sy dienste uitgebrei van hoofsaaklik Suidelike Afrika na die hele kontinent. Vanaf September verlede jaar is die diens ook via satelliet uitgebrei na Noord-Amerika. Volgens me Noeleen Vorster, Korporatiewe Publisiteits-bestuurder van Channel Africa, mik die stasie daarna om die invloedrykste stasie in Afrika te word.

Die invloed en effektiwiteit van bogenoemde stasies, en andere wat na Afrika uitsaai, sal grootliks afhang van die kwaliteit van hul ontvangs, spesifiek in afgeleë gebiede. In hierdie veld het nuwe tegnologieë internasionale uitsaaiers se taak vergemaklik.

’n Opvallende kenmerk van die nouveau stormloop vir Afrika, is dat internasionale uitsaaiers hul klem verskuif het van kortgolf na FM uitsendings. Die eerste stasie om dit te doen was Radio France International van Frankryk. Deur middel van huurooreenkomste met nasionale uitsaaiers, het dit daarin geslaag om sedert 1991 twintig FM stasies op die been te bring. Alhoewel die meeste van die BBC se luisteraars suid van die Sahara steeds hulle uitsendings op kortgolf ontvang, het dit begin met ’n doelgerigte program om FM-uitsendings na die groot stede uit te brei. VOA het ook hierdie koers ingeslaan deur middel van heruitsaai ooreenkomste met agt Afrika state, insluitend Suid-Afrika.

Digitale Oudio Uitsending (DOU), die tegnologies gevorderdste manier waarop radio-uitsendings moontlik gemaak kan word, is nog nie ’n lewensvatbare opsie vir Afrikaluisteraars nie. Anders as die meeste eerstewêreld lande waar baie mense satellietskottels en subskripsiegeld kan bekostig, - wat ’n vereiste is vir DOU - kan die meeste Afrikane nie eers radio’s bekostig nie. Volgens die Commonwealth Broadcasting Association se nuusbrief, Combroad News van Maart 1996, sal dit ten minste nog tien jaar neem voordat DOU ’n bekostigbare alternatief in Afrika word. Multichoice, die Suid-Afrikaanse betaalkanaaloperateur, saai wel die BBC se wêrelddiens op hierdie wyse uit, maar teen ’n prys wat net ’n klein groepie mense beskore is.

Die uitdaging wat gestel word, is om inligting so goedkoop en bekostigbaar moontlik te maak - spesifiek vir die afgesonderde landelike gebiede. Iemand wat nie hiervoor teruggedeins het nie, was die Britse entrepreneur, Trevor Bayliss. ‘n Dokumentêre program oor die onkunde omtrent Vigs in Afrika, het hom geïnspireer om iets uit te vind wat sou kon bydra tot die verspreiding van inligting oor dié dodelike siekte.

Bayliss het gevolglik die wêreld se eerste opwenbare radio ontwikkel. Dié radio wat geen batterye benodig nie, word met die hand opgewen en verskaf genoeg krag vir ’n standaard drie-band radio. Nadat dit vir twintig sekondes opgewen is, verskaf die radio dertig minute se speeltyd. Die Freeplay, soos dit bekend staan, is ontwerp om ongeveer dertigduisend maal opgewen te word en sal na raming altesaam vyfduisend uur se speeltyd lewer. Die afwesigheid van batterye, die verkoopsprys van R250, en sy ruwe konstruksie, maak die Freeplay ideaal vir gebruikers in die derdewêreld. The Times van Londen het Bayliss se uitvindsel aangeslaan as: "probably doing more to bring information, education and social progress to dark areas of the developing world than any other device for a generation."

Produksie van die radio is vanaf die begin van die jaar in volle swang by ’n fabriek in Kaapstad, wat poog om soveel as moontlik gestremdes in diens te neem. Volgens BayGen Power Company, die vervaardiger van die Freeplay, is daar ’n mark vir tien miljoen eenhede in Afrika alleen.

Alhoewel Afrika ver agter is in die veld van moderne kommunikasie, byvoorbeeld die gebruik van die Internet en satelliet kommunikasie, bied die nuwe ontwikkelinge in radio-uitsaaiwese die vooruitsig van meer blootstelling aan die res van die wêreld. Dit kan weer impetus gee aan versnelde ekonomiese groei. Die BBC en VOA bied reeds programme aan wat leiding gee in onderwys en die totstandbringing van klein besighede. Die uitdaging wat nou aan Afrika regerings gestel word, is om hierdie tegnologie tot voordeel van hulle inwoners te gebruik.


previous page

[ Tuisblad ] [ Publikasies ] [ Inhoud / Index ] [ Publications ] [ Home Page ]

next page