previous page

Inhoud -SJI 1998- Index

next page


Waarnemer of deelnemer:watter joernalis wil jy wees?

deur Diana van Niekerk

Objektief en onbetrokke. Dis hoe joernaliste moet wees. Goeie joernaliste stel altyd die joerna-listieke godsdiens bo persoonlike belange. Die joernalistiek is die vierde pilaar naas die uit-voerende, wetgewende en administratiewe magte.

Of is dit?

"Die pers is nie meer die vierde pilaar in 'n land nie, maar die derde party in enige konfliksituasie." Die meeste joernaliste sal waarskynlik swaar aan hierdie stelling van Jannie Botes sluk. Botes is 'n ervare TV-joernalis wat in die tagtigerjare ingeperk gevoel het by die SAUK onder die apartheidsregering se beperkings op vryheid van spraak. In 1988 het hy sy heil gaan soek in die VSA, waar hy tans dosent aan die George Mason Universiteit in Virginia is.

Konflik definieer hy kortweg as twee partye wat mekaar se doelstellings frustreer. Terselfdertyd is konflik nuus en word dit al hoe belangriker vir die media. Om die storie eerste te kry, het belangriker geword as om die storie reg te kry, sê Botes.

Wat is die rol van die joernalis dan?

"Ons is net die verslaggewers van konflik," sê joernaliste dikwels. Hiervolgens is dit nie hulle taak om enigiemand se saak te bevorder of af te kraak nie, maar om akkuraat en duidelik te beskryf wat gebeur.

Maar joernaliste doen meer as verslag, sê Botes. In die proses analiseer hulle konflik en stel dikwels alternatiewe en moontlike uiteindes voor. Só vestig of vernietig hulle verhoudings tussen verskillende partye. Die media is dus veel meer as net 'n kommunikasiekanaal.

Botes sê joernaliste is - hoe onbewustelik ook al - gewoonlik bemiddelaars vir vryheid en regverdigheid wat aan die stemlose 'n stem gee. So het die internasionale media byvoorbeeld gehelp om die apartheidsmuur om te stoot deur vir die ANC 'n plek op die wêreld-agenda te gee.

Toe die ervare Amerikaanse televisie-aanbieder Ted Koppel in 1985 'n Nightline-program in Suid-Afrika kom opneem het, wou hy bloot die komplekse apartheidskonflik aan Amerikaners probeer verduidelik. Maar volgens Botes het Nightline gehelp om die aard van die konflik te omvorm, want die program is ook regstreeks in Suid-Afrika uitesaai.

Vir die eerste keer het baie wit Suid-Afrikaners iets van die "ander kant"van apartheid gehoor in die debat tussen minister Pik Botha en biskop Desmond Tutu.

Al ontken Koppel dit ten sterkste glo Botes vas hy was 'n soort bemiddelaar. Dit was die eerste keer dat 'n lid van die apartheidsregering en 'n verteenwoordigervan die onderdrukte massa op gelyke voet gedebatteer het. Daarom was dit 'n voorloper van 'n soort publieke debat wat deel sou vorm van die oplossingsproses in Suid-Afrika.

Hoe lyk die joernalis van die nuwe millennium?

Millenniumjoernaliste het nuwe rolle om te vervul. Vir party is die soek van oplossings 'n ongemaklike en selfs onetiese idee, sê Botes. Ander is heeltemal op hulle gemak hiermee. Botes steun die standpunt dat die joernalistieke vraelys uit meer as net die alomteenwoordige wie, wat, waar, wanneer, waarom en hoe (vyf "w's"en die "h") moet bestaan. Dit moet ook 'n "o"en 'n "g"insluit: "oplossings"en "gemene grond".


previous page

[ Tuisblad ] [ Publikasies ] [ Inhoud / Index ] [ Publications ] [ Home Page ]

next page