previous page

Inhoud -SJI 1998- Index

next page


Ink van verandering

"Wie gaan hom opvolg? 'n Ou van 40 of 50?" Dis elfuur op 'n Sondagoggend en prof. Willie Esterhuyse preek verandering.

"Ek het niks téén bo-50's nie," sy silwergrys hare blink in die son en ek knik. "Ouderdom bepaal tog nie jonkheid van gees nie - maar dit 's 'n indikasie daarvan. Ons praat oor Die Burger se volgende redakteur; ook oor Rapport, wat iemand nuut moes kry; oor ou gryskop omies en akademici en waar dit die media gebring het - veral Afrikaanse koerante.

Hy keer telkens terug na een kernwaarneming: die veranderinge in die pers sedert 1994.

"Waar hulle voorheen baie 'pro-' was, het die meeste Afrikaanse koerante nou 'n sterk anti-regeringsgevoel. In die Engelse media is daar weer 'n sterker poging om 'n markgedrewe, liberaal-demokratiese bestel in die land aan die gang te kry."

Volgens hom is daar tog koerante wat probeer om die veranderinge in die land vir hul lesers te interpreteer. Onder die laaste groep tel Beeld, Sowetan, The Sunday Independent en in 'n mate The Star.

"Afrikaanse media het bygedra tot die Afrikaner se politieke depressie - moedelose pessimisme. Boonop kon hulle ook nie hul jongmense 'n visie gee nie," sê Esterhuyse oor Rapport se openlike anti-ANC beleid en Die Burger se skerp redaksionele kritiek op die regering en die Waarheids-en Versoeningskommissie. Wat nuus betref, vergelyk Die Burger egter goed met nasionale standaarde.

Esterhuyse sê media-eienaarskap moet 'n sterk demokratiese basis hê. "Naspers se Welkom-skema ('n skema waarin lesers uit tradisioneel ontneemde gebiede die geleentheid kry om aandele in die maatskappy te bekom) is heeltemal te duur. As daar 'n groter sosiale investeringsdividend was, sou ek dit ernstig opneem." Hy beklemtoon die belang van swart bemagtiging binne die pers, byvoorbeeld deur beurse. Suid-Afrika is 'n uitsondering, omdat ons oorgang na 'n demokrasie nie deur nasionalisering, konfiskering of plundertogte gekenmerk is nie.

"Die pers eis kitsoplossings. Gebeur dit nié, is die reaksie negatief. Die media dink korttermyn - gister, vandag en môre. Intussen duur al die prosesse in die land ses jaar of langer," sê Esterhuyse. "Dis hoe ons transformasie moet sien. Alle groot veranderings duur tussen 12 en 15 jaar, en Suid-Afrikaners sal eers nader aan 2006 uitvind of ons op Sunter se "high road" of "low road" is."

"'n Magsoordrag verg spierkrag van die rolspelers. In enige burgerlike gemeenskap word die duik wat jy maak in beleidsvorming bepaal deur wie jy is, hoe jy jou organiseer en hoeveel mense jou steun." Om dié rede is die SABC se kanse goed om maar net weer die regering se skoothondjie te word. Solank die Onafhanklike Uitsaai Owerheid nie spiere wys of kredietwaardig is nie, is Esterhuyse 70 persent seker die SABC gaan dieselfde kef as in die vorige bedeling.

Gelukkig geld dit net vir die "regeringsuitsaaier" en nie die breë Suid-Afrikaanse media nie. Ten spyte van die ANC se reaksie op media-kritiek glo Esterhuyse hulle is maar net liggeraak - en wie is nie? "Selfsensuur onder Afrikaanse koerante - dít is wat my bekommer: pleks daarvan om jong bloed in te bring, stel Rapport 'n -óú meneer aan. En noudat Ebbe Dommisse aftree, wie gaan by hóm oorneem? Is daar geen jong joernaliste wat ons land op redaksionele vlak kan lei nie? Ek treiter Naspers. Ek is nie gewild by hulle nie. Maar ek wonder hoeveel mans sit in die topstruktuur, en wat is hulle ouderdom?"


previous page

[ Tuisblad ] [ Publikasies ] [ Inhoud / Index ] [ Publications ] [ Home Page ]

next page