previous page

Inhoud -SJI 1998- Index

next page


Vreemder as fiksie

deur Willemien Brummer

En die Suid-Afrikaners?

Is daar in ons eie land joernaliste wat, soos Tom Wolfe, hartstogtelik daarin glo om die omgekeerde piramide op sy kop te keer? Kortom, is daar enige werklike Nuwe Joernaliste in ons wye droewe land?

Willemien Brümmer se soektog was op sigself stof vir 'n speurverhaal, want anders as wat sy verwag het, was daar bitter min joernaliste wat selfs geweet het wat die term beteken. Maar anders as in 'n regte speurverhaal wil sy haar gevolgtrekking reeds aan die begin duidelik stel: Daar is geen joernaliste in Suid Afrika wat in die styl van die Nuwe Joernalistiek skryf nie.

Die logiese vraag hierop is natuurlik: waarom nie?

Volgens 'n gewese joernalis by die tydskrif SL, Dror Eyal (sy naam beteken glo vryheid), is die antwoord op die vraag eenvoudig. "In this country, if you write in any way which is funky, different or challenging they immediately relegate you, as a journalist, into the kiddie pile ... fit only for youth magazines which are run by and for a young audience. Also, as a new journalist, serious assignments never come your way. You tend to get dismissed by a lot of people as someone trying to do something different ... god forbid that anyone should try and do something different."

'n Bekende literator aan die Universiteit van Stellenbosch, dr. Louise Viljoen, het 'n effe meer gekompliseerde standpunt as Eyal. "Die leserspubliek in Suid-Afrika is klein en konserwatief," sê sy. "Mense hou nie daarvan dat daar geneuk word met hulle waarheid nie. Eintlik is die waarheid maar net een groot geneukery ..."

Viljoen onderskei egter tussen harde en sagte weergawes van Nuwe Joernalistiek. "Waar die 'ek' prominent is, en die skrywer se subjektiewe ge-voelens vooropgestel word, dáárvan is daar baie voorbeelde in tydskrifjoernalistiek in Suid Afrika. Maar dit is 'n sagte weergawe van Nuwe Joernalistiek."

"Regte Nuwe Joernalistiek", sê sy, "is meer uitdagend." Vir haar konfronteer die Nuwe Joernalistiek die leser met sy eie probleem om werklikheid en fiksie van mekaar te onderskei. "Dit moet die leser deurmekaarmaak, sodat hy in 'n posisie geplaas word waar hy moet oordeel."

Hierdie speurder was egter onverbiddelik en onversadigbaar. Iewers in Suid- Afrika moet daar tog 'n Regte Egte Nuwe Joernalis wees ...

Uiteindelik het my speurtog my tot op die drumpel van die Suid-Afrikaanse postmoderne skrywer-joernaliste gebring - daardie omstrede spesie wat met feite en fiksie balspeel totdat die waarheid 'n konstruksie uit die verre verlede word.

Viljoen, 'n erkende postmodernisme-guru, sê die wortels van die postmodernisme se vermenging van feit en fiksie lê binne die Nuwe Joernalistiek. "Binne die konteks van die postmodernisme raak dit al hoe moeiliker om uitspraak te maak oor wat is werklikheid, en of die werklikheid dan iets is wat sterk onderskei kan word van fiksie."

Die gevolg hiervan is dat skrywers soos Koos Prinsloo, Johann de Lange, Antjie Krog en selfs Joan Hambidge binne die konteks van hul postmodernistiese skryfsels al hoe woester begin flerrie het met werklike feite. "Op 'n manier", sê Louise, "is die skryfsels dus 'n soort Nuwe Joernalistiek."

Die gay skrywer en joernalis, Koos Prinsloo, het ná sy jong dood aan Vigs bykans 'n enigma geword. Met sy problematisering van die grense tussen feit en fiksie het hy die gemoedelike plaaslandskap van die Afrikaanse lite-ratuur vir ewig omgeploeg. Prinsloo se kortverhale word gekenmerk deur 'n bondige, skoon, joernalistieke styl. Maar in Slagplaas, sy tweede laaste bundel kortverhale, lap hy vyande, seksgenote en selfs vriende se diepste geheime bykans emosieloos uit.

Die eerste verhaal in Slagplaas eindig met 'n afdruk van Prinsloo se ma se identiteitsdokument. En wat is nou verder verwyder van fiksie as juis 'n ID-boek?

In Slagplaas se slotverhaal, "Nawoord", verwys Prinsloo na 'n karakter, "Die Popster", wat hardvogtig optree by die begrafnis van 'n eertydse minnaar wat selfmoord gepleeg het. 'n Egte regte bekende popster, of te wel Johannes Kerkorrel, was ook nie links nie, of hy identifiseer hom op gewelddadige wyse met die karakter in "Nawoord" ... Drie dae ná mekaar het foto's van Prinsloo met 'n gekneusde gesig in volkleur op die voorblaaie van Afrikaanse koerante gepryk.

Was daar werklik 'n popster met wie die gebeure in "Nawoord" presies so gebeur het? Sedert Kerkorrel met alle geweld na vore getree het om te verkondig "ek hou nie van leuens nie," sal daar niemand wees wat nie gaan wonder nie.

Waar skrywers tevore verontskuldigings voorin hul romans of kortverhale gehad het wat "fiksie" uittrompetter, moet die arme leser nou dikwels hoor die karakters is werklik. So sê Johann de Lange, 'n skrywer wat terloops vir Prinsloo met sy eie medisyne teruggekry het, voorin sy kortverhaalbundel Vreemder as Fiksie (1996) die volgende: "Enige ooreenkoms met mense van vlees en bloed is nie toevallig nie. Lewensgeheime van vriende is skaamteloos misbruik ... Mense wat hulleself in die stories inlees, is waarskynlik reg."

Volgens Viljoen het so 'n skryfsel egter etiese implikasies ook. "Wanneer jy as joernalis oor ander mense skryf, dan kan jy voor die hof gedaag word vir laster, maar wat maak jy as die skrywer sy skindery oor ander mense as fiksie voorhou? Sou dieselfde etiese beginsels geld vir skrywers as vir joernaliste as jy 'n saak wil maak teen iemand?

"Die Nuwe Joernalistiek raak eintlik issues aan wat kardinaal is binne ons samelewing," sê sy. "Kan jy mense se privaatheid skend as jy op 'n literêre manier oor hulle skryf? Die Nuwe Joernalistiek bombardeer die leser dus met etiese kwessies, sodat hy gedwing word om posisie in te neem."

'n Laaste skrywer/digter/joernalis wat vroetel met die grense tussen fiksie en werklikheid is natuurlik Lady Anne Krog, of te wel Antjie Samuel/Krog. Haar veelbesproke Country of my Skull is volgens Viljoen 'n voorbeeld van so 'n teks.

Die stem van Antjie Samuel, die joernalis wat verslag gedoen het oor die Waarheids-en-Versoeningskommissie, is byna twee jaar lank oor Afrikaanse en Engelse radio gehoor. Hierna het Samuel as skrywer besluit om haar joernalistieke ervarings by die WVK neer te pen. En die spel met waarheid is van die begin af 'n belangrike motief. In 'n onderhoud in 'n April-uitgawe van Beeld vanjaar sê Krog een van die belangrikste dinge wat die WVK bewerkstellig het, was om plek te maak vir verskillende weergawes van die waarheid.

Maar dit is nie net die verskillende waarhede van slagoffers en vervolgers wat hier ter sprake is nie. Krog se eie waarheid is ook ter sake: sy behou nie haar joernalistieke afstand nie. Waar dit die stem van Antjie Samuel, joernalis, was wat daagliks oor die lug gehoor is, is dit nou Krog, die digter, wat die leser aan die keel beet het. Terwyl sy glad nie verander het aan die getuienis van die slagoffers nie, maak sy gebruik van fiksie-tegnieke in die res van die vertelling - soseer dat sy selfs 'n buite-egtelike verhouding opmaak, en aan die einde van die boek moet erken: "I have told many lies in this book about the truth. I have exploited many lives and many texts - not least those of my mother and my family on the farm."

In 'n ander self-refleksiewe oomblik in Country of My Skull, verduidelik sy haar skryfproses as volg: "I am busy with the truth, my truth ... quilted together from hundreds of stories that we've experienced or heard over the past two years ... All of this makes up the whole country's truth, so also the lies ..."

En nou nader die speurder sy ge-volgtrekking, die afsterwe van hierdie artikel, waarin, wie weet, die menings van ander ook skaamteloos misbruik is, die waarheid ook hopeloos verkrag is??!! Maar laat my tog 'n laaste vraag toe. Gaan die strak en heilige domein van die feite-joernalistiek ooit verruil word vir Sin City, die skemersone van die Nuwe Joernalistiek? Kortom, gaan hierdie problematisering van grense tussen feite en fiksie in ons letterkunde op sy beurt weer die suiwer joernaliste, die dagblad-skrywers beïnvloed?

Hierop e-pos Joan Hambidge, daardie GROOT literêre polemis, alweer die laaste woord:

"Ek dink joernaliste kom in opstand teen hierdie problematisering. In DE KAT is Pakendorf uiters negatief oor Krog se boek juis omdat sy problematiseer. Rian Malan is ook onrustig oor hierdie proses in The Financial Mail. Skrywers weet egter dat die waarheid alreeds 'n konstruk is. Daar is nie iets soos DIE WAARHEID nie.

Beste

Joan"


previous page

[ Tuisblad ] [ Publikasies ] [ Inhoud / Index ] [ Publications ] [ Home Page ]

next page