Universiteitswapen

Dosentevereniging

Universiteit van Stellenbosch

Grondwet

  1. Naam
  2. Doel
  3. Lidmaatskap
  4. Bestuur
  5. Verteenwoordigers
  6. Vergaderings
  7. Kennisgewing van vergaderings
  8. Kworum

1. NAAM

Die naam van die vereniging is "Dosentevereniging van die Universiteit van Stellenbosch", hierna "die vereniging" genoem.

2. DOEL

Die doel van die vereniging is om:

a. Die belange van sy lede te behartig;
b. As mondstuk van sy lede te dien;
c. Samehorigheidsgevoel onder sy lede te bevorder;
d. Skakeling en samewerking met die universiteitsowerheid te vergemaklik;
e. Die samewerking met die verenigings van ander universiteite in verband met gemeenskaplike belange van die universitêre personeel te verkry en deelname aan gemeenskaplike optrede in hierdie verband te bewerkstellig.

3. LIDMAATSKAP

a. Alle voltydse akademiese personeellede (dosente, navorsingsbeamptes en vakkundiges) van die Universiteit van Stellenbosch kan lede van die vereniging word.
b. Lidmaatskap en stemreg word verkry nadat ledegeld vir die betrokke jaar betaal is.

4. BESTUUR

a. Die bestuur bestaan uit 12 lede (Stellenboschkampus 8; Bellvillekampus 2 en Tygerbergkampus 2) waarvan die helfte elke jaar vir twee jaar verkies word soos in (b) hieronder uiteengesit.

b. (i) Die bestuur vra in die eerste week van die vierde kwartaal skriftelike nominasies vir bestuurslede aan deur middel van 'n spesiale skrywe aan al sy lede.

b. (ii) Slegs lede kan nominasies indien en slegs lede kan genomineer word. Die maksimum aantal nominasies wat 'n lid kan indien, is Stellenboschlede 4, Bellvillelede 1 en Tygerberglede 1. Die nominasies moet binne 2 weke van die datum van die skrywe in (i) vermeld, ingedien word.

b. (iii) Elke nominasie moet deur 'n lid gesekondeer word.

b. (iv) Binne een week na die sluiting van nominasies, stel die bestuur 'n lys van genomineerdes saam, wat ook dien as stembriefie, en sirkuleer dit by wyse van 'n verdere spesiale skrywe aan al sy lede. Slegs genomineerdes wat teenoor die bestuur hulle bereidwilligheid om as bestuurslede te dien te kenne gegee het, se name word in die lys opgeneem. Hierdie bereidwilligheid kan reeds op die skriftelike nominasie aangeteken word.

b. (v) Elke lid het stemreg en kan soos volg stem: Stellenboschkampus vir 'n maksimum van 4 lede; Bellvillekampus vir 'n maksimum van 1 lid en Tygerbergkampus vir 'n maksimum van 1 lid.

b. (vi) Die sluitingsdatum vir die indien van die stembriefies is die derde Woensdag in November.

b. (vii) Die bestuur sal die stemme tel en die uitslag van die verkiesing bekendmaak voor die einde van November.

b. (viii) In geval van 'n staking van stemme het die voorsitter 'n beslissende stem.

c. Die nuwe bestuur vergader in die eerste week van Desember om 'n voorsitter, onder-voorsitter, en ander ampsdraers uit eie geledere te kies. Hierdie vergadering word byeengeroep deur die uittredende voorsitter, en vind onder sy voorsitterskap plaas. Die nuwe bestuur se dienstermyn begin vanaf die eerste dag van die nuwe akademiese jaar.

d. Die bestuur het die bevoegdheid om lede te koöpteer. Die maksimum getal lede wat gekoöpteer mag word is 5.

e. Die meerderheid van bestuurslede (verkose en gekoöpteer) vorm 'n kworum vir alle bestuursvergaderings, met uitsondering van die eerste bestuursvergadering waarop die ampsdraers verkies word. By hierdie vergadering moet minstens 9 van die verkose lede teenwoordig wees.

f. 'n Dagbestuur bestaande uit die voorsitter, onder-voorsitter en sekretaris hanteer alle aangeleenthede wat deur die bestuur aan hulle opgedra word.

g. 'n Gewone vergadering van die bestuur vind minstens 2 keer per semester plaas. 'n Buitengewone vergadering kan op versoek van 2 bestuurslede belê word.

h. Vakatures wat in die bestuur ontstaan word mutatis mutandis op dieselfde wyse gevul as waarop die betrokke bestuurslede in die eerste instansie hulle plekke in die bestuur verwerf het. 'n Verkose lid moet dus d.m.v. 'n verkiesing vervang word terwyl 'n gekoöpteerde vervang word deur eenvoudig 'n ander in sy plek te koöpteer.

5. VERTEENWOORDIGERS

a. Verteenwoordigers van die lektore en mede-professore in die verskillende universiteitskomitees (waaronder die Senaat) word deur die bestuur aangewys by die eerste bestuursvergadering.

b. Verteenwoordiging van die dosente (uitgesonderd volle professore) in die Senaat geskied volgens Raadsbesluit.

6. VERGADERINGS

a. 'n Gewone vergadering word minstens een keer per jaar gehou.

b. 'n Buitengewone vergadering word deur die Bestuur belê

(i) op besluit van die meerderheid van die Bestuur, of
(ii) op skriftelike aansoek by die sekretaris deur minstens vyftien lede.

7. KENNISGEWING VAN VERGADERINGS

Alle lede word ten minste sewe dae voor die datum van die vergadering, soos deur die Bestuur vasgestel, skriftelik deur die sekretaris van die datum en die agenda in kennis gestel.

8. KWORUM

By 'n gewone vergadering (jaarvergadering) is alle aanwesige lede 'n kworum. By 'n buitengewone vergadering is 'n kworum tien (10) persent van die lede.

9. NOTULE

Notule word van alle vergaderings gehou.

10. VOORSTELLE

a. 'n Lid moet die bestuur skriftelik in kennis stel van enige voorstel, uitgesonderd voorstelle in verband met sake op die agenda, wat hy van plan is om by die eerskomende vergadering in te dien behoudens die bepalings in paragraaf 10.b.

b. 'n Lid kan, sonder vooraf kennis te gee, enige voorstel uitgesonderd grondwetwysigings by 'n vergadering indien mits geen lid in die vergadering daarteen beswaar maak nie.

11. STEMREG

a. Elke ingeskrewe lid het een stem.

b. Daar word met die opsteek van hande gestem behalwe wanneer 'n versoek om stemming per briefie ingedien word.

c. Die voorsitter het 'n gewone en 'n beslissende stem.

12. LEDEGELD

Elke lid betaal 'n jaargeld, waarvan die bedrag op die laaste algemene vergadering van die vorige jaar bepaal word. Die tesourier doen aan die einde van elke jaar aan die algemene vergadering verslag aangaande die fondse.

13. WYSIGING VAN DIE GRONDWET

'n Wysiging van of toevoeging tot die grondwet kan deur 'n meerderheid van minstens twee-derdes van die lede by 'n algemene vergadering teenwoordig aanvaar word, mits vooraf skriftelik aan alle lede van so 'n voorstel kennis gegee is.

14. ONTBINDING VAN DIE VERENIGING

Die vereniging word ontbind met die goedkeuring van 'n twee-derde meerderheid van lede op 'n vergadering wat vir hierdie doel belê is. Bates sal bestee word soos die vergadering besluit.


Kopiereg © 1997-1998, Universiteit van Stellenbosch
Kommentaar aan Sjarlene Thom
Laaste wysigings op 9/6/1998
HTML kode deur PJJvR